Saturday, February 19, 2011

Berugte/ beroemde spiritualiteit


Maklik kan mense dink Spiritualiteit is ‘n sentimentele, vroom houding van mense wat oor-emosioneel is. Soms kan mense ook heel kru en afkeurend daaraan dink as ‘n swak, tipies vroumens-agtige en selfs masogistiese lewenshouding.

Mense verstaan dan sulke geestelike waardes soos onselfsugtigheid, liefde vir die vyand en opoffering as negatief en afbrekend. Dit keer ‘n mens om jouself te laat geld en jou man te staan. Om die minste te wees grens dan vir hulle aan lafhartigheid en skep ‘n patetiese indruk.

Dieselfde losse minagting hoor ‘n mens in die kritiek teen oproepe dat ‘n mens vir ander moet voel, jou in hulle pyn moet kan indink, dat jy moet omgee en jou hart moet oopmaak vir lyding en leed. Om geestelik te wees, om dieper te dink, om innerlik geraak te word, is, word gesê, is emosionele opswepery en naïewe gedweep.

Dink met jou brein, sê hulle dan. Vlug van die willekeurige en veranderlike gevoelens van die hart.

Visser se artikel oor Harriet Beecher Stowe se beroemde boek, “Uncle Tom’s Cabin” het as titel: “(In) Famous Spirituality”. Dit is ‘n dubbelsinnige titel. Een en dieselfde boek, impliseer sy met die titel, roep gevoelens van weersin én van bewondering op. Wat vir een ‘n “beroemde” spiritualiteit is, is vir ‘n ander weer ‘n “berugte” spiritualiteit. Op die manier loop die spanning dik oor wat ‘n helende spiritualiteit is teenoor wat afbrekend en vernietigend werk.

Ek het eergister reeds ‘n vorige blog oor die artikel en boek geskryf en wil graag verder gaan met die onderwerp omdat die artikel en die boek self ook  ‘n mens help om spiritualiteit beter te verstaan.

Terwyl ek hieroor nadink, voel ek dat hierdie bespreking eintlik aan ‘n kernvraag raak: wat is die verskil tussen egte en onegte geestelikheid, tussen ‘n godsdienstigheid en spiritualiteit?

Visser gooi haar bespreking oor die boeg van die “vroulike” en “manlike” kante van Uncle Tom, die hoofkarakter van die boek.

Van die begin van die boek, skryf sy, word Uncle Tom uitgebeeld as ‘n sterk figuur. Hy het ‘n duidelik eie, innerlike waarde, al is hy ‘n slaaf. Aan ‘n goeie self-beeld ontbreek dit hom beslis nie. Sy sterk karakter kom al na vore in die manier waarop hy deur Stowe liggaamlik uitgebeeld word: hy word beskryf as ‘n sterk-geboude mens met ‘n goedgevormde liggaam. Maar hy is in haar beskrywing ook baie meer as dit – hy is sterk in ander opsigte ook. By die werk is hy ‘n voorslag – hy neem die voortou op die plantasie en dra die verantwoordelikhede.  Hy is in Stowe se woorde, ‘n soort patriarg wat met sy wysheid uitstaan bo sy tydgenote. Manliker kan dit nie.

Dit is, totdat hy verkoop word. Dit is dan dat sy wêreld inmekaar stort. Die groot toets het aangebreek. Sy manlike, sterk, gesaghebbende rol word op ‘n ingrypende manier deur die sisteem van slawerny bevraagteken. Hy is, blyk dit, niks anders as ‘n stuk eiendom nie, ‘n meubelstuk, sonder siel en sonder onafhanklikheid. Wat met hom gebeur bevraagteken sy manklikheid en sy menslikheid. As hy dit nie self besef nie, is daar derduisende lesers oor die eeue heen wat sy reaksie op hierdie lewenskrisis woord vir woord ontleed.

Baie, baie lesers was teleurgesteld in Uncle Tom – veral die stormramme van die groot ideologieë van ons tyd. Hy is, sê hulle, nie ‘n bakleier nie. Hy het sommer ingegee.

En tog, as ‘n mens die boek lees, skryf Visser, is daar ‘n heel ander kant. Want Stowe skryf só oor hom dat hy nie sy self-beeld en manlikheid verloor nie. Te midde van die vernietigende hou wat hom toegedien word, het hy tog ‘n sekere onafhanklikheid wat na vore kom in die keuse wat hy maak. Hy kan reageer op die besluit om hom te verkoop deur te probeer ontsnap en dus in opstand te kom. Of hy kan kies om hom by die gebeure neer te lê. Op die oog af, is die eerste keuse die “manliker”, “dapper” een wat hom aan allerhande gevare sou onderwerp en hom sou blootstel aan ‘n lewe waarin hy die slegste van dinge sou moes trotseer.

Terwyl ek hierdie opsomming van Visser lees, besef ek duideliker wat ek intuïtief beleef het toe ek self die boek gelees het. Ek onthou die bladsye waarop Uncle Tom besin het oor wat hom te doen staan. En hoe ek eintlik teleurgesteld wat dat hy besluit het om nie te ontsnap nie. En met watter aandag ek gelees het waarom hy dit nie wou doen nie.  

Sy besluit het my geboei omdat hy nie wou ontsnap nie ter wille van die ander slawe op die plantasie. Deur hom te onderwerp en nie te vlug nie, red hy hulle. Deur die pad van opoffering te loop, kom sy krag na vore. Dit is ‘n diep etiese keuse wat uit sy binneste opkom en wat hom as mens tot volle ontplooing laat kom. Deur homself prys te gee, kies hy die hardste moontlike pad – maar doen dit bewustelik ter wille van die ander.

Dit is die hoogste vorm van manlikheid, hierdie nederig keuse.

Dit is nie ‘n maklike keuse nie. Dit kom ook, soos uit die boek blyk, nie uit homself op nie. Sy besluit word gedryf deur ‘n geestelike inspirasie. Uncle Tom se godsdiens reik uit na ander, is gefokus op wat die beste is vir die mense om hom. Godsdiens is dus vir hom ‘n dinamiese, sosiaal interaktiewe mag, soos Visser dit stel.

Terselfdertyd is dit ook ‘n emosionele aksie. In die verhaal, onthou ek ook, is sy besluit gemeng met vrees en geloof. Dit woel in sy innerlike. Sy hart is in groot roeringe wanneer hy tot die besluit kom.

Maar emosies kan, veral in die tyd van Stowe, gesien word as die durende, meer standhoudende dryfkrag as insig en verstaan. Wat saak maak, soos uit Stowe se boek blyk en ook uit William James se The Varieties of Religious Experience, is nie allerhande intellektuele argumente en teorieë nie. Diep emosies kom na vore in sulke sentrale motiewe soos geloof, hoop en vertroue. Dit is ‘n sterk mens wat kan glo, kan hoop en kan vertrou in angstige, onsekere en hopelose situasies, soos wat Uncle Tom gedoen het.

Vroue sal sekerlik glimlag oor die manier waarop Uncle Tom in die resepsie-geskiedenis van die boek as ‘n swakkeling verdink word, wat met sy inskiklikheid hom soos “n vrou” onderwerp aan wat ander oor hom besluit. Ek self is ongemaklik met die gender begrippe waarmee Visser in haar artikel werk. Maar ek verstaan haar einddoel: sy wil wys dat spiritualiteit om heel-wording gaan. Heling is die sleutel-woord. In een mens moet die vroulike en die manlike eienskappe verenig wees.

Ek self sou ander kategorieë wou gebruik om hierdie gesprek te voer. Te lank het ons vroulikheid in terme van broosheid, verwondbaarheid en sagtheid gesien, terwyl ons manlikheid met krag, sterkte en gelding verbind het. Hieroor is ek sinies, want ek ken baie vrou wat ystersterk is in hul oënskynlike swakheid en broosheid. En ek weet van baie mans wat op grond van innerlike bewoëndheid met mag en mening uitreik na ander en omgee vir hulle.

Ek sou eerder die kategorië van swakheid/sterkte wou gebruik. ‘n Mens word heel wanneer jy die swakke op jou neem om sterk te wees, wanneer jy alles prysgee om by God te kan wees. Paulus het dit al besef: U krag word in swakheid volbring. Terwyl Jesus as die epitomie hiervan, die weg van die kruis gekies het. Trouens, Hy het dit gedoen in gehoorsaamheid aan God se wil.

Heelheid kom vanuit die swakheid oor jouself, maar ook vanuit die krag wat ‘n mens ontvang in jouself.

As ‘n mens maar net gedurig onthou: Wat vir mense “swak” lyk, stroperig, dweperig, kan vanuit die perspektief van die Ewige die sterkere wees, die egte, die volledige.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive