Tuesday, February 01, 2011

Die Verborge raaksien


Jesus vertel die Gelykenis van die Barmhartige Samaritaan (Lk.10:25-37) nadat iemand vir hom vra wie sy naaste is.

Die priester en die leviet wou nie die pap-geslaande slagoffer van die aanranding raaksien nie. Hulle het ‘n draai om hom geloop. Eerlik gesê, wie kan hulle kwalik neem. Daardie pad was immers maar gevaarlik. Lewensgevaarlik. Jy waag jou lewe deur so ‘n slagoffer te gaan help.

Die Samaritaan het hom egter innig jammer gekry. Hy kon nie verby die gewonde man kyk en loop nie. Hy het in daardie pap-geslaande man iemand gesien wat hom nodig gehad het. Die man het niemand gehad nie – almal het hom vermy. Niemand het hulle oor sy wonde gekwel nie. Hy, die Samaritaan, was die naaste aan hom.

Die Samaritaan was dalk bang dat die diewe hom ook sou aanrand en beroof. Maar hy het ook besef die gewonde mens het hom nodig gehad. Hy het toe die man toegelaat om in sy lewe te kom en om dit in ‘n ander rigting te stuur. Hy het die gewonde gaan haal en versorg.

Hy sou een van daardie mense wees van wie Jesus later sou sê: Ek was naak, arm, honger. Jy het my kom opsoek en versorg. Gaan in in die vreugde...

Die Samaritaan het nie die man raakgesien nie. Hy het verby die wonde gekyk, en Nood ontdek.

Ons kyk na die Samaritaan met verwondering. ‘n Mens staan eintlik ‘n bietjie terug: hy is so anders, so waaghalsig, so onselfsugtig. Hy is so anders as ons, wat, as ons eerlik is, soos die priester en die leviet optree.

Jesus vertel die storie van die Samaritaan om sy luisteraars aan die dink te sit. te laat wonder, uit te daag om anders te word, getransformeer te word, om te waag, om vir die liefde selfs dom dinge te doen.... “Gaan doen dieselfde....”  

Raak betrokke, word ‘n naaste van hulle wat niemand het nie... Wie sy lewe prysgee...

Dit is ook moontlik om die gelykenis van die Samaritaan te lees, dit toe te juig en dan weer vroom met jou lewe aan te gaan.

Dit is iets anders om dieselfde te gaan doen...  Wie sy lewe prysgee, wie waag...

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive