Iewers begin die geestelike lewe buite ‘n mens, wanneer jou lewe omgekeer word deur iets meers en groters as jouself. Maar dan kring dit uit - onder ander na die mens se binnekant. Dinge in ‘n mens se innerlik sal nooit weer dieselfde wees nie. ‘n Mens betree ‘n geestelike reis wat ‘n mens al hoe verder op die pad van self-vervulling neem. En dit is hierdie self-vervulling wat so belangrik is. Die geestelike reis bring heelheid in die mens se innerlike.
Dan word ‘n mens so sterk, so vas en so gegrond in die Bron van alle krag, dat niks jou meer kan breek of vernietig nie. Jy ontdek en ervaar jou innerlike waarde as 'n kosbare gawe. En hierdie mistieke oomblik dat jy jouself herken vir wat jy is en moet wees, dra en lig ‘n mens uit ver bo alles wat ‘n mens normaalweg vasgeketting hou.
Dit is oor hierdie innerlike krag as ‘n belangrik faset van spiritualiteit wat ek vandag loop en mymer. ‘n Mens kan in spiritualiteit en in mistiek so fokus op wat God doen, dat ‘n mens nie altyd bewustelik nadink oor wat spiritualiteit aan ‘n mens self doen nie. Wat is die uitkoms van die geestelike lewe, van God se aanraking? Waarom loop ons so soekende en verlangende die pad wat dikwels so verlate en donker is? Hoekom is daar vir ‘n mens geen ander uitweg as om op weg te wees na God nie?
Die laaste deel van Uncle Tom’s Cabin is ‘n misrabele vertelling oor Tom se laaste jare onder die wrede plantasie-eienaar, Simon Legree. Hy beveel op ‘n dag vir Tom om ‘n mede-slaaf ‘n pak slae te gee, maar Tom weier om dit te doen. Legree besluit daarna om Tom so te mishandel dat hy sy godsdiens verloën. Die volgende periode van erge mishandeling word dan uiteindelik Tom se woestyn-tyd.
Tom bly egter gelowig. Nadat hy ‘n slaaf help om te ontsnap en weier om te vertel waarheen die slaaf is, beveel Legree dat hy doodgemaak moet word.
Slegter kan dit nie met ‘n mens gaan nie. ‘n Mens sou dink dat jy in sulke omstandighede totaal disintegreer en alle houvas op jouself verloor.
Die woestyn-tyd is inderdaad vir Tom hel en ‘n tyd van intense stryd en spanning. Hy is fisiek uitgemergel en kan saans, as hy tuis kom nie eers sy Bybel lees vir geestelike verkwikking nie. Dit kwel hom. Hy raak depressief onder die uitputting, vernedering en harde werk. Dit word ‘n tyd waarin hy tot in sy diepste wese getoets word.
Volgens Visser in haar artikel oor Uncle Tom’s Cabin ([In]Famous Spirituality) word hy met ten minste drie toetse gekonfronteer:
Eerstens word Tom getoets deur die verregaande aanspraak wat op hom gemaak word. Legree gebruik die Bybel om vir Tom te vertel dat hy hom besit. Hy herinner Tom aan die Bybelse opdrag dat slawe hul meesters moet gehoorsaam. Hy is dus nie ‘n persoon in eie reg nie, maar eintlik niks anders as ‘n meubelstuk. Maar vir Tom is dit belangriker dat hy aan God behoort. Hierdie innerlike wete dat hy in God se hande is en dat dit belangriker is as enige Bybel-teks, help hom om Legree se houvas op hom te breek. Wat hy ervaar as waar is dus vir hom van groter waarde as wat mense om hom in die naam van die Bybel op hom wil afdwing. Tom is ‘n vry mens – vry om aan God te behoort en vry van enige grepe wat mense op hom wil uitoefen. Niemand kan hom in sy gewete bind nie.
Tweedens word hy tot op die grond getoets wanneer Legree hom beveel om ‘n mede-slaaf te gesel. Tom weier, al sê van die ander slawe vir hom dat hy nie ‘n keuse het nie en dat hy nie skuldig sal wees as hy ‘n bevel van sy baas gehoorsaam nie. Tom weet egter dat die kwaad op hom ‘n houvas sal kry as hy dit doen en dat dit sy innerlike wese sal belas en verduister. Hy weier eerder as om boosheid in sy lewe toe te laat en daardeur self tot boosheid aangetas word. Niemand kan hom dwing om dinge te doen wat sy menslikheid afbreek en die kwaad ‘n plek in sy bestaan gee nie.
Maar die grootste toets is om sy geloof te behou, skryf Visser. In sy laaste weke en maande van pure hel, worstel hy met die stilte van God se kant. Des te meer omdat mense om hom verpletter word en die bose triomfeer. Vir weke lank leef Tom in die duisternis van vertwyfeling. Hy verlang om net ‘n teken van God te kry. Selfs net ‘n brief van iemand tuis sou hom troos dat hy nie deur mense of deur God vergeet is nie. Uiteindelik oorkom hy die donker neerslagtigheid.
Toe die donker tyd verby is, gebeur daar volgens die boek met hom ‘n rare iets. Hy het ‘n mistieke ervaring. Hy sien in ‘n visoen vir Christus wat met oorweldigende heerlikheid beklee is. Christus praat met Tom soos ‘n gelyke en beloof aan hom dat wie oorwin, saam met Hom op die troon sal sit. Dit gee Tom nuwe krag. Hy kan die vernedering en ellende van sy toestand transendeer. Hy is ‘n sterker mens. Hy is groter as sy omstandighede. Hy word nie gevange gehou deur sy situasie nie. En sy godsdiens beteken vir hom meer as ooit tevore. Die visioen wat hom bewus maak van ‘n goddelike teenwoordigheid in sy lewe help om hom verder te transformeer. Dit word ‘n draaipunt in sy lewe.
Visser haal weer vir William James aan oor die krag van sulke mistieke ervarings. “Dit lyk of alle selfgerigtheid wegval. ‘n Mens beleef ‘n lewe van vervulling en gelatenheid wat ‘n mens bewus maak daarvan dat elke oomblik wat jy beleef vir jou spesiale geleenthede en uitdagings bied.” Tom is inderdaad ‘n vervulde mens wat leef vir elke oomblik. Sy begeerte om vry te wees en om weer sy familie te sien, oorheers nie meer sy lewe nie. Sy lewe bly misrabel, maar hy is onbekommerd en bly asof “alle paaie so pas glad gemaak is.” Hy verkry innerlike stabiliteit. Wat belangrik is vir hom is dat God in sy lewe is, dat sy innerlike waarde onaangetas is en dat sy lewe nie bepaal word deur sy sosiale konteks nie.
Dit beteken nie dat hy ingebreek is nie. Inteendeel. Hy is ‘n sterk teenwoordigheid onder sy mede-slawe. Hy help om hulle vry te maak. Hy wag nie meer passief op nuus van die huis nie, maar skryf nou self ‘n brief aan sy familie. Selfs terwyl hy sterf, is hy die een wat kan bid en kan vergewe. Wie hy is word nie bepaal deur sy omstandighede nie. Wanneer hy sterf en iemand (George) hom bejammer met die uitroep: “arme, arme man!” antwoord Tom: “Moenie my bejammer en ‘n arme man noem nie. Ek het die oorwinning. Die Here Jesus het dit vir my gegee.” Dat dit die fokus van die gedeelte is, word bevestig deur die opskrif van die hoofstuk – “Oorwinning”. George is, volgens die teks verstom deur die “mag, die drif en die krag waarmee Tom die stotterende woorde uitroep. Tom is nie die minderwaardige, gebroke slaaf wat innerlik vasgevang is deur sy omstandighede nie. Hy, uiterlik stukkend geslaan deur hatigheid en verniel deur slawerny, bly ‘n volledige vry mens. Innerlik is hy heel. Geïntegreerd. Niemand kan hom sy waardigheid ontneem nie. Hy is ‘n vervulde, ryk, sterk man.
Dit is ‘n lang pad wat ‘n mens loop. Maar deur die jare vorm die geestelike weg ‘n mens innerlik, so sterk, dat ‘n mens gevul is met dit wat werklik saak maak. En alles wat uiterlik is kan niks wegneem of afbreek van die rykdom wat in ‘n mens se lewe ingebed is deur die Groter Verborgene nie.
Uncle Tom’s Cabin kan ‘n mens help om dieper te kyk, om meer van spiritualiteit te herken, maar ook bring dit ‘n mens voor die wonder van die kragte wat in ons lewe loskom wanneer ons die geestelike reis begin loop.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.