Monday, February 07, 2011

Die kerk as vyand van God. Bybelstudie oor Openbaring (21).


Pergamum, daardie indrukwekkende stad op die berg met die reusagtige altaar vir Zeus, het darem ook ‘n gemeente gehad, het ons gesien. Dit was ‘n lewensgevaarlike stad, waar gelowiges om die lewe gebring is weens hulle geloof.

Tog was daar gemeentelede wat hulle nie deur die vervolging laat onderkry het nie. Hulle het nie geskrik vir die vyande van die kerk nie.

Die brief aan Pergamum prys die gemeente oor hul getrouheid – selfs in hul allermoeilikste omstandighede (Open.2:13).

Dit is pragtige woorde van lof. En in hierdie woorde word veral, by name, Antipas, uitgesonder.

Tog loop dinge nie reg in die gemeente nie.

‘n Mens is geneig om altyd na buite te loer vir die gevare wat ‘n mens in jou godsdiens bedreig. Johannes wys in hierdie brief nie ‘n vinger na die Romeine wat die gelowiges vervolg nie, maar na sake wat gevaarlik verkeerd loop onder gelowiges self. Die probleem is ‘n inwendige kwessie – dit kom in die gemeente self voor.

Johannes skryf oor naamlik twee groepe binne die gemeente wat gemeente-lede laat “struikel” in hul geestelike reis (Open.2:14). Hulle is onder die invloed van die leer van Bileam en van die Nikolaïete. Bileam is ‘n berugte figuur, bekend uit Numeri 22-24. Johannes laat niks aan die verbeelding van sy lesers oor nie. Hy beskryf Bileam as die een wat die volk afvallig maak en bring om afgodsoffers te eet en te hoereer. In die geskiedenis is die Nikolaïete van dieselfde misleiding beskuldig.

Die saak lê vir Johannes na aan die hart: mense wat saam met hom hul geloof in Jesus deel, mense uit gemeentes wat hy baie goed ken, beskryf hy in die gedeelte in hoogs negatiewe taal. Hulle is in die kerk, maar nie van die kerk nie.

Daar is baie spekulasie oor die probleem wat geÏmpliseer word deur die begrip dat hulle afgodsoffers eet. Dit kan beteken dat hulle aan rituele in die afgodstempels deelgeneem het, of vleis geëet het wat tydens heidense feeste uitgedeel is, of selfs vleis gekoop het wat tydens heidense feeste geslag is.

Dit is dus nie duidelik waarna Johannes verwys nie as hy van die volgelinge van Bileam en die Nikolaïete praat nie. Hy noem nie name nie en hy verduidelik ook nie waarom hulle verkeerd is nie. . Maar in sy boek maak die opmerking baie sin. Johannes noem baie bekende negatiewe figure uit die Ou Testament simbole vir sy teenstanders. Hy praat van Sodom, Egipte, Babilon, Jerusalem, Jesebel – en nou van Bileam. Hulle is bekende simbole uit die Ou Testament vir afgodery. Hulle is mense wat nie huiwer om hulself te verryk nie, om meelopers van die maghebbers te word nie, om selfs ander dood te maak nie. Hulle tel onder die geledere van die mees berugte teenstanders van God deur die geskiedenis heen.

Die opponente word veral verkwalik omdat hulle gelowiges mislei het om verkeerde dinge te doen. Wat hulle “geleer” word, het implikasies vir hul daaglikse lewe. Soos Bileam vir Israel verlei het om afgode te dien, so gebeur dit ook hier in Openbaring 2:15. Dit is so ingrypend dat hulle opgeroep word om hulle te “bekeer” (Open.2:16). Deur hulle eet van afgodsoffers sny hulle hulself af van die gemeenskap met die Here. Hulle maak aanspraak daarop dat hulle God dien, maar hul lewe vertel ‘n heeltemal ander storie.

Gemeentelede wat hulle moet bekeer! Gemeentelede wat lyk soos die gevaarlike vyande van God deur die eeue heen! En dit terwyl sommige van hulle bereid is om vir hul geloof te sterf....  

Die gevare kom dus nie net van buite na die kerk nie, maar in die gemeente self is daar ernstige probleme. Die lewe van die gemeente staan op die spel.

In die hart van gelowiges skuil soms die donker, onbekeerlike ongeloof naas die mees voorbeeldige vorme van vroomheid.  

‘n Bietjie geloof, selfs dapper geloof, is nie goed genoeg nie. Later in sy boek (Open.21:8) waarsku Johannes dat mense wat aan hierdie sake skuldig is, deur die tweede dood getref sal word. Hulle sal as hoereerders en afgodedienaars nie by God wees nie (Open.21:3). Hulle gaan steek kers op by opponente van God en daarom tref die lot van die opponente hulle ook.

Om aan die gemeente te behoort, waarborg niks nie. Wie nie vir God dien nie, kan ook nie by God leef nie. Openbaring, vertel die vers ons, is nie net geskryf aan mense wat vervolg word deur God se vyande nie, maar is ook gerig aan mense wat hand om die nek staan met God se vyande.

Die kerk kan so naby aan die wêreld leef, dat dit die leweskeppende verhouding met God afsny. Soms omvorm geloof ‘n mens nie. Soms deformeer geloof om mense te laat word juis wat God nie wil hê hulle moet word nie.

Wie dink nou ooit hieraan: die kerk word vervolg deur mense wat nie die geloof kan verdra nie. Maar die kerk word ook vervolg deur mense in sy midde wat die geloof van binne-uit vernietig. Daarom pas dit die kerk om gedurig hand in eie boesem te steek en te soek na bekering. Daar is tye dat ‘n mens wakker op die mure van die stad waak, maar daar is ook tye dat ‘n mens diep self-ondersoek doen.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive