Hoe lees ‘n mens die Bybel?
Ons kom met allerhande vrae na die Bybel en na Hulle wat vir ons in ons geloofservaring begelei: Die nuuskierige wetgeleerde van Lukas 10:25 kom op hierdie manier na Jesus met sy vraag: “Wat moet ek doen om die ewige lewe te beërwe?”
Jesus antwoord hom met twee vrae: “Wat is in die wet geskryf? Hoe lees jy?”
Jesus verwys hom dus na die Heilige Geskrifte, die Wet as die hart van die geloof. Intertekstualiteit. Jesus, Lukas, die karakters in Lukas se Evangelie leef almal uit oerbronne van wysheid. Niks is uit die duim gesuig nie. Ons geloofservaring is geplant in eeue-oue geloofservaring van hulle wat voor ons die pad met God geloop het. Lukas vertel sy verhaal oor Jesus in terme van die Wet, die Heilige tradisie van die Jodedom.
Die geleerde man is reg om Jesus te antwoord: Hy presteer mooi. Hy haal onmiddellik die regte teks, Deuteronomium 6:6, aan. Jesus prys hom aan: Jy het reg geantwoord. Dit gaan in godsdiens, besef die geleerde heel goed, veral om God en jou naaste lief te hê. Só het mense in Jesus se tyd die wet as goue reël geken. Liefde, verstaan hy dus, is die hart van die heilige tradisie waarin gelowiges vir baie eeue God se stem gehoor het. Alles wat in die Bybel staan het te doen met die liefde.
Tot dusver is die proses duidelik: die man wil weet hoe hy die ewige lewe kan verkry. Jesus wys vir hom dat dit deur die liefde gebeur. (Die liefde vergaan nimmermeer).
Maar die man kry nie antwoorde wat na sy sin is nie. Liefde vir God en liefde vir die naaste is vir hom begrens deur sy eie behoeftes: “Hy wou homself regverdig.” Daarom reageer hy met die vraag: “wie is my naaste?” (Lk.10:29). Hy wil so bietjie karring, so bietjie wys hy het allerhande vrae te vra – selfs oor die liefde. Asof die liefde nie so duidelik is nie.
Self-regverdiging. In die proses van selfs belangrike, deurslaggewende geestelike vrae kan ‘n mens uiteindelik op niks meer as jouself ingestel wees nie. Vroom kan ‘n mens wees, veral oor jouself.
Kyk ook die afstand wat die man skep met sy vraag: “Wie is my naaste” klink na ‘n afstandelike, teoretiese vraag. Hy het nou net oor die liefde gepraat. Nou wil hy slimdink oor hulle wat kwalifiseer om sy naaste genoem te word.
Welzen skryf hieroor dat Jesus die vraag heeltemal verander wanneer hy die gelykenis vertel: Eintlik, aan die einde van die gelykenis van die Barmhartige Samaritaan, is Jesus se antwoord heel anders: sien jy kans om lief te hê? Kyk, immers, die priester en die leviet het ook Deuteronomium 6:6 geken. Hulle het goed geweet, het hulle gedink, wie hulle naaste is. Maar hulle was nie bereid om lief te hê nie. Jesus vra vir hom uitdruklik: van wie is jy die naaste? Is jy bereid om ‘n naaste te wees, om in liefde te waag?
En dan die nog dieper moment, wat vir ons veral illustreer hoe ‘n mens die Bybel lees: Jesus vra vir die man: “Wat dink jy” (Lukas 10:36), wie was die naaste van die man wat deur rowers aangeval was. Jesus wil van hom ‘n antwoord hê. Hy wil hê die man moet goed nadink, reflekteer, mediteer. Hy kan nie maar net hier staan en redeneer oor ‘n algemene saak nie. Deuteronomium 6:6 beteken vir Jesus dat ‘n mens “doen” wat die Barmhartige Samaritaan gedoen het. Die wet van die liefde ruk jou uit jou gemaksone. Dit bring jou in die gevaarsone. Daar is nie meer kans om jouself te regverdig nie. “Doen maar net so”, sê Jesus in Lukas 10:37. Gaan bewys ontferming. Daar kom ‘n punt dat ‘n mens verby vrae jou geloof uitleef.
‘n Mens lees die Gelykenis van die Barmhartige Samaritaan op ‘n vreemde manier. Dit is ‘n verhaal wat buitengewoon aantreklik is. Dit spreek ‘n mens aan. Die ou, ou woord van die liefde, so sentraal aan God se wet, verduidelik hierdie Lukas-gedeelte vir ons, is ‘n transformatiewe woord. Dit omvorm jou. Dit is so onuitspreeklik mooi, vanselfsprekend, aantreklik. Ons kan ons met die karakter van die Samaritaan vereenselwig. In die wêreldgeskiedenis is hy een van die groot karakters van die liefde – ‘n Moeder Teresa en alle mense wat steeds vir ander alles op die spel plaas. Hy styg vir ons myle uit bo die twee vaal, verdrietige en selfsugtige karakters van die twee vroom godsdienstiges, die priester en die Leviet. Selfs al is hy ‘n Samaritaan, ‘n uitlander, ‘n vreemdeling, iemand wat nie deel is van ons godsdienstige binnekring nie, prys ‘n mens die Samaritaan. Jy raak nie regtig moeg vir hom nie.
‘n Mens bewonder hom vir sy geestelike visie. Die punt is tog: die priester het die slagoffer “gesien”. Maar hy het ander kant verbygeloop (Lk.10:31). Die leviet het die arme mens ook “gesien” en verbygeloop (Lk.10:32). Hulle het dus goed geweet wat hulle doen. Vir hulle was dit duidelik: daardie man, het hulle gesien, kwalifiseer nie as hul naaste nie. Wat hulle voor hulle gesien het, die aaklige verminkte en aangerande figuur, het nie veel te doen gehad met die liefde wat die wet vra nie.
‘n Mens kan dus vroom wees, in God se diens wees, mooi oplettend wees. Maar selfs dan kan ‘n mens nog net op die oppervlakte kyk en sien. Godsdienstigheid waarborg nie geestelike insig nie. ‘n Geestelike mens kyk anders, sien dieper, kyk vanuit ‘n ander hoek.
Dit is ‘n belangrike vereiste vir die geestelik weg: dit is nie maar om versigtig op te let nie. Maar dit is om dieper te sien, onder die oppervlakte. Dit is om te kyk, weer te kyk en nog ‘n keer te kyk. Dit is om te luister wat jou hart vir jou sê, om so ingestel te wees op ander, weg van jouself, dat jou hart vol kan raak van ontferming – wat die sekerste teken van God se teenwoordigheid is. Dan regverdig jy jouself nie meer nie (dit is tog gevaarlik hier langs die pad; dit sal tog stom-dom wees om hier stil te hou om te help...) Dan maak die behoefte van die ander saak. Jou verhouding met ander lyk anders. ‘n Geestelike mens is getransformeer, weg van die self, in die rigting van die Ander. Dit is immers tog mos jou naaste!
Die Barmhartige Samaritaan het die verborge dinge raakgesien, anders as die priester en die leviet wat blind gesien het.
Hoe vreemd tog, hoe allervreemd: dat ‘n mens verby ‘n verminkte, pap-geslaande, lydende mens kan loop en in jou kom daar ‘n ontferming vir daardie persoon op. Hoe is dit moontlik? Watter Verborgenheid tog – dat ‘n mens deur aaklige lyding gedring kan word tot die allerskoonste ontferming!
Dit is oor hierdie vreemdheid wat ‘n mens diep moet gaan nadink. Want dit bring ‘n mens by die sin van alle bestaan uit, by dit wat nooit verbygaan nie, wat ewig in ons leef, wat bo alle tyd en ruimte uitstyg. By die ewige lewe. Nog ‘n woord hieroor later. Genoeg kan ‘n mens nie hieroor praat nie. Want in dit alles ontdek ons waarom die Bybel, as ons reg daarna kyk, as ons perspektief goed is, nog altyddeur ‘n mistieke werking het. Dit is tog waarom ons die Bybel lees en waarom ons al ons vrae vra: die boek wat ons telkens verwonderd laat as dit ons tot in ons hart aanraak en omvorm.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.