Alles wat sterk is aan die Christendom gaan terug op Jesus. Wat Hy oor God gedink het, het mense verbaas. Sy woorde oor God was nuut. Sy dade was boeiend.
Sy verhouding met God het mense geraak.
Hy is op ‘n dag gedoop. By die profeet van God, Johannes, het Hy opgedaag. Toe al het Hy ‘n reputasie gehad, sodat Johannes geweier het om Hom te doop.
Hy het Johannes gedwing om dit te doen.
Dit was ‘n besondere oomblik. Jesus het dit beleef as ‘n transformerende oomblik. Dit was ‘n aanraking van God. Dit was ‘n intieme oomblik. Soos tussen ‘n vader en ‘n seun. Twee wat deur spesiale bande gebind is. Dit was die begin van sy geestelike reis. Soos ‘n duif het die Gees in sy lewe geswiep.
Hierdie oomblikke was formerende oomblikke. Nooit sou hy en almal wat saam met Hom gereis het, die ervaring vergeet nie. Sy verhouding met God was so onmiskenbaar, mistiek en inspirerend, het hulle onthou. En dit het gemaak dat hulle alles gelos het om Hom te volg.
Van toe af het Hy God begin dien as sy lewenstaak. Godsdiens. En steeds weer kon Hy God by Hom ervaar, is Hy gedryf deur die oomblikke van liefde wat Hom telkens weer toegeval het.
Die Evangelies beskryf almal hierdie spesiale geestelike ervaring van Jesus. Dit was die begin van sy lewenstaak, die pad wat Hy vir en met God geloop het.
Daar was nog vele ander ervaringe. Daarvan vertel die Evangelies vir ons.
Daarvan vertel die Evangelies van ons. Die Evangelies as die boeke van die kerk.
Hulle, dit is, die kerk, moet op een of ander manier van Jesus “getuig.” Hulle het gedoen wat Jesus ook gedoen het. Om mense op te roep en nader te bring.
Niemand het direkte toegang tot die geestelike ervaring waaruit godsdiens ontstaan nie. Die Evangeliste, die kerkmense, moet dit oordra. Sonder hulle woorde deel mens nie in Jesus nie.
Dit is waaroor Schneiders skryf: daar is spiritualiteit. Die geestelike ervaring. En dan is daar godsdiens wat bou op hierdie geestelike ervaring. Hoe mense van latere tye deel kry aan die geestelike ervaring wat alles verander het.
Ek dink na oor die blog van gister waarin ek Schneiders saamgevat het. Dit is tog ‘n ding: sonder godsdiens kan ons nie. Die godsdienstige instelling, die kerk, wat so massief is, bied vir mense toegang tot die geestelike ervaring ten grondslag van godsdiens. Sonder die kerk gaan dit maar sukkel om by Jesus uit te kom.
Soms skuif die kerk se aandag weg van die geestelike ervaring. Soms fokus die kerk meer op homself as die een wat die geestelike ervaring bemiddel. Soms dink die kerk dat hy die mag in homself het. En dan beheer hy toegang tot die geestelike ervaring. Hy regeer.
Of die kerk kan eerder weet dat hy bestaan ter wille van Jesus. Die kerk kan opnuut weer leer om te dien, om die voorskoot om te bind, om vuil voete te was. Die kerk kan bewus wees van hoe stamelend, hoe gebrekkig, hoe metafories, hoe sukkelend hy die geestelike ervaring van Jesus verwoord – en selfs nog erger sukkel om dit te beliggaam. Immers, hoe kan 'n mens in mensewoorde so 'n Verborgenheid vasvat? En wie durf dan om dit te waag?
Dan worstel die kerk om die geestelike ervaring van Jesus op ‘n geestelike manier en met afhanklikheid van die Gees oor te dra.
So "dien" die kerk, in afhanklikheid, wagtend, verlangend.
Soms gebeur dan tog die Onpeilbare: die Gees self neem oor en spreek deur die kerk sodat mense deel kry aan Jesus se geestelike ervaring. Dit is die tye dat mense aangeraak voel. Dat kerklike spreke geheilig word, die stamelende woorde kragtig werk.
Dan sien mense vir God deur die stamelende woorde raak. Hulle herken die Verborgene in die huisbesoek. Hulle sien die Vriendelike in die sagte spreke. Hulle aanvaar die strenge, die tugtende, die vermanende as stroping, as skikking na God se wil.
Maar steeds weer besef hulle: iets gebeur hier, in die kerk se spreke, wat my heel maak. Die Gees heilig. Godsdiens verkwik die gees. Dit laat ‘n mens een word en voel met God.
Hulle ervaar wat Jesus ervaar het.
Dit is dan dat godsdiens eg is. Wanneer dit mense in die geestelike reis intrek.
Maar verskriklik is dit wanneer godsdiens mense van die geestelike reis weerhou of afskrik. Ons tye, ons armoedige tye, ons gewelddadige, korrupte tye, ons honger lidmate, die verwarde soekers vra van ons om na te dink oor ons godsdiens, oor die kerk: wat loop dan verkeerd? Waar is die Gees, die denke van Jesus?
Daar is godsdiens. Daar is spiritualiteit.
En dan is daar godsdiens wat leef om spiritualiteit.
En dan is daar godsdiens wat leef om spiritualiteit.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.