Thursday, February 24, 2011

Oor godsdiens en spiritualiteit. Verdere refleksie oor wat spiritualiteit is.

‘n Mens kry ‘n beter insig in wat spiritualiteit is wanneer jy dit kan vergelyk met en ook onderskei van “godsdiens.” Daarom is dit die moeite werd om so bietjie na te dink oor die verhouding tussen die twee.

Sandra Schneiders het vir my tydens haar besoek aan ons Universiteit en haar deelname aan ons nagraadse opleiding, ‘n kopie gegee van haar voordrag, “Religion and Spirituality: Strangers, Rivals and Partners.” Dit was haar helder bydrae tot die Santa Clara Lectures en is gepubliseer deur die Santa Clara Universiteit in 2000. Dit is hierdie bydrae wat my interesseer en waaroor ek meer wil nadink.

Godsdiens, skryf sy, kan meer as een betekenis hê. Net so kan iemand godsdiens op een vlak aanvaar en dit op ‘n volgende een verwerp. Tog wil Schneiders drie aspekte van godsdiens uitspel.

1.     ‘n Basiese lewenshouding

Ten spyte van die veelvlakkigheid van godsdiens, sou ‘n mens op ‘n heel basiese vlak godsdiens kon beskryf as die fundamentele lewenshouding van ‘n mens wat glo in ‘n werklikheid wat groter is as hy- of haarself. Hierdie “transendente” werklikheid kan baie name hê, maar godsdiens vra in die algemeen ‘n bepaalde instelling en houding tot daardie werklikheid. ‘n Godsdienstige mense is iemand wat weet dat hy of sy totaal afhanklik is van die skepper of die grond van alles wat bestaan en van lewe. Die afhanklikheid bring by die mens sekere houdings en handelinge te weeg: ‘n Mens vereer byvoorbeeld die een wat lewe gee, is dankbaar vir die lewe, voel berou wanneer ‘n mens oneg lewe, en vertrou op die transendente om hulp in lewe en dood.

Hierdie baie algemene siening van godsdiens sal ‘n mens ook in spiritualiteit aantref. In die sin is daar geen spanning of teenspraak tussen spiritualiteit en godsdiens nie. Die twee oorvleuel dus in hierdie opsig.

2.     ‘n Geestelike tradisie

In godsdiens kry ‘n mens verskillende geestelike tradisies, soos die Islam, die Christendom of Boeddhisme. Hierdie tradisies gaan almal terug op ‘n stigter wat ‘n bepaalde ervaring gehad het (Bv.: Christus as Seun van God; Boeddha se Verligting). Elkeen van hierdie tradisies dink en leef op ‘n kenmerkende manier in die teenwoordigheid van die Transendente of Numineuse.

In die meeste gevalle word mense eenvouding in so ‘n geestelike tradisie gebore. In Suid-Afrika sal die oorgrote meerderheid mense daarom die Christendom as geestelike tradisie hê. ‘n Mens kan jou baie moeilik van hierdie geestelike tradisie waarin jy gebore is, losmaak. Selfs al kies jy vir iets heeltemal anders, sal jy op een of ander manier tog in jou denke en lewe steeds daardeur bepaal word. Selfs wanneer ‘n mens dus spiritualiteit ontdek en dink jy kan dit losmaak van jou “godsdiens” en van die tradisie waarin jy grootgeword het, sal jy ontdek dat dit nie so maklik gaan nie. Iewers gaan jou godsdienstige tradisie gedurig steeds ‘n rol in jou spiritualiteit bly speel.

3.     ‘n Godsdiens of geïnstitusionaliseerde verwerking van ‘n geestelike tradisie

Die N.G.Kerk, die Metodiste, die Pinkstergroepe en Sioniste kerke is almal voorbeelde van die konkrete insitute waarin geestelike tradisies neerslag vind. In die kerke ontdek ‘n mens dan godsdiens waarin op kerklike manier vir jou vertel word hoe om ‘n verhouding met God te hê en hoe hierdie verhouding ‘n mens se lewe hier en in die toekoms bepaal.

Maar wat in die kerke as godsdiens aangetref word, het ook te doen met die kultuur waarin mense opgevang is. Kerke het ook ‘n kulturele karakter wat mense help om na te dink oor die diepste werklikheid. In hierdie institusionele vorm is daar drie spesifieke patrone:

a.      Kulturele sisteme. In godsdiens gaan dit om die geloofspatrone en ‘n geloofslewe wat in ‘n kerk voorkom. In die geval van Christelike kerke is daar byvoorbeeld basiese oortuigings wat gegrond is op die openbaring van God deur Jesus wat ‘n mens se verhouding met jouself, met ander en met die wêreld raak.

b.     In godsdiens gaan dit ook om sekere belangrike sake wat vir ‘n gemeenskap of groep as die belangrikste van alles beskou word. Vir Christene is verlossing byvoorbeeld belangrik. Dit sluit in dat ‘n godsdienstige mens hom of haar bemoei om ‘n persoonlike verhouding met God, in die hede en toekoms en om die transformasie van die hele skepping in Christus. Vir ander groepe kan ander dinge belangrik wees – soos in animistiese godsdiense groepe daarna sal streef om gevaarlike gode te paai of goeie gode aan hulle kant te hou.

c.      Godsdiens gaan uiteindelik om wat ‘n mens glo (belydenisse), wat ‘n mens in gehoorsaamheid moet doen of nie moet doen nie (kode) en hoe ‘n mens aanbid (kultus).

Godsdiens, sien ‘n mens dus, funksioneer veral op twee vlakke. Aan die een kant is daar godsdienstige tradisies en aan die ander kant is daar die instellings waarin hierdie tradisies tot uiting kom.  ‘n Godsdienstige ervaring van iemand soos Jesus is ten nouste verbind met die instelling waartoe Jesus se ervaring aanleiding gegee het. Deur kerke word mense in die godsdienstige ervaring ingelyf (gedoop, bv.), ingelig (onderrig, prediking), ondersteun (begeleid, pastorale sorg), geprys en gemaan, of gevier (in die sakramente). Op die manier word ‘n hele groep mense, maar ook ‘n mens in sy persoonlike lewe gevorm in die godsdienstige ervaring waarby die groep aansluit. Dit raak vele mense en individue op ‘n baie omvattende manier.

Dit kan ‘n positiewe uitwerking op mense en op samelewings hê. Maar daar is ook negatiewe kante: gewoonte-godsdiens, skynheiligheid, ‘n predikante-kerk, korrupsie, magsvergrype en bygeloof is maar enkele aspekte van die kerklike lewe wat oor alle eeue heen in alle kerke voorgekom het. Elke kerk ken hierdie slegte aspekte.

Maar geen kerk is altyd net sleg nie. Kerke van alle eeue het ook op ‘n indrukwekkende manier goeie goed gedoen. Om dus die kerk af te skryf oor sy foute, is onwys. Mense wat spiritualiteit afspeel teenoor die kerk op grond van kerklike misdrywe, beland dikwels in ‘n situasie dat hulle die groter wysheid kwyt is. En as hulle wegbly uit die kerk, kan hulle ook nie ‘n bydrae lewer om foute in die kerk aan te spreek en opbouende kritiek te lewer nie.

Schneiders skryf nogal skerp: “Sulke ongeaffilieerde individue of groepe het geen toegang tot die volhoubare en gedeelde beoefening van ‘n tradisie wat die toets van die tyd deurstaan het nie. Hulle het nie die voorreg van ‘n sosiale ondersteuningstruktuur nie, die getoetsde strukture van ‘n gedeelde geloofsisteem nie, die helderheid van ‘n samehangende teologie nie, die vormende bemiddeling van ‘n kanonieke versameling tekste nie, die deurwinterde tradisie van morele ideale en grense en die wysheid van groot figure van die verlede nie. In die kerk ontdek ‘n mens waarhede, vind ‘n mens geesgenote wat saam met jou op reis gaan en ondervind ‘n mens ondersteuning in tye van swaarkry en onsekerheid.

Met ander woorde: iemand wat, ontevrede met die kerk, dink hy of sy kan eerder sonder die kerk ‘n lewe van geloof vind, kan dikwels juis geestelik verarm eerder as om geestelik bevry te word deur die kerk te verlaat.

Tog waarsku sy: ‘n Mens moet nie godsdiens en spiritualiteit kousaal verbind nie. Die getroue beoefening van geïnstitusionaliseerde godsdiens is geen waarborg dat ‘n mens die godsdienstige tradisie jou eie sal maak as ‘n persoonlike spiritualiteit nie. En om getrou kerk toe te gaan beteken nog nie dat ‘n mens daardie kerk sal kan beïnvloed nie. ‘n Mens kan godsdienstig wees sonder enige spiritualiteit. Of ‘n mens kan deel wees van ‘n gemeente wat ontrou is aan sy eie godsdienstge oortuigings en tradisie, byvoorbeeld waar ‘n kerk rassisme ondersteun of teen mense op grond van hulle geslag diskrimineer. Daar is in die geskiedenis kerke wat by tye sulke ontrouheid uitgestraal het en daardeur die spiritualiteit van hul lidmate geknou het.

Dus: godsdiens en spiritualiteit kan ‘n mens nie skei nie. Maar ‘n mens moet hulle ook nie identifiseer nie. Godsdiens skep die ruimte vir spiritualiteit en mense kan geestelik verryk word in hul kerke. Maar godsdiens kan by tye ook ‘n mens se spiritualiteit onder druk plaas. In sulke gevalle word die geestelike mens uitgedaag om in die kerk te wees, maar nie van die kerk nie.

In hierdie bespreking van godsdiens kry ‘n mens al ‘n bietjie aanvoeling vir die onderskeid en die gemeenskaplikheid van spiritualiteit en godsdiens. Maar dit moet ‘n bietjie dieper bekyk word.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive