Thursday, February 03, 2011

Die Samaritaan was nie maar sommer net ‘n goeie onselfsugtige mens nie. Oor die Verborge werking van God.


Die vorige blog het ek geskryf oor die wonder dat ‘n mens deur iets leliks, aanstootliks, selfs vreesaanjaend nie afgeskrik en afgestoot word nie, maar daardeur tot ontferming gebring word – soos die Barmhartige Samaritaan wat die verwonde man raakgesien en versorg het.

Dit is vreemd – dat ‘n mens hierdie reaksie het op iets wat jou origens sou afsit. 

Dit verwonder 'n mens.

Lukas vertel hierdie verhaal oor ontferming met sober woorde. Hy sentimentaliseer dit nie, of probeer nie stroperig of moraliserend daaroor skryf nie. Dit is asof hy huiwer, asof hy met eerbied praat, asof hy terughou. Hy tel sy woorde.

Die Nuwe Vertaling sê: Die Samaritaan het vir die verwonde man “jammer geword.” Die Ou Vertaling lui: “hy het innig jammer gevoel” (Lk.10:33). Maar letterlik staan daar ‘n passiewe werkwoord: “Hy is beweeg tot ontferming” of “hy is tot ontferming gebring.” Lukas vertel nie uitdruklik wie die Samaritaan tot ontferming gebring het nie. Maar tog is dit ‘n bekende stylfiguur, wat ‘n mens normaalweg die goddelike passief noem. Welzen skryf dat hierdie passiewe werkwoord te doen het met die goddelike verborgenheid. Dit wys op God se werking.

Lukas laat dus die oorsprong van die ontferming formeel oop. Hy vul dit nie in nie. Dit is asof hy huiwer voor die wonder van hierdie gebeure.

‘n Mens kan maar net dieselfde nasê – want wat hier gebeur is onwerklik, bring ‘n mens tot verwondering: Die Samaritaan het nie vir die man jammer gevoel nie. Iets verborge het met hom gebeur. Iewers het die genade tot hom gekom, die gawe om om te gee is aan hom geskenk, God se teenwoordigheid in sy lewe het hom gebring tot liefde. 

Dit is ‘n kontemplatiewe moment wat onmiddellik ‘n deurwerking het. 

Die Samaritaan het na die verwonde man gegaan, sy wonde verbind, gesalf en hom na veiligheid gebring. Dit het nie maar sommer net gebeur nie. Hy was nie maar sommer net ‘n goeie onselfsugtige mens nie. 

Iets veel diepers was daar aan die gang. ‘n Mens kan maar net in eerbied daarby stilstaan, verwonderd oor die wonderskone dinge wat God laat gebeur as mense maar net gewillig is om lief te hê.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive