Ek is aangetrokke tot Thomas a Kempis se opmerkings oor teenspoed. Hy skryf in Deel 1. 12:
1. Goed vir ons is dit dat ons soms sekere swarighede en teenslae het
want hulle roep die mens terug na sy hart.
Dan besef hy dat hy in ballingskap is:
sodat hy nie sy hoop op iets van die wêreld stel nie. àà
2. Goed is dit dat wanneer ons soms teensprake verduur
En dat mense sleg en onvolmaak oor ons dink
selfs al is ons dade en bedoeling goed.
3. Die dinge bevorder dikwels nederigheid
En beskerm ons teen leë roem.
4. Dan soek ons beter na God as ons innerlike getuie
wanneer ons van buite deur die mense geminag word
en mense ons nie regtig vertrou nie.
5. Daarom moet die mens so op God bou
dat hy nie nodig het om veel menslike vertroostinge te soek nie.
6. Wanneer ‘n mens van goeie wil gekwel of beproef word,
of deur slegte gedagtes gepla word,
dan begryp hy dat hy God meer nodig het;
hy ontdek dat hy sonder God tot niks goed in staat is nie.
7. Dan ook is hy bedroef, sug en bid oor die ellende wat hy ly.
8. Dan het hy genoeg gehad van nog langer te leef
en verlang hy dat die dood sal kom.
om ontbind te kan word en met Christus te wees.
Dan merk hy ook goed dat
volmaakte onbekommerdheid
en volledige vrede
in die wêreld nie kan bestaan nie. àà
Thomas a Kempis se hoofstuk 12 van sy eerste boek in die Navolging van Christus gaan oor die nut van teenspoed. Thomas begin die hoofstuk deur twee keer te vertel hoe goed dit is as ons swaar kry. Selfs, beklemtoon hy, al is dit onverdiende teenspoed moet ‘n mens dit ook kan verwerk.
Swaarkry, vertel hy, roep ‘n mens terug na jou hart. En ‘n mens wat sy hart gevind het, weet dat hy of sy nie deel is van die wêreld nie en dat hy nie op die wêreld moet vertrou nie. Boonop maak dit ons nederig – en ‘n nederige mens is iemand wat weet hoe leeg die roem van die wêreld is. Twee keer, dus, prys Thomas teenspoed omdat dit ons die regte perspektief gee.
Maar vir hom is die hoogtepunt nie soseer te vind in wat teenspoed aan ‘n mens doen en hoe dit van mens ‘n beter persoon maak nie, as waartoe dit die mens bring: om na God te soek. Dit bring ons om in ons hart vir God te vind, as ons “innerlike getuie.” Uiterlike dinge is leeg. Vervulling kry ons alleenlik wanneer God in ons inwoon. Thomas is ‘n mistikus. Die geestelike reis vind sy voltooiing in eenwording met God.
Maar die insig in die geestelike nut van teenspoed val nie sommer uit die lug nie. Ons word nie sommer net na ons hart “teruggeroep” nie. Dit gebeur alleenlik wanneer ‘n mens op God bou. In die hart van hierdie hoofstuk staan daarom verse 5: die mens moet bou op God, sy vaste fondament in God vind. Wat ‘n mens aan die gang hou in tye van swarkry, is die verhouding met God waarna ‘n mens gedurig op soek is.
Dan volg daar in die laaste deel van die hoofstuk weer ‘n verwysing na tenspoed. Iemand wat swaarkry, ervaar ‘n hele paar “dan’s”: in tye van teenspoed weet hy of sy dat hy God nodiger het en sonder God nie kan wees nie. Dan ly hy onder sy swaarkry. Dan verlang hy na die vereniging met Christus. In die heel laaste “dan” besef die mens dat hierdie wêreld nie volmaak en vreedsaam kan wees nie. Daarmee sluit die einde van die hoofstuk by die begin aan: ‘n mens is ‘n balling, jy moet nie op die wêreld hoop nie. En alles, alles draai om hierdie spits: om God as die Een op wie ons bou – nie die wêreld met sy onvolmaaktheid en gebrek aan vrede nie.
Teologie, Christologie en eskatologie kom saam: wie op God bou, is verbind met Christus en die toekoms. Dit gee vastigheid en dit bring vrede.
Hier is die Latynse teks:
1. Bonum nobis est quod aliquando habeamus aliquas grauitates et contrarietates:
quia sepe hominem ad cor reuocant;
quatinus se in exilio esse cognoscat:
nec spem suam in aliqua re mundi ponat. àà
2. Bonum est quod paciamur quandoque contradictiones
et quod male et imperfecte de nobis senciatur:
eciamsi bene agimus et intendimus.
3. Ista sepe iuuant ad humilitatem:
et a vana gloria nos defendunt.
4. Tunc enim melius interiorem testem deum querimus;
quando foris vilipendimur ab hominibus:
et non bene nobis creditur.
5. Ideo deberet se homo in deo taliter firmare:
ut non esset ei necesse multas humanas consolaciones querere.
6. Quando homo bone voluntatis tribulatur uel temptatur,
aut malis cogitacionibus affligitur;
tunc deum sibi magis necessarium intelligit:
sine quo nichil boni se posse deprehendit.
7. Tunc eciam tristatur gemit et orat,
pro miseriis quas patitur.
8. Tunc tedet eum diucius viuere;
et mortem optat venire:
ut possit dissolui et cum christo esse.
Tunc eciam bene aduertit:
perfectam securitatem
et plenam pacem in mundo non posse constare. àà
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.