Monday, February 28, 2011

Lewe en dood word deur verwondbaarheid verbind.


Henri Nouwen, wat op ‘n stadium professor by Yale en Harvard was, en dus ‘n man wat geweet het van die wetenskap, skryf die volgende gedeelte in sy Dagboek onder die datum van 3 Januarie:

Kwesbaar soos ’n kuikentjie

Die lewe is kosbaar. Nie omdat dit so sterk en ewig soos 'n diamant is nie, maar omdat dit so verwondbaar is, so kwesbaar en weerloos soos 'n kuikentjie.

Om die lewe lief te hê, beteken om te aanvaar dat dit verganklik is en verwondbaar; dat dit versorg en beskerm en gekoester moet word; dat dit vra om aandag, en leiding, en ondersteuning.

Lewe en dood word deur verwondbaarheid verbind.

Sowel die pasgebore baba en die sterwende ouer mens herinner ons aan die kosbaarheid van die lewe.

Laat ons die kosbaarheid en die kwesbaarheid van die lewe nie vergeet in die tye wanneer ons sterk, suksesvol en gewild is nie.

Met hierdie bydrae kyk Nouwen dieper as die oppervlakte van die alledaagse bestaan. Op die oog af beïndruk krag en mag mense. En ons het die lewe lief omdat daar soveel energie in is. Mense wat bruisend lewe, wat dinge doen, wat presteer, wat uitstyg – hulle versinnebeeld vir ons die lewe. En ons word vermaak deur mense wat die lewe uitdaag, kanse vat, die survivors en Houdini’s van ons tyd. Gewildheid, glo ons, maak die lewe die moeite werd. Die lewe is ryk en vol as ‘n mens roem geniet.

En tog – elke ouer sal vir jou vertel watter diepe gevoelens in hulle loskom as hulle vir die eerste keer hul pap babatjie in hul hande hou. Soos ‘n kwesbare kuikentjie. Kosbaarder, weet hulle instinktief, kan dit nie. En eindeloos, groot is die liefde wat in hul binneste wakker word voor die wonder van die lewe wat aan hulle geskenk word. Daarom kan hulle die geskree, die opstaan in die middel van die nag, die vuil doeke, die aanmaak van die bottel en die soek na die hoeveelste fopspeen wat weggeraak het, met geduld aanvaar, selfs al is die kragte uitgeput. Aandag, leiding en ondersteuning vloei vanself uit die besef van hoe kwesbaar die Gawe aan jou is.

Roemloos, swak, kwesbaar, irriterend, gillend lê hierdie Liefde in jou huis. En vir niks ruil jy dit in nie. Dit is mooier as die korale, as suiwer goud, as skitterende diamante.

Soms, as ‘n mens naby iemand is wat jy besig is om te verloor, as jy treurig is omdat dinge begin om so verganklik te lyk, as jy begin afskeid neem, ontdek jy hoe kosbaar hierdie dieper dinge is.

Die roem kan maar verbygaan. Die hare kan maar grys word. Die plooie kan maar kom sit.

As die lewe maar net daar is.

En as dit oor jou pad kom – hierdie diepere bewussyn van hoe kosbaar die lewe is, kom die eintlike energie los. Dan ontbrand die drif diep in ‘n mens. Want dan gee jy om, Dan versorg jy terwyl jy nog kan – gee jy sonder perke, met die wete jy kan nie genoeg vir hierdie kosbare lewe doen nie. Dan beskerm jy – asof jy jou liggaam oor ‘n geliefde se liggaam gooi om koeëls af te weer. Dan koester jy – die oomblikke van saamwees, die stil tye van gemeenskaplikheid, die goue woorde van liefde, die stem van goedheid, die herinneringe wat immer by jou sal woon.

En altyd weer, steeds weer, weet jy, daar is ‘n groter Verborgenheid. En dit is dat die lewe so kosbaar is dat dit die tyd sal oorleef. Want die lewe is ‘n gawe van die Liefde. En die liefde vergaan nimmer nie. Wie in die Liefde woon, woon in die ewigheid.

Dit is die mistieke antifrase: juis in die verganklikheid ontdek ‘n mens die Oneindige. Agter die raaisel skuil die helder Lig. Juis daarom het ‘n mens die lewe lief – om sy kwesbaarheid, sy verganklikheid. Want in die verganklikheid lê sy Oneindigheid.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive