Thursday, February 10, 2011

Die goddelike gloed wat nooit uitbrand nie. Oor die blywende werking van die mistieke ervaring.


Wanneer ‘n mens iets leer of wanneer ‘n mens liefde ervaar, gebeur daar iets met jou wat jou uit jou self losmaak en jou verander.

‘n Mens sou kon praat van self-transendering, skryf McGinn.Dit is 'n gelaaide woord, wat ek nuttig vind.

Hy verduidelik dit verder n.a.v. sommige denkers se opmerkings hieroor: Elke mens, skryf die Kanadese denker, Lonergan, begeer om te weet en te leer.  Gedurig gee ‘n mens bewustelik aandag, wil ‘n mens graag verstaan, werk ‘n mens dinge logies uit en soek ‘n mens om verantwoordelik op te tree. Waar ook al ‘n mens dit doen, verstaan jy wat om jou aangaan. Dan kry jy ‘n greep op die wêreld om jou. En dan kan ‘n mens ook ‘n etiese leefwyse volg.

Met ander woorde, in die gewone lewe ontwikkel ‘n mens ‘n bewussyn van dinge wat groter as jyself is en wat jou vorm verby wat jy reeds is.

Alles begin by wat ‘n mens ervaar. ‘n Mens “neem waar” deur jou sintuie en deur jou bewussyn. Sodra ‘n mens dit doen, begin jy allerhande vrae vra – in ‘n proses van verwondering. Jy wil met jou brein dinge deurdink. Jy bou insig in dinge op, ontwikkel sekere hipotese’s of veronderstellinge en orden dinge op ‘n verstaanbare, logiese manier. Dan wil ‘n mens nadink hieroor en vra jy jou af of dit wat jy ervaar en georden het, regtig so is. Is dit wat jy verstaan in lyn met wat jy ervaar en in lyn met wat jy waarneem? En as ‘n mens nagedink het, wil ‘n mens reageer. Dan vra jy wat staan jou te doen in terme van jou waarneming, insigte en nadenke.

Hierdie proses in die gewone lewe kan ‘n mens gebruik om godsdienstige ervaring te begryp:

Alles in die mistieke oomblikke begin as iets wat jou oorval of oorkom. God skenk aan die mens liefde. Op ‘n stadium raak die mens bewus dat God hom of haar lief het. Paulus formuleer dit in Romeine 5:5 só:  “Die liefde van God is in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees”. Die mens ontvang dus ‘n gawe van Bo.  Die mens is nie ingestel daarop, verstaan dit nie of kies nie vir die liefde nie. Dit is iets wat jou bewussyn en jou denke en jou gevoelens voorafgaan.

Die mens word op die manier, deur hierdie gawe dan ingetrek in ‘n liefdesverhouding met God. Hierdie liefde gaan alle kennis vooraf. Maar wanneer die mens die liefde ontvang het, ontstaan daar ‘n spesiale vorm van kennis – wat ‘n mens “geloof” noem. Vanuit ‘n liefdesverhouding met God wil die mens graag meer weet oor die liefde. Hy of sy verlang meer insig. ‘n Mens gee nou aandag aan die liefde, soek om dit te verstaan, om dit te beoordeel en om dit in woorde uit te druk. Daar is ‘n groeiende bewussyn van wat ‘n mens aanvanklik beleef het. Dit gebeur veral wanneer mistieke tekste oor die mistieke ervaring skryf. Hierdie tekste vertel iets van hoe ‘n mistikus self sy of haar mistieke ervaring beleef het.

Die teenwoordigheid van God word dus op ‘n keer deur die mistikus ervaar. Hy of sy word bewus van iets of iemand wat anderkant sy of haar eie bewussyn is. Maar dit hou nie daar op nie. Wanneer die mistikus daarna hieroor praat, dink of voel, is God se teenwoordigheid ook aan die werk. Op hierdie manier word die hele lewe gedra deur ‘n durende, voortgaande mistiek bewussyn.

Mistieke tekste maak duidelik dat die mistieke ervaring te doen het met die teenwoordigheid van God in die mistikus se lewe. God is dus ook teenwoordig in die ontstaan van mistieke tekste. Wanneer ‘n mistikus skryf oor die liefde van die Verborgene wat sy of haar bestaan ingekom het, doen hulle dit terwyl hulle God se teenwoordigheid ervaar.

Maar dit beteken nie dat hulle iewers vir God kan “uitwys” nie – asof God ‘n “voorwerp” is wat objektief iewers te vinde is nie. Dit beteken dat wanneer hulle oor God skryf, hulle gedryf voel deur die aantrekkingskrag vna die liefde en van ‘n bewussyn dat hulle in die teenwoordigheid van die goddelike Verborgenheid is. Daarom is die mistieke ervaring nie maar net eenmalig nie, maar ‘n proses.  In die hele lewe van die mens, die gewone alledaagse bestaan, in alles wat die mens beleef en dink en doen, bly God steeds mede-teenwoordig. Gedurigdeur is die mistieke mens bewus van hierdie teenwoordigheid van die Verborgene.

Die mistieke ervaring is dus nie opgetower uit die mens se eie binneste nie – die resultaat van wat die mens begeer en bewerk nie. Nie dat die mens totaal passief is nie: ‘n Mens kan jou voorberei op God se koms deur afsondering, deur gebed en vas, om enkele voorbeelde te noem. Tog is die bewussyn dat God mede-teenwoordig in jou lewe is, ‘n gawe. Dit is pure genade, wat geskenk word. En hierdie genade is voortgaande – dit bly vorm ‘n mens se denke, doen en wil. ‘n Mistikus ervaar God se mede-teenwoordigheid in liefde, in die verstaan van alles, in wat hy of sy graag wil doen. Selfs op die mees gewone vlak van die lewe. 

Uit die artikel van McGinn ontdek ek dus dat die mistieke ervaring van die begin af nie maar net 'n verbeeldingsvlug van die mistikus is nie. Reeds vanaf die eerste oomblik is God teenwoordig op 'n meta-bewustelike vlak. Op die manier word die mens bewus van God wat groter, bo sy ervaring en bewussyn is. Dit val my op uit die bogenoemde opmerkings die mistieke ervaring nie tot 'n enkele, eerste moment verskraal kan word nie. Die mistieke ervaring omvorm die mens gedurig weer en op 'n omvattende manier. Dit hou nie op nie. Dit bly werk en dit wys sy krag in die mens se hele lewe. 

God, die Verborgene, kom tot die mens en daardie aanraking steek 'n gloed aan wat nooit uitbrand nie.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive