Thursday, February 17, 2011

Die lig in die kamer het die lig in sy lewe geword.... Oor die transformerende krag van eenvoudige liefdesdade

In die slot van Kolodiejchuk se opsienbare boek oor Moeder Teresa se briefwisseling, wat ek pas gelees het, is daar die volgende verhaal wat sy self vertel. Die verhaal is 'n volmaakte afronding van die boek. 'n Mens wil nie daarop kommentaar lewer nie - 'n mens wil dit net oorvertel - in haar eie woorde:

“Ek sal nooit vergeet toe ek die eerste keer by Bourke besoek afgelê het nie. Ons het na die buitewyke gegaan. Daar was ‘n groot reservaat waar die inheemse bevolking gewoon het. Hulle het in daardie klein, nou opslaanhuisies gebly wat van sink en hout aanmekaar geslaan was.

Ek is in een van hierdie huisies na binne. Dit is nie eintlik ‘n huis nie, eerder ‘n kamer met alle besittings wat daar opgegaar is. Ek het vir die man wat daar gewoon het, gesê: “Laat my jou bed vir jou opmaak, jou klere vir jou was en jou kamer vir jou netjies maak.” En hy het bly antwoord: “Moenie moeite doen nie. Ek is o.k.”

Maar ek het vir hom gesê: “Jy sal nog beter voel as jy my toelaat om dit te doen.”

Uiteindelik het hy ingewillig dat ek dit doen.” Hy het my só toegelaat dat hy uiteindelik ‘n koevert uit sy sak gehaal het. Toe het hy uit daardie koevert ‘n verder een en ook ‘n derde een uitgehaal. Binne-in die laaste koevert was daar ‘n foto van sy pa wat hy vir my gegee het om na te kyk.

Ek het na hom gekyk en gesê: “Jy, jy lyk na jou pa.” Hy was oorstelp van blydskap dat ek sy pa se gelaatstrekke in sy gesig herken het. Ek het die foto geseën en vir hom teruggegee. Hy het die foto in die koevert teruggesit en die koevert weer in die ander koeverte. Uiteindelik het hy dit weer in sy hempsak by sy hart gebêre.

Nadat ek die kamer skoongemaak het, het ek in die hoek ‘n groot lamp gekry wat baie vuil was. Ek het vir hom gevra: “Steek jy nooit die lamp aan nie? Dit is so ‘n pragtige lamp. Steek jy dit nooit aan nie?” Hy het geantwoord: “Vir wie?” Maande en maande gaan verby en niemand kom my ooit besoek nie. Vir wie sal ek dit aansteek?”

Ek het daarop gesê: “Sal jy dit aansteek as die susters na jou toe kom?” En hy het geantwoord: “Ja.” Dus het die susters begin om elke dag vir 5 of 10 minute  by hom ‘n draai te maak. Hulle het dan sommer ook die lamp aangesteek.

Na ‘n rukkie het hy die gewoonte aangeleer om die lamp aan te steek. Stadig, stadig, stadig het die susters hom nie meer saans opgesoek nie. Hulle het wel in die oggend nog gegaan.

Ek het skoon van die situasie vergeet totdat ek na twee jaar die volgende boodskap van die man gekry het: “My vriend, vertel vir Moeder Teresa dat die lig wat sy in my lewe aangesteek het, nog steeds brand.” 




No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive