Dan skryf hy: “Daar is nie meer Jood of Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man en vrou nie; want julle is almal een in Christus Jesus.”
Die eenwording met Christus, daardie mistieke band tussen God en mens, oorbrug alle verskille wat ‘n mens gewoonlik so vanselfsprekend as natuurlik ervaar.
Eintlik beteken dit dat ‘n mens, as God jou aangeraak het, uitstyg bo alles wat normaalweg jou lewe beheer. Geestelike groei beteken dat jou lewe geïntegreer word. Alles wat jou lewe uitmekaar ruk, wat jou disoriënteer, wat jou in ‘n hokkie plaas en jou tot jou plek verdoem, wat jou fragmenteer in duisende magspeletjies, belange-grepe en in appelle op jou tyd en aandag, word getransendeer en oorwin. Die mens beweeg na ‘n ander vlak waar hy of sy nie meer siek is van ‘n lewe wat uitmekaar val nie. Al die verskille en geskille word getransendeer.
In plaas van ‘n uitmekaargeskeurde lewe, kom daar ‘n heel, gesonde bestaan waarin ‘n mens ervaar hoe die goddelike van jou besit neem en jou na nuwe hoogtes van vervulling en vreugde neem. Nou tel alleen maar dit wat werklik belangrik is, waarsonder ‘n mens nooit kan leef of sterf nie.
Die selfsugtige verdwyn, Die gerigtheid op jouself raak losser en oninteressanter.
‘n Mens leef nie meer geïsoleerd van ander of selfs in vyandskap teenoor mekaar nie. In die plek daarvan kom ‘n band van gemeenskaplikheid, ‘n liefdesband. Dan is ‘n mens gesond, heel, geïntegreer, nie uitgelewer aan dinge wat jou vasbind en wegruk van ander of in jouself laat keer nie.
Hieraan dink ek toe ek Visser se artikel verder oor Uncle Tom’s Cabin lees. Die artikel help my om meer van spiritualiteit te verstaan, maar ook om Paulus se beroemde teks in Galasiërs 3:28 beter te begryp. Begrippe soos transformasie, heling, geestelike groei en die implikasies van eenwording met God kry vir my nuwe betekenis.
Uncle Tom, die hoofkarakter in Stowe se boek wat ek in die vorige blogs bespreek het, sterf met die woorde: “I loves every creatur, everwhar! – it’s nothing but love.”
Uiterlik eindig sy lewe in stukke en stukkend. Hy is die slaaf, ‘n stuk eiendom, verkoop, verneder en vervolg. Maar innerlik is hy gevul met liefde en met ‘n band met alle skepsele. Hy is deurtrek met omgee vir Ander. Hy sien homself nie meer as ‘n slaaf nie, of as ‘n man nie, of as ‘n gelowige nie. Hy is bloot net ‘n mens wat lief is...
Visser beskryf hoe Uncle Tom prakties in die tweede deel van die boek, ten spyte van die feit dat hy op die mees vernederende manier verkoop is as slaaf, vir sy nuwe eienaars omgee. Hy deel met die dogter, Eva St. Clare ‘n spiritualiteit waarin hulle saam Bybel lees, geestelike liedere sing en mymer oor die betekenis van Skrif gedeeltes. Hulle doen dit saam, met oorgawe, met vreugde en met ‘n toewyding wat ‘n mens as ‘n mistieke erns kan beskryf – in die woorde van Stowe. Heel prakties lei dit daartoe dat Eva allerhande liefdesdade verrig teenoor haar slawe. Sy gee om vir hulle. Die mistieke uitwerking.
Soos sy sieker word en haar gesondheid agteruitgaan, sorg Uncle Tom al hoe meer vir haar, byna moederlik. Hy sing byvoorbeeld vir haar vertroostende liedere wanneer sy nie meer die Bybel kan lees nie. Sommige lesers het inderdaad gedink dat dit Uncle Tom teken as ‘n moederlike, vroue-karakter.
Dis ‘n fout, skryf Visser in haar artikel oor die boek. Uncle Tom doen nie eintlik moederlike goed soos om die kussings vir Eva reg te skuif, haar hare te streel of haar gesig af te vee nie. Hy is eerder ‘n sterk vaderfiguur wat haar in sy sterk arms ronddra na die tuin of terug na die huis. Uncle Tom se sagte eienskappe is sekerlik gekombineer met sterk, manlike eienskappe.
Maar ten grondslag van die verhouding van Uncle Tom met Eva, lê hul gedeelde spiritualiteit en die manier waarop hulle dit uitleef in hul saamlees, saamsing en saambid. Dit dryf alles. Dit hef alle normale grense tussen hulle op en bevraagteken alle natuurlike kenmerke van hulle bestaan.
Eintlik maak dit nie saak of Uncle Tom ‘n sterk of ‘n sagte figuur is nie. Wat saak maak is die dieper, innerlike krag wat daar in hom leef en hom bind aan ander om hom. Hy groei sterk verby enige bewussyn dat hy slaaf is, of swart is, of man is. Wat tel is dat hy en Eva in Christus is. As ‘n mens jou met Christus beklee het, verdwyn al die natuurlike grense en beperkinge.
Dit is die krag wat in hom leef en wat die vuur is wat sy sagte en sterk eienskappe aansteek.
Die egte mistikus, skryf Visser, en haal Emerson aan, weet daar is nie geslag of ras in die gedagtes van ‘n geestelike mens, in spiritualiteitsdenke, spiritualiteitskennis, in ‘n spiritualiteitslewe nie.
Uiteindelik tel net dit: Ek het alle skepsels lief – orals. Niks tel nie, behalwe die liefde!
Dit is tog waar. Ons weet dit. Ons weet dit.
Maar só gou vergeet ons dit, om dan weer vas te val in alles wat natuurlik is en wat ons menslike vooroordele opnuut weer in ons laat broei en prut. Ten koste van wat geestelik is.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.