Thomas van Kempen skryf in Die Navolging van Christus 1.1.9: “Ek wil liewer berou voel as om ‘n definisie daarvan te ken.” (Opto magis sentire compunctionem quam scire diffinicionem).
Die Latynse woord “compunctio” wys op berou, boetedoening, gewetenswroeging, hartseer en jammerte. In Van Dijk se nuwe Nederlandse vertaling van Die Navolging van Christus, word die woord met “vermurwing” weergegee. Van Dijk skryf in ‘n voetnoot dat dit wys op ‘n ervaring van innerlike sagtheid, gevoeligheid of weekheid. ‘n Mens se gewete pla jou, skryf hy, en die pyn van daardie gewetenswroeging skep in ‘n mens die gevoel van teerheid. "My hart het sommer vermurwe", vertel ons soms wanneer ons iets ervaar het wat ons in ons onverbiddelikheid en hardheid gestuit het.
Maar om oor 'n mens se innerlike kwelling en berou te praat is iets anders as om daardie innerlike wroeging self te ervaar.
Thomas praat meer as een keer oor die harde kante van teologiese kennis en ervaring. In die agtergrond van sy opmerkings staan daar die baie gesofistikeerde skolastieke teologie van sy tyd waarin allerhande slim argumente ontwikkel is. Die kerklike leiers wat intens oor hierdie teologiese argumente besin het, was egter in hul lewe onverskillig, korrup, magsbehep, immoreel en toon geen beeld van God se liefde nie. ‘n Mooi teologie, selfs indrukwekkend. En tog is dit ‘n teologie sonder ‘n hart. Dit vermurf niks. Dit bly net 'n harde gepraat oor wat eintlik nie regtig 'n verskil maak nie.
Ydel, ydel, alles is ydel, skryf Thomas oor teologiese spitsvondighede wat nie transformatief is nie. Want die oppervlakkighede van so ‘n teologie is niks in vergelyking met wat werklik saak maak nie – naamlik om God lief te hê en te dien.
Dit is nie teologie wat tel nie. Wat tel, is of teologie wys dat ‘n mens in die teenwoordigheid van God leef, of ‘n mens se nabyheid aan God ook jou bestaan raak en omvorm.
Met watter gees, dring Thomas aan, teologiseer ‘n mens? Is dit ‘n gees van afwyserigheid en uitstallerigheid? Of is die teologie die liefdevolle spreke oor die mens se eie ervaring van God se aanraking in sy of haar lewe? Is die teologie die nadenke oor ‘n heiligende Gees wat ‘n mens suiwer van ongeestelikheid, vlakheid en hardheid? Of bly dit steek in fyn argumente, teorie-vorming en woordspel?
Van Dijk wys daarop dat berou in ons ore vlak klink. Hy wil daarmee sê dat die woord maklik van ons lippe glip, soos vele ander woorde wat ons afrits as deel van die groot lawaai wat ons bestaan vul. Net soos woorde soos bekering, sonde, vergifnis. Groot woorde wat leeg aan betekenis is. Hy soek eerder ‘n woord wat iets sal weergee van daardie geestelike ervaring wat ‘n mens het wanneer ‘n mens innerlik seerkry onder jou eie feilbaarheid en mislukkings. Dan knaag die eie tekortkoming aan ‘n mens, is jy skaam oor wat jy gesê of gedoen het, voel jy aaklig oor wat in jou lewe gebeur het. Thomas soek eerder woorde wat eg is, wat vertel van iets wat in ‘n mens se lewe verander.
Dieper moet ons taal ons neem. Verby die gewone lewe, alledaagse ervaringe, gevoellose gedagtes. Taal moet weer lewe: dit moet vertel van wat werklik in ‘n mens gebeur wanneer ‘n mens nie meer vlak is en leef nie.
‘n Mens kan berou goed opsom. ‘n Mens kan berou en vermurwing selfs goed waarneem en uitwys. Heeltemal anders is wanneer daardie kennis op ‘n dag in ‘n mens se lewe ‘n eie ervaring word, uitdrukking gee aan wat ‘n mens self beleef. Die knaende gevoel dat ‘n mens tekort geskiet het, bring ‘n mens op jou knieë, by God – die Een wat die eerste is om die verslae hart aan te raak. Die Een wat die geknakte riet nie sal verbrysel nie....
Daarom skryf Thomas in 1.1.8: Sowaar, groot en mooi woorde maak ‘n mens nie heilig nie en maak dinge in jou lewe nie reg nie. Dit is net wanneer ‘n mens goed leef dat God ‘n mens bemin. In 1.1.10 herhaal hy: jy kan alles ken. Die hele bybel. En ook die insigte van alle filosowe. Maar dit beteken niks sonder die liefde van God en die genade nie.
Daarmee kom ‘n mens by die hart van die saak uit: alles wat ‘n mens dink, maar ook alles wat ‘n mens doen is gerig op die goddelike liefde. En wie die goddelike liefde ervaar, ly pyn, innerlik, wanneer hy of sy ontrou is aan daardie liefde. ‘n Mens se vermurwing is nie ‘n teken dat ‘n mens nou al hoe nader aan God kom nie. Maar wanneer ‘n mens innerlik verwond is, innerlik wroeg, is dit ‘n teken van verlange na die volmaakte liefde.
Thomas het die kontemplatiewe begryp – en ervaar.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.