Tuesday, February 08, 2011

Spiritualiteit en mistiek: wat gebeur wanneer 'n mens God ontmoet? Oor die Godservaring.


Ek is gewoond aan Waaijman se definisie van spiritualiteit as die verhouding van God tot die mens wat steeds transformatief werk. Die “formele” beskrywing kan dan op allerhande manier materieel ingevul word met sekere kernwoorde soos heiligheid, vroomheid, volmaaktheid en ontferming.

Daarom lees ek vandag met aandag ‘n ander beskrywing wat my help om meer van spiritualiteit te verstaan. Christelike Spiritualiteit sou ‘n mens, skryf McGinn oor die Mystical Consciousness (in Spiritus 8 [2008], 44,) in die algemeen kon beskryf as die lewe na die Gees van die Opgestane Christus – d.w.s. dit is die toewyding van gelowiges wat na vore kom in sekere oortuiginge en praktyke.

McGinn haal dan 1 Korintiërs 6:14-20 aan as verse waarin die Gees sentraal staan. Ek lees die gedeelte weer met aandag. Vers 24 vertel van Jesus se opstanding: God het Hom met krag opgewek en só sal God ons ook opwek. ‘n Mens kan nie, as jy een is met Christus, jou liggaam verontreinig deur losbandige dinge nie. Dit sal die geestelike eenheid met die Here vernietig (vers 17). Seksuele losbandigheid is uit. Wie hieraan skuldig is, vergryp hom aan sy liggaam (vers 18). Gelowiges het die Heilige Gees. Die Gees woon in hulle as ‘n gawe van God, nie aan mense nie. Dit is asof God die mens gekoop het. Daarom moet ‘n mens God in die liggaam verheerlik.

Hy haal ook 2 Korintiërs 3:17 aan. Wie hom of haar tot “die Here” wend, sê die gedeelte, wend hom of haar tot “die Gees.” En waar die Gees van die Here is, is daar vryheid.” Om nie vir jouself te lewe nie, om vir die Gees te leef, bring vryheid. Paulus vervolg: “ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is.”

Dit is dan die geestelike lewenskuns, spiritualiteit: om in die Gees te leef. En steeds weer omvorm te word. Al hoe meer word ‘n mens verander om die beeld van Christus uit te straal.

Maar dit is nie die finale woord oor Spiritualiteit nie. Daar is ‘n tweede begrip wat die betekenis van Spiritualiteit wesenlik aanvul. McGinn bespreek daarom die mistiek: ons lewe na die Gees het ‘n doel. Die mistiek as ‘n deel van spiritualiteit is op die doel gerig. Die lewe na die Gees het as kern-moment die mistieke element. ‘n Mens moet as deel van die Christelike gemeenskap wat in die wêreld ‘n instrument in God se hand is om die goddelike genade  uit te straal, die lewe na die Gees in jou eie lewe “toeëien”. Die mistieke “ervaring”, die belewing van die Gees is ‘n kern-moment in die geestelike reis. Alles is gerig op hierdie persoonlike toe-eiening.

Kortliks opgesom: mistiek is die innerlike, verborge realisering van spiritualiteit wat gebeur deur die transformerende bewussyn van God se onmiddellike teenwoordigheid in ‘n mens se lewe. Op ‘n keer, dus, wanneer die mens bewus word van sy of haar ontmoeting met God, keer dit sy of haar lewe om en lei tot ‘n lewe na die Gees. In hierdie geestelike lewe word die mens al hoe meer omvorm na die beeld van die opgestane Christue.

Die vraag is egter nou: Wat is hierdie “mistieke ervaring”?

McGinn verwys na Teresa van Avila wat in haar lewensbeskrywing geskryf het dat haar nadenke oor Christus  daartoe gelei het dat sy ervaar het hoe sy bewus raak van God se teenwoordigheid. Sy kon nie vir ‘n oomblik twyfel daaroor nie: God was in haar en sy was deur God oorweldig. Dit was nie ‘n visioen nie, maar iets wat sy as “mistieke teologie” beskryf het.

McGinn waarsku egter dat “ervaring” ‘n problematiese woord is: Sommige mense dink dit is ‘n spesiale soort gevoel en / of waarneming. Hulle kontrasteer dit dan met “teologie”: ervaring is gevoel, teologie is intellektueel. Dit sou beteken, soos William James dit in sy beroemde Varieties of Religious Experience sou beskryf, dat ‘n mens ‘n sekere “gevoel”, ervaring het wat dan later in woorde uitgedruk en geïnterpreteer word.

Tog is dit ook nie so maklik nie. Teresa van Avila het nie die kontras tussen gevoel en verstaan, ervaring en interpretasie geken nie. Die mistieke “ervaring” was vir haar terstond “mistieke teologie.”

Wat dit beteken, wil ek graag verder bedink aan die hand van McGinn se artikel. Wat word met die woord “ervaring” bedoel?  Hoe moet ‘n mens die spesiale ontmoeting met God voorstel? Wat gebeur by die bewuswording dat God in ‘n mens se lewe teenwoordig is?

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive