Die mistieke ervaring waarin iemand bewus raak van God se teenwoordigheid in sy of haar lewe en van sy of haar nabyheid aan God roep allerhande vrae op:
Wat beteken hierdie “ervaring”? Is dit ‘n “gevoel”? Iets wat niks met die brein te doen het nie? Iets wat alle “teologie” vooraf gaan? So 'n ongedefinieerde eerste gemoedstoestand wat later "verduidelik" en "verstaan" word?
Dit is ‘n belangrike vraag. ‘n Mens wat bewus raak van God se teenwoordigheid en van hoe naby hy of sy aan God is, leef daarna op ‘n radikale nuwe manier. Dit sou kon beteken dat menslike ervaring ‘n buitengewone groot rol speel. Word alles nie dan “subjektief” nie, gedryf deur menslike emosies en gevoelens nie? Wanneer ‘n mens lief het, sou dit beteken dat ‘n mens deur subjektiewe belewenisse aangevuur word. Is die teologie, die nadenke, die lewensbesluite en die wil van die mens afhanklik van “gevoel”?
Iewers word alles wat in ‘n mens se lewe na vore kom wanneer ‘n mens lief het, of nadink of wanneer ‘n mens besluite neem tog dan afhanklik gemaak van ‘n emosie, gevoel of belewenis wat ‘n mens op ‘n stadium gehad het?
Kyk nou weer na wat ons die “mistieke ervaring” noem: Dit is ‘n ervaring wat te doen met die mens se bewuswording van ‘n spesiale ontmoeting. Die ontmoeting is “spesiaal” omdat dit anders is as alle ander dinge waarvan ‘n mens bewus is en raak. Dit kan jou raak en anders maak. Hierdie spesiale ontmoeting word daarom as ‘n ontmoeting “met God” beskryf, veral om te beklemtoon dat dit nie maar net ‘n gewone ervaring is nie. En dit kan ook 'n invloed op jou uitoefen.
Daar is daarom twee vlakke waarop ‘n mens van “ervaring” moet praat. Aan die een kant is daar algemene, gewone vorme van bewuswording. ‘n Mens word altyd “bewus” van “iets” of “iemand.” Jy ervaar dat jy self op een of ander manier betrokke is by iets anders. Jy word dus op een of ander manier bewus van wat jy voel, hoe jy lief het of hoe jy weet. Jy raak bewus van ‘n objek. Gedurig dan word jy dan gewys op jou self, op jou eie rol en identiteit.
Hierdie algemene ervaring kry in ‘n mistieke ervaring ‘n unieke dimensie by. Dit waarvan jy normaalweg bewus is, lyk anders omdat jy eintlik verby bewuswording beweeg. Jy is nou op ‘n hoër, ander vlak van bewuswording. Jy ervaar nie net jouself as iemand wat lief het, as iemand wat dink of as iemand wat voel nie. Nou word God ook ‘n teenwoordigheid in jou ervaring. Maar dit is nie dat God die voorwerp is van wat jy ervaar nie. Dit is dus nie asof jy “God” ervaar nie, asof God die voorwerp is van jou belewenis nie.
In die mistieke ervaring is God teenwoordig in jou lewe as die Een wat jou omvorm. God kom na jou, van buite jouself. God word die Een wat jou ervaring met jou deel. God kom terselfdertyd ook in jou lewe en in jou bestaan in. God is dus transendent, maar ook immanent.
God word ‘n teenwoordigheid in jou bewussyn, maar God is ook meer, groter en nader aan jou as wat jy aan jouself is. God is die bron van wat jy beleef. God werk aktief in jou bestaan. Die oneindige kom jou eindige bestaan binne en op die manier ontstaan by jou ‘n nuwe vorm van bewussyn. In jou innerlike is God die diepste kern van jou bestaan, die sentrum van jou geestelike lewe.
Soos McGinn sê: ‘n mistikus word bewus van God se mede-teenwoordigheid in die mens se innerlike handelinge. God is die transformerende Ander wat in ons, in ons diepste innerlike, in die kern van ‘n mens se bestaan indring en woon. In die mistieke ervaring is veel, veel meer aan die werk as bloot ons gevoelens.
Daarom is die mistieke ervaring nie maar net “jou” gevoelens nie. Iets wat “jy ervaar” nie. Dit is nie maar net ‘n emosie wat in jou binneste opkom nie.
Hieroor wil ek meer skryf. Daar is besondere Bybeltekste wat pragtig illustreer hoe die mistieke ervaring ver verby subjektiewe gevoelens strek. Die mistiek mag nooit misverstaan word asof dit aan die dun draadjie van uitsonderlike emosies hang nie. So vlak en goedkoop is die mistiek nie. Dit is veel meer ervaring wat deur die Wonder van die Verborgene gedra en gedryf word, wat gebou is op die Rots wat veel vaster is as allerhande ekstatiese momente.
Die groot mistici het gedurig beklemtoon dat die mistieke ervaring baie groter is as maar net sekere opwellende emosies van mense. Juis daarom is dit mistiek – in die ervaring is die Verborgene aan die werk. En sekerlik nie net piek-emosies, opgesweepte belewenisse nie. Ryk, ryk is die oomblik wanneer mense bewus raak dat hulle naby aan God is, in God se teenwoordigheid, maar ook dat God in hul bestaan binnegekom het. Maar meer hieroor en, dan in gesprek met die Bybel, later.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.