Die geestelike ervaring vorm die hart van godsdiens, het ons in gister se blog gesien. Die kerk as godsdienstige instelling in die Christendom leef uit die geestelike ervaring van Jesus en wil alles instel daarop om sy lidmate daarmee te verbind.
Maar vele mense het genoeg van die kerk gehad. Daarvoor is daar baie rede’s. Die kerk het hulle teleurgestel of seergemaak. Of die kerk het agtergeraak. Of die kerk is vir hulle oppervlakkig, moralisties, vervelig, geestelik dood of dalk net sommer nutteloos.
Daarom is in ons tyd ‘n tendens dat mense sê hulle wil nie meer godsdiens hê nie. Hulle soek na spiritualiteit wat hulle nie in die kerk kry nie. Hulle neem dan afskeid van georganiseerde godsdiens, veral van die kerk. Dit is vir hulle maklik, skryf Schneiders, want in die Westerse wêreld weet mense van baie godsdienste. Hulle weet dat daar in ons Westerse kultuur baie kerke en godsdienstige instellings is en hulle kan al die godsdienstige instellings teen mekaar opweeg. Hulle kan krities na die kerk kyk en dit opweeg teen ander opsies. Op die manier ontstaan daar al hoe meer ‘n skerper konflik tussen georganiseerde godsdiens en persoonlike spiritualiteit.
Schneiders analiseer hierdie groeiende konflik in terme van ons huidige samelewing. Want, sê sy, daar is in ons tyd sekere faktore teenwoordige wat die konlik tussen spiritualiteit en godsdiens aanmoedig en verskerp. Sy sonder veral twee uit, waarvan ek hier die eerste een gaan bespreek. Dit het te doen met spiritualiteit wat los van en buite godsdiens/die kerk voorkom. Hierdie spiritualiteit het baie vorme en werk met baie tegnieke (bv. meditasie, psigo-sofie, selfs vorme van joga, reiki, aromaterapie, asemhalingsoefeninge, kristalle, mandalas of sirkels, spirituele danse, retreats, wierook, New Age – spesifiek soos dit in ‘n nie-kerklike konteks gebruik word en voorkom). Sommige dink dat een uit elke vyf Amerikaners hulle self op die manier beskou as spiritueel, maar nie godsdienstig nie.
‘n Mens moet hierdie soort van spiritualiteit wat al hoe meer aftrek kry, in die konteks van ons tyd verstaan: Mense is deesdae in baie opsigte gespeen van sekere vaste vertrekpunte wat vroeër gegeld het. Hulle aanvaar nie meer dat ander mense verskillend is en nie deel van hulle wêreld kan wees nie. (Die Moslems/Die Roomse Gevaar/die Apostolies). As mense nie mekaar se oortuigings aanvaar nie, beteken dit vir hulle nie dat die een noodwendig reg en die ander een verkeerd moet wees nie. Hulle wil nie meer mense van ander groepe en oortuigings veroordeel, uitsluit en verwerp nie. Hulle wil eerder ander verstaan en selfs aan hulle in hul eie konteks reg laat geskied. As iemand anders as jy is, beteken dit nog nie dat ‘n mens nie met so ‘n persoon ‘n verhouding kan hê nie. Niemand nie, ook nie die kerk, kan, sê die mens van ons tyd, die waarheid ten volle in pag hê nie. Ons kan nie almal dwing om dieselfde te glo, te dink en te leef nie. Daar is nie een, groot waarheid wat alles netjie verklaar nie, sê hulle. Daar is baie moontlikhede om ‘n goeie en aanvaarbare lewe te lei. Die lewe is gefragmenteerd. Voor ons het ons nie ‘n duidelike prentjie nie. Ons het net stukkies fragmente wat ons maar moet rangskik om sin van dinge te maak of om sinvol te lewe.
Iewers het alles dus relatief geword. Wat tel is nie waar iemand vandaan kom nie of glo nie. Wat tel is wat nou vir mense werk. Hulle stel net belang in dinge wat iets vir hulle “doen”. Daarom is mense ingestel op die summiere bevrediging van hul behoeftes – hoe gouer hoe beter. Wat ander van hulle dink, is minder belangrik. En wat hul ouers of voorouers te sê gehad het, is onbelangrik. Daar is nie regtig sekere basiese dinge waaraan ‘n mens moet vashou nie. In die vreemdheid en alleenheid van die wêreld, moet ‘n mens neem wat jou gelukkig maak.
‘n Mens moet dit nie verstaan as onverskilligheid nie. Inteendeel. Hierdie mens van ons tyd is nie oppervlakkig nie. Hulle het ‘n diepe behoefte aan vervulling. Hulle verlang na iets wat sinvol is, wat tog nog betekenis het. Hulle wil rigting in hul lewe hê en wil voel dat hul bestaan waardevol is. Dit is waarom hulle by spiritualiteit betrokke is. Hulle is, soos mense van alle tye, soekers.
Godsdiens laat nie eintlik ruimte vir hierdie mens nie. Daarvoor het godsdiens te veel grense. Die Christendom het naamlik ‘n bepaalde wêreldbeskouing wat na vore kom in die groot verhaal (meester-narratief) wat begin by die skepping en eindig by die koms van die nuwe aarde en hemel. ‘n Christen is iemand wat inkoop op hierdie meester-verhaal wat alles in hul plek laat val en vir mens die groot prent teken. Hierdie verhaal bepaal ‘n mens se lewe. Dit vertel dat mense wat opoffer, wat nie ingestel is op die onmiddellike bevrediging van hul behoeftes nie, eendag beloon word.
As godsdiens vir baie mense vandag ‘n doodloop-straat is, is nie-godsdienstige, sekulêre spiritualiteit vir hulle ‘n duidelike alternatief. Hierdie nie-Christelike spiritualiteit lyk asof dit meer ruimte bied. Dit is ‘n spiritualiteit wat werk, veral as dit losgemaak is van godsdiens en die kerk. Dit is gewoonlik iets wat elke mens op sy of haar eie kan beleef. Elkeen kan dan op sy eie manier sy ervaring invul. Dit gee aan mense ‘n gevoel van tevredenheid en geluk. Dit vra nie van iemand om ‘n klomp dogma’s te aanvaar nie. Dit skryf nie aan mense voor wat hulle moet doen nie. Dit vra nie verantwoordelikheid teenoor ander nie. Die mens het ook nie verpligtinge teenoor die gemeenskap of samelewing nie. En as die spiritualiteit nie werk nie, los ‘n mens dit en kry ‘n ander een. Daardeur hoef ‘n mens ook nie jouself tot iets te verbind nie. Jy kan wees wie jy wil en jy is los van alles wat ander van jou mag vra.
Dit is duidelik dat met hierdie spiritualiteit godsdiens nie veel van ‘n kans het nie.
Bogenoemde prentjie wat Schneiders skets, is sekerlik eensydig en raak veral nie-godsdienstige spiritualiteit. Maar as ek so deur haar artikel werk, besef ek haar uitbeelding bied ‘n uitdaging. Baie van die eienskappe van hierdie Spiritualiteit is ook in Christelike Spiritualiteit al aan die werk. Die grens tussen godsdienstige Spiritualiteit en nie-godsdienstige Spiritualiteit is miskien nie so sterk soos mens altyd dink nie. Juis daarom moet ‘n mens sekerlik ook die vraag vra: wat is die verskil van Christelike Spiritualiteit met nie-godsdienstige spiritualiteit en hoe belangrik is dit? In die opsig vind ek haar artikel belangrik. Dit vra aan my om te kan uitspel hoe godsdienstige spiritualiteit en nie-godsdienstige spiritualiteit van mekaar verskil.
Hier is goeie antwoorde nodig. Deur hieroor na te dink, verstaan 'n mens, soos ons gesien het, beter wat spiritualiteit is.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.