Saturday, February 12, 2011

Die mistieke ervaring en Jan van die Kruis


Jan van die Kruis is McGinn se derde voorbeeld van nadenke oor die mistieke ervaring. Daarmee is ek aan die einde van 'n reeks blogs oor wat die mistieke ervaring is, en, by implikasie, wat dit nie is nie.

Ek hou van die manier waarop McGinn se artikel skryf oor die mistieke ervaring. Hy wil duidelik pogings verwerp wat die ervaring as anti-intellektueel (en dus as geesdrywery) wil beskou. Ek hou ook van die manier waarop belangrike begrippe soos insig, liefde, uitwerking en transformasie ter sprake kom. Die mistieke ervaring word verryk deur al hierdie dimensies daarin raak te sien. Ek is ook beindruk deurdat die relasionele karakter van die mistieke ervaring steeds weer na vore kom. Die mistieke ervaring is nie maar net een of ander vreemde verskynsel wat op 'n subjektiewe manier tot die innerlike van die mens verskraal word nie. Dit het te doen met die mens se verhouding buite homself, tot God, tot die ander, tot vele aspekte van sy bestaan soos die liefde en kennis. Die mistieke ervaring trek die mens in verhoudings in - wat reeds veelseggend is. Dit het nie te doen met allerhande spekulatiewe gespin nie, maar dit is ook nie los te sien van dieper nadenke en besinning nie.

Jan van die Kruis het diepsinnig nagedink oor die rol van liefde en van die intellek in die mens se reis na eenheid met God. Hy wou besin oor die manier waarop ‘n mens se geheue, insig en wil getransformeer word deur die goddelike genade waardeur die mens gereinig, verlig en met God verenig word. Daarmee het hy byvoorbeeld reg laat geskied aan die rykheid van die mistieke ervaring en gekeer dat dit verskraal word tot iets emosioneels wat teenoor die mens se insig en teenoor intellektualiteit staan.

Jan van die Kruis verwys eers natuurlike kennis en liefde vir mense en dinge wat voortkom uit ‘n mens se sintuie, geheue, intellek en wil. Dit is nog nie ‘n geestelike kennis nie. ‘n Mens kan nooit hierdeur met God verenig word nie. Al die natuurlike vermoëns van die mens moet inderwaarheid uit die weg geruim word voordat ‘n mens God kan ken en lief hê. Dit is die reinigingsproses waardeur ‘n mens moet gaan (purgatiewe). Die mistieke ervaring is dus nie uit te verkoop aan die mens se innerlike vermoëns en potensiaal nie.

In die mistieke ervaring gaan dit om ‘n geestelike gebeurtenis. Geestelike kennis en liefde is iets anders as alles wat ons deur ons natuurlike vermoëns ervaar. God raak die mens aan en die mens reageer geestelik op hierdie aanraking. Deur en in die geestelike ervaring word die mens se geheue, intellek en wil in ‘n totaal ander rigting gestuur. Uit sy eie, deur sy natuurlike vermoëns kan die mens nie met God verenig word nie. Maar waar God na die mens uitreik en aanraak, word die mens se natuurlike vermoëns – sy geheue, intellek en wil – getransformeer en radikaal verander.

God se aanraking word in die diepste kamers van ‘n mens se gevoelens ervaar – dit is in die dieptes van ‘n mens se geheue, intellek en wil soos wat hulle geestelik aan die werk is. Hierdie gevoelens werk soos die liggaamlike sintuie wat indrukke ontvang en in die geheue stoor. Wanneer ‘n mens geestelike kennis opdoen, is daar in die mens se innerlike ‘n krag aan die werk  wat die goddelike aanraking in ‘n mens se geheue opneem, bewaar en geniet. In die mens ontstaan daar nou ‘n nuwe bewussyn. Sy geheue is geherorienteer. Die mens word aangeraak en ervaar gevoelens van eenheid met God en die mens rig dan ook weer sy innerlike op die doel om een met God te word.   

Maar selfs hier moet ‘n mens versigtig weet: Kennis is nie om sekere “dinge” te onthou nie. Die geheue van die mens dink nie aan sekere vorme, beelde of tekens wat op die mens se innerlike afgedruk is nie. Die geheue onthou deur die werking van liefde, vreugde en geestelike vernuwing wat in die mens se innerlike opgewek is. Elke keer weer as ‘n mens aan die goddelike aanraking dink, werk liefde, vreugde en vernuwing opnuut weer in ‘n mens. Intellek en liefde...

Die mistieke ervaring is dus nie maar net om bewus te raak van ‘n uitsonderlike oomblik in ‘n mens se bestaan nie. In die mistieke ervaring is meer aan die gebeur as ‘n oomblik van ekstase. Iemand is aan die werk, Iets diepers en verborge is aan die gebeur as maar alleen dit wat die mens voel. In ons innerlike, as die Grond van ons bestaan, woon God.

Dit is nie ‘n ervaring wat teenoor kennis staan nie. Die intellek en die gevoel van die mens word in die mistieke ervaring ingetrek. Insig en liefde is aan die werk. En dit is ‘n ervaring wat ‘n proses aan die gang sit waarin God steeds weer die mens aanraak en transformeer.

Kennis en liefde wek steeds weer kennis en liefde. In die onthou van die vreugde van liefde, van die goddelike aanraking, word die mens steeds weer dieper ingetrek in die eenheid met God. Mistiek. Mistieke ervaring.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive