Monday, February 21, 2011

Om nooit ander seer te wil maak nie. Oor spiritualiteit en geweldloosheid.

Ek was nog altyd beïndruk oor die groot mistici wat ‘n lewe van afsondering verbind het met ‘n lewe van eenvoudige, alledaagse, gewone, harde werk. In die fliek, Into Great Silence, oor die klooster van Kartusiërs, Grande Chartreuse, leef die monnike in totale stilte. Maar terselfdertyd doen hulle elkeen hul dagtake – tot by die maak van hulle beroemde likeur-wyne. Menigte mistikus het vertel hoedat ‘n mens God ook in die eenvoud van hande-arbeid moet kan dien.

Doen. Dit is deel van die mistieke lewe.

Die boek, Uncle Tom’s Cabin gee ‘n spesiale kyk in spiritualiteit vanuit die hoek van “doen.” In die verhaal verloor Tom hom in sy hande-arbeid, veral nadat hy as slaaf verkoop is. Hy werk met absolute toewyding. Hy doen dit nie net omdat dit hom help om nie in ‘n depressie te verval nie. Dit is sy manier om betekenis in sy daaglikse bestaan te ontdek, skryf Visser in haar artikel oor die beroemde boek van Stowe (Uncle Tom’s Cabin), waaroor ek nou drie blogs geskryf het.

Deur te werk, te doen, gee ‘n mens jou vir ander mense. Op een of ander manier raak jy ander mense se bestaan aan – wat iets aan jouself doen. Deur te volhard en vas te byt, te bly doen, skryf Visser in haar artikel oor die boek, leer ‘n mens meer van jouself ken en ontwikkel jy ‘n bepaald self-beeld. Dit kring uit tot ‘n gesonde self-bewussyn. Jy word ‘n heel, geïntegreerde mens wat weet wie jy is en waaroor jou bestaan gaan. Uncle Tom is ‘n slaaf, maar hy transendeer die toestand deur homself te sien as iemand wat omgee vir ander – meer as vir homself. Hy wil op die plantasie werk so goed as wat hy enigsins kan. Hy verwerp slawerny, maar hy is nie blind vir goeie dinge wat hy nog kan doen binne die onmenslike sisteem waarin hy vasgevang is nie. Op die manier groei hy in sy self-bewussyn en self-beeld.

Dit is ‘n spesiale manier van omgee vir ander, maar ook van dink oor jouself. Vir hom is enige vorm van geweld heeltemal uitgesluit van alles wat hy doen. Hy weier om ‘n mede-slaaf pak te gee. Hy sou eerder sterf as om ontrou te raak aan mense wat hy lief het.

Lesers van die boek hou nie altyd hiervan nie. Hulle dink Tom is ‘n slap lafaard sonder murg in sy pype wat homself gedwee onderwerp aan ‘n onregverdige bestel.

Dit is op hierdie punt dat ek afkom op ‘n merkwaardige aspek van Harriet Beecher Stowe, die skryfster van die boek, se lewe. Sy het naamlik, skryf Visser, voordat sy die boek geskryf het, op ‘n dag in koue kerk gaan sit en mediteer. Sy was misrabel na die self-doding van George, haar broer, en het in die wintertyd om en in haar ‘n behoefte gehad om gevul te word met troos.

Dit is toe, net daar, dat sy ‘n visoen gehad het waarin sy heel duidelik ‘n slaaf gesien het wat papgeslaan is en al bloeiende gekniel het om te bid dat sy aanranders vergewe sal word.

Sy het dikwels aan daardie duidelike, onmiskenbare gesig teruggedink toe sy haar boek geskryf het. Sy wou hierdie visioen van iemand wat bid eerder as slaan, wat vergewe eerder as aanrand, wat vergifnis skenk eerder as bitterheid uitbraak, konsekwent in haar boek uitwerk.

Daarom was dit vir haar belangrik dat Tom nooit in haar boek iets sou doen wat ander seermaak nie.  Alles wat hy gedoen het, elke steek werk wat hy verrig het, was ingestel op ander. Of hy slaaf was of nie. En die manier waarop hy vir ander omgegee het, was gekoppel met die begeerte om hulle nooit enige kwaad aan te doen nie. Sy omgee vir ander is gedryf deur wie hy was – as mens, nie as ‘n slaaf nie.

Ek het nie geweet van hierdie mistieke ervaring van Stowe nie. Hierdie beskrywing van haar boek as ‘n teks wat gedryf is deur haar visioen van iemand wat vir sy kwaaddoeners vergifnis toebid, is suiwer Evangelie, dink ek terwyl ek dit lees.

Spiritualiteit, besef ek ook, is maklik te beskryf as om om te gee vir ander. Dit is mooi, maar kan abstrak en teoreties bly. Moeiliker word dit as ‘n mens ‘n spiritualiteit leef waarin jy bid vir hulle wat jou kwaad aandoen, maar meer nog, leef op so ‘n manier dat jy self niemand ooit seermaak nie.

 ‘n Lewe van afsondering is altyd gepaar met ‘n lewe van goed doen. ‘n Geestelike reis is om te sweet, om teen jou natuurlike drifte in te leef, om teen jou eie voordeel in te kies. Om ander nie seer te maak nie, om ‘n verskil te maak, is eenvoudige, harde werk. Dit bring heling, maak van jou ‘n geïntegreerde mens en vorm jou self-beeld beslissend.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive