Ek lees tans Simone Weil se merkwaardige boek, Waiting for God. Dit is ‘n boeiende, soms skreiende boek (sien my vorige blogs oor haar).
Sy vertel daarin van die tyd toe sy vir ‘n jaar lank in die fabriek gewerk het as ‘n gewone fabriekswerkster. Sy het dit totaal anoniem gedoen, bloot net om aan die lyf te voel hoe dit is om as ‘n gewone werker jou geld te verdien. Sy was bloot een van die massas.
As ‘n mens die gedeelte lees, sien jy duidelik waarom sommige haar beskryf as ‘n mistikus van die 20e eeu. Sy het so radikaal geleef soos Franciskus van Assisi, die nar van God, wat materiële dinge so totaal afgesweer het en hom totaal met die armes vereenselwig het.
Later sou Simone Weil groot bekendheid verwerf vir haar stryd om werkersregte.
Deur hierdie jaar heen het die ellende van ander in die fabriek deel geword van haar, tot in haar ligaam en siel, skryf sy. Niks het haar van die swaarkry afgeskerm nie. So erg het dit gegaan dat sy in haar ellendige toestand haar verlede vergeet en geen toekoms gehad het om na uit te sien nie. Intussen het sy dit moeilik gevind om te dink selfs aan moontlikheide om die moegheid te oorleef en te oorkom. Sy het met haar hele lewe deel geword van die donker fabrieksbestaan.
En dan volg hierdie merkwaardige opmerking waarin die intense verontmensliking van haar fabriekswerk na vore kom: Wat sy beleef het het haar so blywend gebrandmerk, dat sy baie jare later nog, wanneer iemand, wie dit ook al was en in watter omstandighede ook al, met haar vriendelik was en nie brutaal nie, nie kon help om te dink dat daar fout was en dat die fout ongelukkig spoedig heel moontlik gou sou verdwyn. Vriendelikheid kon in daardie konteks slegs ‘n glips wees, ‘n fout, ‘n onmoontlikheid.
Die woorde skok my toe ek dit lees. So brutaal (die woord wat sy eintlik gebruik) is haar omstandighede dat enige teken van vriendelikheid met agterdog bejeën word. Jy leef so misrabel dat jy onbedagsaamheid, wreedheid en hardheid as ‘n normale deel van die lewe ervaar. Dit word deel van die tekstuur van jou alledaagse lewe.
Hierdie ervaring het haar tot in haar wese aangetas. Daar, in die fabriek met sy brutaliteit, skryf sy, is sy vir altyd tot ‘n slaaf gebrandmerk – soos die brandmerk deur ‘n rooiwarm yster waarmee die Romeine die voorkoppe van die mees veragte slawe gemerk het.
Sedertdien het sy altyd haarself as ‘n slaaf geag. Sy het geword wat die fabriek van haar gemaak het.
Maar, vervolg sy dan, terwyl sy in hierdie gemoedstoestand was, maar ook terwyl sy fisiek baie swak was, het sy vir ‘n rukkie in ‘n klein Portugese dorpie gaan bly, Sy was stukkend, platgeslaan deur haar ervaring in die fabriek. Alleen in die dorpie, het sy teen die aand beleef hoe die volmaan oor die see skyn. Die vroue van die dorpie se vissers het ‘n optog langs al die skepe in die hawe gemaak terwyl hulle kerse dra en terwyl hulle sing. Dit moes eeue-oue liedere gewees het. Hulle gesing was hartverskeurend treurig. Niks kan ‘n mens op die hartseer gesang voorberei nie. Sy selfs het nog nooit sulke roerende liedere gehoor nie.
Dit is toe, skryf sy, dat sy skielik besef het dat die Christendom by uitstek die godsdiens van slawe was. Slawe kan nie anders nie. Hulle kan nie help om daaraan te behoort nie – en, sluit sy af, “ek, onder andere, ook nie.”
As alles om ‘n mens verontmenslik gemaak is, is daar tog nog, bedoel hierdie merkwaardige vrou, in die evangelie ‘n uitweg. Die aandgesange, eeue-oud, van die vissersvroue op die kaai van die klein vissersdorpie, het klanke van genesing, menslikheid en menswaardigheid gedra tot in die hart van die verslae een. Skielik, mistiek, was daar die aanraking, die besef dat Iemand stilweg, in gedoë klanke, getoets oor leeftye heen, laat weet: niks, nie eers die mees brutale lewe, kan in die pad van heling staan nie.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.