Tuesday, February 15, 2011

Die brief aan Tiatira as die spil waarom alles draai. Bybelstudie oor Openbaring (22)


Teen die tyd dat ‘n leser by die Brief aan Tiatira uitkom, is die nuwigheid so bietjie af (Openbaring 2:18-29) Nog een van die sewe briewe, sou ‘n moderne leser kon dink en dan maar vasbyt en dit deurlees in ‘n poging om Openbaring te verstaan. Miskien het die eerste lesers, destyds, in Johannes se tyd, ook só gedink.

Maar die tweede keer dat hulle die teks gehoor het of gelees het, sou hulle sekerlik anders gedink het. Hulle sou dan meer voorberei wees vir wat hulle hoor of lees. Trouens, ‘n mens kan amper dink dat sommige lesers juis weer na die boek wou luister of kyk omdat hulle met die eerste lees van die boek sekere patrone daarin agtergekom het. Hulle het besef dat dit nie net belangrik is wat Johannes aan hulle skryf nie, maar hoe hy dit vir hulle skryf. Deur fyn op te let na die vorm van die boek, ontdek hulle meer en meer van sy betekenis.

Die belangrikste patroon, sou hulle na hul eerste lees van die boek weet, het ‘n sewedelige vorm gehad. Johannes, het hulle besef, hou van die syfer sewe. Daar is sewe seëls, sewe trompette, sewe skale en sewe engele, om maar net ‘n paar te noem. En die luisteraars wat fyn opgelet het, het ook besef dat Johannes daarvan gehou het om die sewe op te deel in vier plus drie, of in drie plus vier.

Die sewe briewe is in ‘n patroon van drie plus vier opgedeel:

Die eerste drie briewe eindig byvoorbeeld almal met ‘n oproep tot waaksaamheid (“wie ‘n oor het”), gevolg deur ‘n belofte aan hulle wat oorwin (sien Openbaring 2:7, 11, 16-17). Maar in die laaste vier briewe word die belofte altyd eerste genoem, waarna die oproep volg (sien Openbaring 2:28-29; 3:5-6, 11-12 en 21-22). Dit is maar een voorbeeld van Johannes se tegniek om vir sy lesers te laat weet dat hy die eerste drie briewe as ‘n eenheid beskou en die laaste vier briewe as ‘n eenheid. Hieroor sal ek nog veel in die Bybelstudies skryf.

Voordat ‘n mens die implikasies van hierdie indeling bedink, is daar een opmerklike saak wat die interpretasie van die boodskap aan Tiatira beslissend bepaal. Die brief begin in 2:18 met: “Dít sê die Seun van God wat oë het soos ‘n vuurvlam en sy voete is soos blink koper.”

Dit is ‘n indrukwekkende beskrywing, veral as ‘n mens hieroor begin mymer. Vlammende oë vertel van ‘n deurforsende blik wat alles raaksien en niks miskyk nie. Niks is vir hierdie blik verborge nie. Die manier waarop Christus as die skrywer van hierdie brief uitgebeeld word, laat ‘n mens regop sit. ‘n Mens dink nie dadelik aan die Halleluja “Wat ‘n vriend het ons in Jesus” as ‘n mens hierdie beskrywing van Jesus se deurdringend blik lees nie. Deur hierdie blik, besef ‘n mens met respek, word ‘n mens se lewe op die spel geplaas. Johannes het hierdie beskrywing nie losweg gekies nie. In die middel van hierdie brief, in Openbaring 2:23, skryf hy dat die Seun van God gaan oordeel en dat almal sal weet dat dit Hy is “wat niere en harte deursoek.” Hy kan, want hy het oë van vlamme wat brand tot in die donkerste binnekamer van mense se innerlike.  Die goddelike kyk skroei die kwaad in die donkerste plekke van die mens se bestaan raak en oop. Die kwaad kan nie verborge bly nie – God is te waaksaam.

Maar wat eintlik opval is dat Christus hier “Seun van God” genoem word – en dit sommer reg aan die begin van die brief. Dit is die enigste keer dat hierdie beskrywing in Openbaring gebruik word. In die res van Openbaring word Jesus veral as Seun van die Mens beskryf. Die visioen in Openbaring is juis ‘n visioen van een wat soos die Seun van die Mens lyk (Openbaring 1:13). Hier, egter, praat Johannes van Jesus as die Seun van God. Vir die moderne leser is dit dalk nie so opvallend nie. Maar vir Johannes se lesers sou die titel dadelik opgeval het. Hulle weet nou – die Seun van die Mens is ook die Seun van God! Die Een wat die briewe aan gemeentes skryf is die toonbeeld van mens-wees, maar Hy is ook die Een wat deel aan die goddelike sfeer.

Daar gebeur dus ‘n paar goed met die leser wat die Brief aan Tiatira lees. Hy of sy ontdek dat Jesus met die uitsonderlik belangrike titel van Seun van God beskryf word. Dit gaan ‘n spesiale karakter aan hierdie brief. En, veral by ‘n herlees van Openbaring, word hy of sy bewus daarvan dat Openbaring die vierde brief is. As die vierde brief is dit terselfdertyd ook presies in die middel van die sewe briewe. Dit maak die brief nog belangriker.

Daar is ander redes waarom hierdie brief so besonder spesiaal is, soos nog sal blyk. Soos byvoorbeeld die eenvoudige feit dat dit die langste van die sewe briewe is. Maar die punt is: Johannes plaas hierdie brief op ‘n baie spesiale plek omdat hy daarmee ‘n spesiale boodskap aan sy hoorders wil deurgee.

Hoe spesiaal lei ‘n mens verder af uit Openbaring 2:23. Ons weet nou al goed: hierdie brief is eintlik aan Tiatira geskryf. En in die brief praat Johannes oor die profetes Jesebel en haar “kinders.” Verskriklik gaan haar en haar kinders se einde wees. Tog gebeur daar nou in die brief iets opvallends. Dit waarsku nie net die gemeente in Tiatira nie. Johannes noem ook verder in hierdie vers dat “al die gemeentes” sal weet hoe die Seun van God die kwaad opspoor en uitdelg. Dit is die enigste van die sewe briewe waarin “al” die gemeentes uitdruklik genoem word. Hierdie brief is dus nie net aan Tiatira gerig nie, maar uitdruklik ook aan al die gemeentes. Dit laat ‘n mens dink: wat ‘n spesiale brief. Dit is geen wonder dat Johannes dit in die middel van die sewe briewe plaas nie – asof dit die spil is waarom alles draai.

Die lesers begin besef: Tiatira is nie maar net een van die sewe gemeentes nie. Eintlik, word aan hulle gesê, het Tiatira se brief ‘n boodskap wat vir almal geld. Mense sal vir God leer ken in wat in hierdie gemeente gebeur. Let maar versigtig op. Die kwaad word nie net in een plek uitgeruk nie. Laat niemand te gou ‘n vinger wys nie. Of te gou dink: ag, dit is Tiatira se probleem nie. As een ly, ly die hele liggaam. En wat in een gebeur, raak almal.

Dit alles maak ‘n mens dubbel nuuskierig. Wat het dan in hierdie gemeente gebeur dat Johannes hulle verhaal in die middelpunt wou plaas?

Meer daaroor later.


No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive