“Transformasie” is seker die mees sentrale begrip in spiritualiteit. “Omvorming” is ‘n amper mooier, meer Dietse woord daarvoor wat verder help om te sien waaroor gaan die begrip.
Soms gebeur daar iets radikaals met mense: hulle beleef ‘n spesiale oomblik waarin hulle bewus word van iets groter as hulleself. Dit bring dan ‘n totaal nuwe lewenswyse tot stand. Hulle word wat hulle nooit gedroom het om te wees nie. Hulle lewens word in ‘n nuwe rigting gedraai. Dit is transformasie of omvorming.
Miskien sou ‘n mens selfs moet praat van bemagtiging.
Wanneer ‘n mens oor transformasie praat, praat ‘n mens oor krag. Spiritualiteit maak nie van ‘n mens ‘n gedweë, ingekeerde, soet seun of dapper dogter nie. Die bring bemagtiging tot ‘n nuwe vorm van bestaan.
“Omvorming” impliseer dat ‘n bepaalde vorm omgebuig en verander word tot iets nuuts. HAT beskryf dit as: “Om ‘n ander vorm te laat aanneem” of, selfs, heel kort, “Omskep.”
Daar sit iets kragtigs in omvorming. Daar is in spiritualiteit ‘n vonk wat ‘n nuwe self-bewussyn in ‘n mens aan die brand steek. Nuwe krag word in ‘n mens se bestaan losgelaat.
Wie deur God tot stilstand gebring word, weet nie waarheen sy lewensreis sal gaan nie. Maar een ding is seker: dit gaan dinge laat gebeur.
Vra maar vir Petrus. En vir Paulus.
‘n Mens moet nooit die krag van die mistieke ervaring onderskat nie. Dit kan die wêreld omkeer en mense se lewens radikaal vir altyd op die kop keer. Die omvorming is immers die uitstraling van goddelike mag wat niks en niemand kan stuit nie.
Dit is gedagtes wat my opkom terwyl ek die slot van Visser se artikel lees.
Daar is spesifiek besonder krag, skryf Visser in haar artikel oor Harriet Beecher Stowe se beroemde boek, Uncle Tom’s Cabin, te vind in die oorgang van die ou na die nuwe vorm wat in die boek beskryf word. Die hoofkarakater van die boek, Uncle Tom, beleef so ‘n spesiale oomblik wat sy lewe omvorm. Na die ervaring sou niks en niemand hom kon inbreek nie.
Maar die boek het ook op ‘n ander vlak met mag te doen. Stowe was deel van ‘n konserwatiewe maatskappy toe sy haar boek geskryf het. Mense in haar tyd het vaste idee’s gehad oor die plek en rol van swartmense in die samelewing. Deur haar boek het sy die bestaande samelewingsorde met mag en mening uitgedaag. Sy het nuwe idee’s in haar land ingebring. Sy het al die bestaande vorme van bestaan bevraagteken en opgeroep tot ‘n nuwe manier van dink oor slawe.
As vrou het sy dit boonop gewaag om die manne-wêreld van die politiek te betree. Sy, wat normaalweg deur haar wêreld in ‘n kombuis agter die kookpotte of in die sitkamer agter breipenne geplaas is, het uit hierdie inperkende ruimte gebreek. Sy het die pen opgeneem en ‘n roman geskryf wat oor ‘n hoogs sensitiewe politieke kwessie gehandel het. En dit terwyl vrouens beskou is as resepteboek-lesers en voorskoot-werkers.
Bowendien het sy bestaande vorme van Bybel-interpretasie radikaal bevraagteken. Bybeltekste wat slawe opdrag gee om hul base te gehoorsaam, is ondergeskik gemaak aan Bybelse insigte oor die menslikheid van slawe en oor hul gelykheid voor God.
Stowe se roman illustreer hoe spiritualiteit nie net mense omkeer nie, maar ook die wêreld. Uncle Tom, die hoofkarakter in die boek, word anders. Hy word omvormg tot ‘n sterk, onverwoesbare mens. Die goddelike aanraking, soms skaars voelbaar, het hom gedryf om sy lewe op die spel te plaas. So diep was God deel van sy bestaan, so liefdevol was hulle vereniging, dat hy nie eers ‘n mede-slaaf wou pak gee nie. Sy godsdiens het ‘n konkrete, liefdevolle, self-opofferende gesig gehad. Wat in hom gebeur het, het met mag en mening na buite uitgekring.
En op ‘n hoër vlak geld dit ook van Stowe. Sy het met haar roman die moed gehad om haar wêreld met al sy self-sugtige vooroordele met mag en mening aan te pak. Met mag en mening.
Stowe se roman het verskeie onvoorstelbare gevolge gehad. Haar roman het mense laat ervaar dat die geestelike reis ‘n mens fisiek verander. Nie eers die lewensvernietigende houe waarmee Tom aan die einde papgeslaan is, kon hom vernietig nie. Sy geestelike reis het hom liggaamlik sterk gemaak. Onbreekbaar. Die geestelike reis is lyflik.
Maar haar roman het met mag en mening vir mense gebring tot die besef dat in God se oë daar nie slawe of vrymense is nie. Daar is net mense.
Haar roman het ook die tradisionele stereotipe van manlik en vroulik deurbreek. Met mag en mening leer die roman vir mense dat sagtheid, goedheid, innerlikheid, ontferming, omgee as “vroulike” begrippe, net so deel is van die geestelike reis as die meer manlike eienskappe soos beskerming, ondersteuning, dapperheid, volharding, beslistheid. Net soos wat ‘n mens niemand uitsluit uit jou wêreld omdat hy of sy “anders” lyk en praat, net so min is sommige mense “beter”, “belangriker” of meer werd is ander. Die geestelike reis is ‘n reis saam met en in hierdie wêreld, in gemeenskap met alle reisigers na God. Die ou vooroordeel en vorme word agtergelaat wanneer ‘n mens jou reis begin.
Stowe se boek met sy uitbeelding van die geestelike reis het mure laat val.
Die oomblik wanneer die Verborgene in mense se lewens inkom, leef hulle nuut en anders. Die ou dinge het verbygegaan. Alles is verander. Só het Paulus dit verwoord. Nou, het Jesus dit vertel, heers God in ‘n mens se lewe. En in die koninkryk van God is alles anders, kragtig, nuut en transformerend.
Geweldige kragte word in ‘n mens se lewe losgelaat. Dit sleur jou mee, vernuwe en omskep jou. Transformasie is soos sout. Dit is alleen eg as dit byt.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.