Friday, February 11, 2011

Die mistieke ervaring as liefde en kennis.


Die mistieke ervaring is nie maar bloot net ‘n “gevoel” of “emosie” nie, wys McGinn in sy artikel, die onderwerp van my laaste paar blogs, uit. Ek lees die verskillende fasette van McGinn se artikel met aandag. Hy wil met die artikel vertel wat hy dink gebeur wanneer ‘n mens bewus word van God se teenwoordigheid. Hy wil veral ‘n skewe verstaan van die mistieke ervaring voorkom en die oorrompelende aard daarvan uitlig.

In die mistieke ervaring is ‘n mens op ‘n direkte en onmiddellike manier bewus van die teenwoordigheid van God.  Hierdie mistieke oomblikke is intenser as enige ander ervaring. Dit raak ‘n mens diep in sy of haar innerlike lewe op ‘n ongekende manier sodat niks dieselfde bly nie.

Soms ervaar mense selfs ‘n soort verrukking – soos Paulus dit beskryf het in 2 Korintiërs 12 toe hy weggeruk is na die hemel, die paradys en onuitspreeklike woorde gehoor het.  In die mistieke ervaring word alle gewone, normale bedrywighede opsygeskuif en word die mens intens bewus van ‘n totaal ander orde van bestaan.

Maar dit hoef nie altyd so uitsonderlik te wees nie. Sommige mistici skryf hoedat hulle selfs in ‘n hul normale, alledaagse bestaan bewus geraak het van die onmiddellike teenwoordigheid van God by hulle. Van buite hulleself, verby al hul innerlike belewenisse, kom daar tot hulle ‘n bewuswording dat hulle in ‘n nuwe, dinamiese situasie is waar God op alle vlakke saam met hulle is en in ‘n spesiale ervaring deel word van hulle lewe.

Die mistieke ervaring is transformatief: As dit oor ‘n mens kom, dink ‘n mens anders en beleef ‘n mens jou lewe op ‘n nuwe manier. ‘n Mens verstaan anders, dink anders en bemin anders. Om God te ontmoet is om nuwe insigte en liefde te ontvang. Veral die liefde staan vir die meeste mistici uit. Daarom verwys mistici dikwels na die boeiende, mistieke 1 Johannes 4:16: “God is liefde. Wie in die liefde bly, bly in God en God in hom/haar.” Die mistieke liefdesverhouding, die intieme inwoning van God in die mens gaan om wedersydse liefde: Die mens woon in God en God in die mens – hulle is verenig, een, in ‘n wederkerende, wedersydse verhouding van liefde. Dit is ‘n liefde wat ervaar word. Maar dit is ‘n ervaring waarin die mens ook vir God verstaan en ken.

Die mistieke ervaring het niks te doen met opgewerkte gevoelens wat jy in jouself optower of tye van hoë emosies wat dan weer verslaan of wegraak nie.

Dit is ook nie iets wat ‘n mens tref sonder dat jy weet wat dit is nie. Iewers kan ‘n mens aanvoel, weet en uitspel waarvan jy bewus geraak het. Liefde vir God is nou verbind met kennis van God. Die liefde vir God en van God gaan nie buite die mens se bewussyn, insig en verstaan om nie. Die mistieke ervaring raak ook die intellek, die ken van die mens. Die mens weet en besef dat daar iets besonders en transformatiefs in sy of haar lewe gebeur het.

Maar die mense se “ken” van God moet goed verstaan word. Uiteraard kan ‘n mens God nooit ken nie. In die ontdekking van God se nabyheid besef ‘n mens dat ‘n mens God nooit ten volle sal ken nie. Daarom is die mistieke kennis van God steeds weer ten dele. Om God te ken is om te weet dat ‘n mens God nooit eintlik sal kan ken nie.

Maar dit is McGinn se beskrywing van die liefde wat my raak: Die liefde beteken ‘n eindelose verlange na die vreugde wat ‘n mens aan die Beminde het. Nooit kan hierdie liefde heeltemal vervul raak nie. Daarom is die liefde oneindig!

Die kennis en die liefde van God is uniek. Dit is nie dieselfde as om ‘n ander mens lief te hê, of selfs om in liefde oor God te praat nie. Selfs die onderskeid tussen kennis en liefde is nie altyd duidelik te trek nie. Daardie eerste bewuswording van God se teenwoordigheid in die mens se lewe is doodeenvoudig net daar. ‘n Mens het dit. Jy raak bewus daarvan. En of dit liefde of kennis is, is nie ter sake nie. Eers veel later, as ‘n mens daaroor begin nadink, dit beoordeel en daarop reageer, begin ‘n mens meer van hierdie ontmoeting as liefde of as kennis verstaan.

Aan die begin egter is daar die liefdesontmoeting, om verlief te raak, op ‘n onbeperkte, oneindige manier. Sonder perk, sonder voorwaardes, sonder allerhande kwalifikasies en sonder enige voorbehoude is die mens bewus dat God liefdevol in haar of sy lewe ingekom het. Die mistieke ervaring neem ‘n mens op in die Liefde en ‘n mens verloor jou in hierdie liefde op ‘n onvoorwaardelike manier. ‘n Mens wat hom of haar in die Liefde verloor het weet dat hy of sy dit nooit kan verduidelik nie. Dit is immers ‘n liefdesverhouding met God wat alle menslike kennis en insigte te bowe gaan. Iewers kan ‘n mens dit onder woorde probeer bring. Maar altyd weer stuit ‘n mens by die eindigheid van woorde om die oneindigheid van die Liefde te kan beskryf. Jy weet maar te goed dat jy die inhoud van die Liefde wat jy beleef nie netjies kan uitlê nie.

Dit is voorwaar Verborge. Juis omdat dit so Verborge is, omdat dit so ‘n onpeilbare, vreemde, anderse, transformatiewe ervaring is, word dit as ‘n mistieke ervaring beskryf. En dat dit dan as ‘n geskenk aan ‘n mens gegee word, onderstreep die grootheid van hierdie Liefde. Die mistieke ervaring is wanneer die mens oorrompel word deur die onpeilbare Liefde en vir altyd uitverkoop word aan hierdie Liefde. Paulus praat hieroor: hy is ten volle geken. Iewers op ‘n dag het die Liefde in sy lewe ingekom. En sy hele lewe het toegespits geraak op die Liefde. Elke keer weer het hy besef dat hy “ten dele” ken. En tog is daar hierdie merkwaardige verwagting: eendag sal hy ook “ten volle” ken. As die volmaakte gekom het, sal dit wat ten dele was tot niet gaan. En in die volmaakte is al wat oorleef die Liefde (1 Kor. 13:13, 11, 10, 8).

Al hierdie opmerkings word verhelder as ‘n mens nou kyk na spesifieke voorbeelde van mistieke ervarings. Hieroor dan meer.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive