Wednesday, February 16, 2011

Wanneer die ondenkbare deur ‘n boek in ‘n mens se lewe inkom...


Uncle Tom’s Cabin is ‘n hoogs omstrede werk, soos ek al voorheen geblog het (in ‘n blog oor die Kwakers).

Hedendaagse aktiviste beskimp die werk omdat dit die Afro-Amerikaanse mens as ‘n onderdanige, kruiperige mens uitbeeld. Met minagting word Harriet Beecher Stowe se hoofkarakter in die boek, Uncle Tom, beskryf as ‘n tipiese uitbeelding van die swart mens as iemand wat onherroeplik verval het in ruggraatlose, siellose onderwerping. 

Ek het destyds oor die boek geskryf:

Ek het in die vakansie-tyd “Uncle Tom’s Cabin” deur Harriet Stowe gelees. Lyk my hierdie boek word op dieselfde manier as Thomas A Kempis se Navolging vereer: ek lees dikwels dat dit glo die mees gelese boek naas die Bybel in die negentiende eeu was. Dit bly ‘n merkwaardige boek wat deur historici dikwels genoem word as ‘n mylpaal in die stryd om die vrystelling van slawe. Blykbaar het Lincoln, wat Stowe ontmoet het, glo gesê: “So dis die vroutjie wie se boek ‘n oorlog begin het.”

Ek het toe geskryf dat daar dele in die boek was wat maar vir my ontstellend was, maar ander dele wat my diep ontroer het. (Dit was, egter, nie Lincoln nie, maar President Wilson wat daardie beroemde uitspraak oor die vroutjie gemaak het, ontdek ek later).

Dit is dus met groot belanstelling dat ek in Spiritus 8 (2008), ‘n artikel lees van Irene Visser met die titel: “(In) Famous Spirituality: Harriet Beecher Stowe’s Uncle Tom.” Dit is ‘n artikel wat sterk by my resoneer omdat dit in woorde uitdruk wat ek dikwels intuïtief beleef het.

Visser fokus in die artikel op die vraag of Stowe vir Tom, haar hoofkarakter, laat ontwikkel in iemand met ‘n geïntegreerde identiteit, iemand wat innerlik groei om uiteindelik te kom tot ‘n mistieke bewussyn (sense) van outonomie en volle menslikheid. Met ander woorde, laat Stowe haar karakter kom tot ‘n geestelike heelheid, tot ‘n geleefde spiritualiteit, tot ‘n volwasse mens wat in totale harmonie met sy of haar innerlike mens leef?

Visser skryf ‘n merkwaardige artikel: sy wys daarop hoe die oorspronklike boek waarin die hoofkarakter ‘n sterk figuur was wat op ‘n innoverende manier sy innerlike ervarings uitgeleef het, spoedig na die verskyning daarvan in Amerika deur duisende toneel-opvoerings en baie Hollywood films verdraai is. (Wat, trouens, ook wys hoe gewild die boek was). Die oorspronklike karakter het deur die baie rassistiese interpretasies in die opvoerings en films ‘n verspotte ou swartman geword wat wit gehore vermaak het met sy onderdanigheid, maar ook met sy onderduimse skelmgeid. Jy kon, het hulle hul neerbuigende houdings bevestig gesien, die “neger”-slaaf vertrou, maar ook maar net tot op ‘n punt – veral net solank as wat hy onder jou oë en toesig is. Dit het in die dekades na die geweldige gewildheid van die boek die kulturele geheue van Uncle Tom geword.

Visser vestig dan die aandag op onlangse navorsing wat wys dat hierdie verdraaide interpretasies van Uncle Tom totaal uit pas is met Stowe se oorspronklike teks. Stowe wou juis deur haar teks haar samelewing uitdaag om weer te dink oor hul rassisme, hul godsdienstige oppervlakkigheid en hul uitbuiting van slawe.

Nog interessanter is hoe Stowe se boek volgens Visser in die twintigste eeu deur akademici nagevors is: Tot laat in die eeu het navorsers die boek as sentimentele skryfwerk van ‘n kombuis-skryfster beskou. Dit was ‘n populêre geskrif waaraan ‘n ernstige navorser nie veel aandag gee nie. Toe verander alles in die 1970’s en 1980’s. Jane Tompkins skryf in daardie tyd ‘n invloedryke werk waarin sy Uncle Tom se lyding met Christus se lyding verbind. Hy is in haar navorsing nie ‘n onderdanige kruiper nie, maar ‘n sterk, geestelike figuur met besondere krag.

Hierdie nuwere interpretasie het ‘n boeiende uitloper gehad deurdat die akademici uit hierdie tyd veral Uncle Tom se vroulike kant beklemtoon het. Vir hulle het hierdie vroulike kant aangesluit by Stowe se tyd waarin onderdanige vroulikheid, vroomheid en moederskap belangrike ideale was. Stowe, sou ‘n mens kon sê, projekteer haar eie positiewe waardes op die hoofkarakter in haar boek.

Die gevolg van hierdie interpretasie deur latere akademice was egter nou dat Uncle Tom se swartheid, sy fisieke krag en sy godsdienstige toewyding op die agtergrond verdwyn het. Dit was ‘n ellende, veral omdat Stowe, skryf Visser, merkwaardig innoverend was: haar punt was opsienbarend: ‘n swart slaaf word ‘n toonbeeld van spiritualiteit. Hierdie belangrike punt is ten onregte in die latere akademiese navorsing verwaarloos.

Op hierdie punt is daar nou ‘n belangrike ander insig wat uitgespel moet word en wat ‘n mens by ‘n kern van spiritualiteit uitbring. Daar is twee kante in spiritualiteit waarmee ‘n mens rekening kan hou en wat ‘n mens in terme van vroulike en manlike dimensies kan uitwerk:

Aan die een kant is daar “vroulike” eienskappe. Dan gaan dit om  ‘n geestelike mens wat nie aggressief is nie, nie-kompeterend is nie, opreg en nederig in sy of haar hart, iemand wat omgee vir die swakkes en wat ‘n vriend van die verworpenes is.

Aan die ander kant is daar “manlike” dimensies in spiritualiteit – om sterk, beslis te leef en te doen.

Die vraag is: Hoe word hierdie twee kante behou in ‘n spiritualiteit wat heel, volwasse en integrerend is? Dit is ‘n vraag wat ‘n mens terugneem tot by Jesus. Dit is, soos Sandra Schneiders skryf, dikwels juis die probleem dat Jesus voorgestel word as iemand wat “vroulike” waardes van nie-gewelddadigheid, nederigheid, versorging en omgee het.

Ek is geboeid deur Visser se verwysing na wat Schneiders oor Jesus verder skryf: vroue is nie bekommerd oor gender as dit om Jesus gaan nie. Hulle herken in Jesus se boodskap baie waardes waarmee hulle volledig kan identifiseer. Maar hulle worstel met die feit dat Jesus ‘n man is, en daarom vir hulle “anders” is, onherroeplik “verskillend” van hulle as vroue. En dit impliseer vir vroue dat hulle nie eintlik regtig in volheid met Jesus kan identifiseer nie. Iets haper aan hul verhouding met Jesus, omdat hy ‘n man bly en dus verskillend is.

In Stowe se tyd is daar ‘n soortgelyke probleem: sy het hoofsaaklik vroue-lesers gehad. Maar hulle is grootgemaak met die idee dat ‘n swartmens minderwaardig is. “Hulle” kan nooit die geestelike peil van wittes bereik nie.

Dit is die konteks waarin Stowe haar boek skryf waarin sy nou dwars teen hierdie stereotipe opvatting ingaan. Mense was gewoond aan diep vooroordele teenoor hul slawe. Uncle Tom was ‘n slaaf, die eiendom van sy base. Hy was ‘n swartman. In die oë van die gemeenskap met al hul geleerdes, invloedrykes en magtiges was hy daarom gedoem tot ewige onderdanigheid. Maar hy was dan boonop ook nog ‘n man. In hulle wêreld van die agtiende en negentiende eeu sou niemand eers droom dat só ‘n slaaf op enige manier ‘n voorbeeld van ‘n volwasse, diep spirituele mens kan wees nie. Vroue in Stowe se tyd sou dus, “menslik” gesproke, en in terme van hulle tydswaardes, moeilik met Uncle Tom kon indentifiseer. Nog nooit is daar in hulle denkwêreld ‘n ruimte geskep waarin ‘n Uncle Tom sou kon bestaan nie. Hy was, eenvoudig, ondenkbaar binne hulle bestaande verwysingsraamwerk.

Dit is op hierdie punt dat Visser se artikel ‘n besondere punt maak: In ‘n wêreld soos hierdie, vasgeval in keiharde vooroordele wat deur jare, dekades en eeue se gewoonte gefikseer is, gebeur iets merkwaardig. Skielik kom daar in die keiharde wêreld ‘n kraak. Die boek van Stowe breek met haar hoofkarakter die harde klip stukkend. ‘n Fiktiewe karakter, so totaal anders as waaraan mense in Stowe se tyd gewoond is, bring ‘n totaal nuwe moment in die lesers se lewe in. Die lesers beleef ‘n raaisel. Hulle verbeelding word oopgedwing om in ‘n Vreeemde, Anderse mens iets verborge raak te sien. Hulle ontmoet die Ander.

Skielik kan hulle hul totaal vereenselwig met ‘n karakter wat hulle nog nooit tevore eers in hul verbeelding kon sien bestaan nie!

Daarmee is die immanente woonplek en ervaringswêreld van mense deurbreek. ‘n Ander lig skyn skielik in hul donker plek van vooroordeel.

Hulle word oopgemaak vir die transendente. Vir wat uit ‘n totale ander wêreld tot hulle kom....

Die lesers was gretig om meer hiervan te verstaan. Mense was so vasgevang deur die Grootheid van wat hulle hier ervaar het, dat hulle die weeklikse aflewerings van die boek in die koerant in steeds groter getalle opgeraap het.

Maar dit is net die begin van die artikel van Visser. Ek wil nog meer daaroor skryf. Dit gaan naamlik in die boek van Stowe om ‘n besonder vorm van “geleefde spiritualiteit”, soos Visser skryf. Dit is ‘n spiritualiteit waaraan Waaijman ‘n derde van sy dikke boek oor spiritualiteit wy. Deur aan hierdie boek van Stowe aandag te gee, kry ‘n mens ‘n dieper insig in wat spiritualiteit is.

Uncle Tom’s Cabin is een van die belangrikste boeke wat ooit in Amerika geskryf is. Dit het diep in die Amerikaanse psige ingesak. Die Amerikaanse kultuur kan nie sonder kennis van die boek begryp word nie.

Nou is dit merkwaardig dat hierdie kultuur uiteindelik so fundamenteel gevorm is deur ‘n boek wat deurtrek is met ‘n besondere spiritualiteit. Daaroor wil ek nog meer skryf...

Nou is dit dus ‘n goeie tyd om weer Uncle Tom’s Cabin te gaan lees.  




No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive