Monday, February 14, 2011

Om niks anders as suiwer en alleen na God te soek nie... Die Navolging van Christus 1:17.


Ek lees vandag met nuwe aandag Thomas van Kempen se Navolging van Christus, deel 1, hoofstuk 17. Hier is my letterlike vertaling uit die Latyn om reg te laat geskied aan die oorspronklike (sien my analise van die Latynse teks aan die einde).


1. Dit is nodig dat jy leer om jouself in vele opsigte te breek 
as jy wil om vrede en eensgesindheid met ander te bewaar.

2. Dit is geen kleinigheid om in kloosters of in gemeenskappe te woon nie,
om daar sonder gekla met mekaar om te gaan
en om tot die dood trou te volhard.

3. Geseënd wie daar sy lewe goed gelei het
en gelukkig voleindig het.
 

4. As jy wil stewig staande bly en vooruitgang maak, 
reken jouself dan as ‘n balling, ‘n vreemdeling op aarde.

5. Dit is nodig om ‘n dwaas te word ter wille van Christus, as jy wil om ‘n Godgerigte lewe te lei.
 

6. Habyt (klooster-gewaad) en tonsuur (kruin geskeerde hoof) maak weinig verskil,
maar verandering van gedrag en totale afsterwe van die hartstogte bepaal die egte Godgerigte mens

********

7. Wie iets anders soek as suiwer net God en die heil van sy siel,
sal niks anders as narigheid en smart vind nie.

8. Ook kan niemand lank vredeliewend staande bly
wat hom nie inspan om die minste te wees
en om hom aan almal te onderwerp nie.

9. Om te dien het jy gekom, nie om te heers nie.


10. Om te ly en te werk, weet jy, is jy geroep .
en nie tot ledigheid of geklets nie.

11. Hier dus word mense gelouter,
soos goud in de brandoond.

12. Hier kan niemand staande bly
tensy hy met die hele hart ter wille van God nederig wil wees.

Die gedeelte gaan, volgens die opskrif, oor die monastieke lewe. Dit is ‘n onderwerp wat ‘n mens nogal maklik kan afsit. Oude doos, agterhaald, nie meer van toepassing nie, aan die uitsterf – dit is die soort van gevoelens wat by lesers dalk opkom as hulle die opskrif lees. Ek vermoed sommige slaan dit daarom ook summier oor en gaan aan na die volgende een.

Om die hoofstuk te verstaan moet ‘n mens weet dat dit eintlik in Thomas se tyd hoogs aktueel was. Daar was verskeie vorme van ‘n lewe van afsondering. Dit het gewissel van ‘n baie streng bestaan, in kloosters, tot meer informele gemeenskappe waar mense in huise saamgewoon het. Reeds hierdie “kommunes” as moontlike lesers van Thomas se boek bring ‘n ander toon in die lectio in. Miskien is die teks meer ter sake as wat ‘n mens normaalweg dink.

Tog gaan dit nie bloot om die kloosters of kommunes nie. Die gedeelte het implikasies vir enige een wat die geestelike reis met God wil loop.

Thomas lei sy lesers in die dieper betekenis van hul geestelike reis in en doen dit as ‘n mistagoog wat besef hoeveel op die spel is wanneer ‘n mens vir God kies: om in so ‘n plek te bly, om die geestelike reis af te lê, is nie maklik nie.

Hy is so onder die indruk van die eise wat sulke plekke en hierdie reis stel, dat hy die gedeelte begin met die opmerking dat vrede en eensgesindheid (twee gelaaide begrippe!) met ander alleen moontlik is as jy jouself breek daarvoor. Self-prysgawe. Om alles te verloor. Daarmee bepaal hy die toonaard van die hoofstuk: die leser weet – die geestelike reis is nie ‘n pretpark nie. Dit vra van jou iets. Jy moet ‘n bewustelike besluit neem – en as jy dit wil, vra dit van jou... Daarom voeg hy, op die oog af, terloops, in: “as jy vrede en eensgesindheid wil bewaar.” Dit gaan om ‘n keuse, ‘n lewensbelangrike opsie wat jy uitoefen.

So begin hy sy hoofstuk: as jy regtig iets begeer, as jy wil.... Sal jy jouself breek....  Ons sal sien dat dit nie so ‘n onskuldige, terloopse frase is nie.

Thomas beklemtoon dat die soeke na vrede en eensgesindheid nie ‘n suur ervaring is nie. Iemand wat dit regkry en volhou, sal geseënd wees. Dit is moeilik, maar dit is waarom alles gaan en dit bring egte geluk, seën en vervulling (vers 3). Hy vul hierdie geluk in wanneer hy verwys na die goeie lewe en die gelukkige voleinding wat die stukkend brekende mens sal ervaar. Om jouself te breek bring vervulling....

Die vraag is net: hóé kom ‘n mens daartoe dat jy hierdie seën en vervulling ervaar wanneer ‘n mens die reis met God loop.

Thomas laat volg dan ‘n tweede “as jy wil” aan die begin van vers 4: Wie “wil” volhou, “staande” wil bly, en geestelik “wil” groei moet nou verder die pad van vreemdelingskap loop. Dit is, weer eens, ‘n keuse wat ‘n mens maak. Met ongekende konsekwensies: Moenie dink dat jy in jou veilige plekkie van aanbidding en afsondering tuis is nie. Ook daar is jy maar net ‘n banneling, ‘n vreemdeling.

En dan volg, in vers 5, die derde, laaste “as jy wil.”  Wie die geestelike pad “wil” loop, in afsondering wil woon, moet ‘n dwaas vir Christus word. Hy voeg by: dit is nie die klooster, die klere, die uiterlike wat tel nie. Wat tel is hoe jy lewe, en, nog meer om alle aardse ydelhede – die hartstogte, wat ‘n mens begeer – af te sterwe. (Vers 4 en 5 is ‘n pragtige chiasme waarin vreemdelingskap met die begrip van dwaasheid gekwalifiseer word).

Hoofstuk 17 bestaan uit twee dele: die eerste deel vertel hoe die mens in sy lewe van afsondering na self-prysgawe, vreemdelingskap en ‘n toegewyde lewe moet streef. Dit vra ‘n wilbesluit, ‘n keuse, maar dit bring egte vreugde. Die kern van die eerste gedeelte, voel vir my, is wanneer Thomas die godsdienstige lewe (die lewe gerig op God – vers 5) verbind met Christus. Thomas dink sterk Christosentries. Wie in afsondering leef, volg Christus na om aan sy verhouding met God uitdrukking te gee. Wat die wêreld as dwaasheid ag....

In die tweede groot gedeelte (verse 7 tot 12) werk Thomas nou in meer detail uit wat hy bedoel met die verandering van gedrag en die sterf aan die hartstogte wat hy in die eerste gedeelte uitgewerk het.

Die tweede gedeelte het ‘n pragtige patroon (sien die Latynse teks). Daar is, eerstens, ‘n samehang met die vorige gedeelte: Vers 8 sluit aan by vers 1: om in vrede met ander te leef (vers 1), om vredeliewend te kan bly (vers 8), moet ‘n mens die minste wees en jouself aan ander onderwerp.

Verse 9 en 10, ‘n parallele paar (albei begin op dieselfde manier met ‘n ad – frase), vertel van roeping: ‘n mens het “gekom” (venisti; vers 9) en is “geroep” (vocatum; vers 10) om te dien, om te ly en om ‘n ligsinnige lewe prys te gee. Dit is waarom ‘n mens die geestelike reis aflê en waarom ‘n mens .

Vers 11 en vers 12 is ook ‘n paar. Hulle begin ook albei op dieselfde manier (met “hic” – die Latyns vir “hier”) en hulle moet dus ook saamgelees word. Die plek van afsondering (hier) bring loutering, soos goud in ‘n vuur gelouter word (vers 11), soos ook in die vorige verse geblyk het. Dit herhaal ook vers 1 se “om jouself te breek”. Dit slaan op die kloosters en gemeenskappe in vers 2. “Hier”, in die plek van afsondering, kan ‘n mens alleen staande bly as jy nederig is, verduidelik die slot van die hoofstuk in verse 11 en 12. Al die aanvegtinge kry sin: dit is God se louteringsproses wat aan die gang is.

Die hoofstuk eindig op ‘n klimaks met die woord “humiliare” (humility/nederigheid). Daarmee vorm die breek van jouself in vers 1 en die nederigheid in vers 11 ‘n ringkomposisie. Die lewe van afsondering, die monastieke lewe, is ‘n lewe van nederigheid. Die hoofstuk begin en eindig met dieselfde motief – die motief van self-prysgawe en nietiging. Om jouself af te sonder, is om jouself aan God toe te vertrou.

En nou word dit ook duidelik waarom Thomas in vers 8 en 12 sê dat iemand slegs staande kan bly as hy of sy niks is, as hy of sy nederig is. Kyk maar die groen en die rooi gedeeltes in die Latynse teks. Om te kan volhou, vasbyt, beteken om jouself prys te gee...

Nog baie, baie ander dinge kan ‘n mens oor die gedeelte skryf. Ek het my daarin verdiep omdat ek dit aanvanklik moeilik gelees het. ‘n Mens sukkel om ‘n houvas op die teks te kry. Ek het gewonder hoe ‘n mens die hoofstuk logies laat vloei.

Deur my in die Latyns teks te verdiep en veral op te let na die vorm van die teks – die herhaling van woorde, die paring van verse, die rym, sleutel-motiewe, indeling en struktuur – het die teks vir my algaande toegankliker geraak. Só is die maar met eksegese. Hoe meer ‘n mens met die teks worstel, hoe meer gee die teks haarself aan jou. Ek was, byvoorbeeld, heeltemal verras deur die feit dat die rym aan die einde van elke strofe vir my help om die strofes te orden. Aan die einde van elke vers staan naamlik ‘n woord wat rym met ‘n volgende strofe se eind-woord (in die Latyn met geel aangedui). Dadelik het ek besef hoe Thomas rym gebruik het om inhoud aan te bied. Wie dit nie raaksien nie, sal met die teks sukkel.

Dit is maar enkele van die dinge wat my getref het. ‘n Mens sal lank, lank met die gedeelte besig kan bly, omdat Thomas se mistiek soos ‘n goue draad daarin voorkom en vele dimensies het. ‘n Mens sou byvoorbeeld kon kyk hoe lees Thomas die Bybel in hierdie gedeelte – want op sentrale plekke val hy terug op Bybelse taal om sy mistieke gedagtes te verwoord.

Maar ek is uiteindelik veral geraak deur Thomas se eintlike fokus in die gedeelte. Dit gaan nie vir hom, soos ‘n mens uit bostaande opmerkings van my sou wou aflei, om nederigheid en self-prysgawe nie. Thomas dring deur na iets veel diepers en belangrikers. En ‘n mens sien dit duidelik aan die oppervlakte struktuur van die gedeelte. Die wakker leser van my analise hierbo sou gemerk het dat ek vers 7 nie bepreek het nie. Dit was doelbewus.

Vers 7 is vir my die hart van die saak: Thomas skryf: Iemand wat iets ander soek as net alleen en “suiwer” God (pure Deum), sal niks anders as narigheid en smart vind nie. Die lewe van afsondering is dus die lewe op reis na God. Suiwer en alleeen God.

Dit is vir Thomas so belangrik dat hy heel aan die einde van die hoofstuk weer daarheen terugkeer as hy oor “nederighed” praat (vers 12). Nederigheid, sluit hy af kom uit ‘n mens se “hele hart” op, skryf hy in Bybelse taal. En hierdie hele hart soek dit “ter wille van God”.

Dit is wanneer ‘n mens by God leef, dat ‘n mens jou eie nietigheid begryp. Daarmee omring Thomas die tweede deel van hierdie hoofstuk met verwysings na God (vers 7 en vers 12). Ons nederigheid word dus, selfs in die vorm van sy hoofstuk, omring en gedra deur ons verhouding met God.  Afsondering, nie noodwendig in 'n klooster of kommune nie, maar afsondering van alles wat tydelik, verbygaande, oppervlakkig is, het alleen sin as dit gedryf word deur die gees van Christus en die soeke na God alleen.

Hier is my teksanalise:

1. Oportet quod discas teipsum in multis frangere:
si vis pacem et concordiam cum aliis tenere.
2. Non est paruum in monasteriis vel in congregacione habitare,
et inibi sine querela conuersari:
et vsque ad mortem fidelis perseuerare.
3. Beatus qui ibidem bene vixerit:
et feliciter consummauerit.
4. Si vis debite stare et proficere:  teneas te tamquam exulem peregrinum super terram.
5. Oportet te stultum fieri propter christum: si vis religiosam ducere vitam.
6. Habitus et tonsura modicum confert: sed mutacio morum
et integra mortificacio passionum  verum faciunt religiosum.
 
***************

7. Qui aliud querit quam pure deum, et anime sue salutem:
non inueniet nisi tribulacionem et dolorem.
8. Non potest eciam diu stare pacificus:
qui non nititur esse minimus,
et omnibus subiectus.
9. Ad seruiendum venisti: non ad regendum.
10. Ad paciendum et laborandum scias te vocatum: non ad ociandum vel fabulandum.
11. Hic ergo probantur homines:
sicut aurum in fornace.
12. Hic nemo potest stare:
nisi ex toto corde se voluerit propter deum humiliare.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive