Die donker nag van die siel is nie so ‘n eenvoudige saak soos wat ‘n mens uit gister se blog sou wou dink nie.
Dikwels word twee aspekte van die donker nag onderskei: die donker nag van die suiwering van die sintuie en die donker nag van die suiwering van die gees.
Die donker nag van die sintuie is op sy beurt ook nie so eenvoudig nie:
‘n Mens moet daarin ‘n aktiewe en ‘n passiewe kant onderskei: Om met God verenig te word, sodat God alles in die mens is, beteken dat mense hul gehegtheid aan materiële dinge moet afleer. Daarom soek ‘n mens al hoe meer na ‘n gebedslewe. ‘n Mens begin jaag na ‘n lewe van eenvoud. Daarom sweer ‘n mens vermorsing af, begin insien hoe ‘n sober lewensstyl sin maak. Dit word vir ‘n mens belangrik om jou af te sonder, veral om die regte perspektief op alles wat jou daaglikse lewe so roekeloos en dikwels sinneloos volmaak, te kry. Jy kan selfs besluit om te vas, om reinheid te beoefen, om ‘n armoede-ideaal na te streef. Op verskillende maniere kan ‘n mens dan deur ‘n asketiese leefstyl aktief wys hoe belangrik geestelike dinge vir ‘n mens is.
Dit beteken nie dat ‘n mens iewers in ‘n klooster moet gaan sit of ‘n suur lewensstyl moet handhaaf nie. Daar is immers steeds ‘n oorvleueling tussen wat ‘n mens op jou geestelike reis soek en waar ‘n mens elke dag jou bestaan voer. Elke keer weer sal daar dinge oor ons pad kom wat ons bly sal maak, of ons aandag gaan vra, of ons gaan opwerk. Die gewone dinge van hierdie wêreld bly ‘n deel van ‘n mens se belewenis. Dit uitdaging is om nie om hulle te ontvlug nie, maar om hierdie dinge steeds weer hulle regmatige plek te gee. Hulle is ‘n onvermydelike deel van ons bestaan, maar elke keer weer beleef ‘n mens hulle in die lig van die dieper, vaster verhouding met God. Dit kan op ‘n besonder eenvoudige vlak gebeur dat ‘n mens steeds weer dieper moet kyk en leef: Of ‘n mens eet of drink, vra Paulus, doen alles tot verheerliking van God (Fil.4:4), in ‘n wonderlike geestelike uitspraak. Deur hierdie aktiewe dade van onthegting sterf ‘n mens af aan die sintuiglike, sinlike dinge en stel ‘n mens jou hart oop vir God.
Dit kan ‘n opwindende reis word. Daar is soms diep rykdom in die wete dat ‘n mens verby die oppervlakkige kan raaksien wat werklik saak maak.
Maar dan is daar die passiewe kant. Dit is ‘n ding om aktief ingestel te bly op die geestelike dinge. Dit is ‘n waagstuk met onvoorsiene gevolge. En tog kan die nie anders nie – dit is ‘n gedrewenheid – of, tradisioneel gesproke, die werking van die Gees: ‘n Mens gaan hierdie waagstuk aan om jou oop te stel vir God, omdat jy op ‘n keer die wonder van die Goddelike liefde ervaar het. Wie een keer deur God aangeraak is, is in haar of sy hart gebrandmerk tot die liefde. En in verlange na méér van daardie liefde, waag ‘n mens om jouself oop te stel, verby al jou aardse belange heen, verby al jou oppervlakkige, tydelike, verganklike sintuiglike behoeftes en begeertes heen, vir wat nooit vergaan nie. Die brandmerk in die hart herinner die mens herhaaldelik daaraan dat die liefde die diepste is, ewige is en onverganklik bly.
Hierdie innerlike verlange na God kan egter ook besmet word of onvolmaak wees. Daarom moet die onthegting verdiep en omvorm word. Vir hierdie transformasie deur God is die verlangende hart ook gereed en selfs daarop ingestel.
Tog is dit nie maklik nie: die keuses wat die gelowige mens vir die geestelike lewe maak, is volgens eie insig, dikwels tog ook maar tot eie voordeel. Dit is selfs mooi, vroom en iets om voor op die skouer geklop te word. Wat die mens doen, kruis egter met God se werking. En dit is nou waar die passiewe inkom: terwyl ‘n mens die geestelike lewe jaag, is daar steeds weer die gebed: “doen slegs U wil, Heer.” Of: nog harder: “Nogtans nie my wil nie....” Die Goddelike handeling kan pynlik wees, selfs die lydensbeker behels, want dit is wanneer ons nog verder van die materiële, sintuiglike wêreld losgemaak word – op maniere wat ‘n mens nie voorsien het en nie eintlik verwag het nie. Dit bring pyn, want dit is God se loutering tot die vereniging met God. Die Snydokter, wat kan sien watter snywerk regtig nodig is, is aan die werk.
Passief, of miskien meer gepas: afhanklik van God, wag die gelowige mens om verder ontheg te word. Die donker nag van die sintuie skop in. God laat die gelowige hang in die donkerte aan die kruis. Die Getsemane-gebed word verhoor. Dit is dan dat die geestelike vormingsproses begin vlamvat: dit is die tyd dat ‘n mens – ondenkbaar – die pyn wat oor die lewenspad na jou kant uitgedeel moet word, as genade moet ervaar. Dit is die tyd van aanvaarding, gehoorsaamheid, selfs onderwerping. Dit is die tyd om, selfs in die donker, te bly uitroep, met ‘n skor stem, na die Vader.
Dit is hier, op die punt, waar ‘n mens dikwels mense hoor sê: my lyding het my nader aan God gebring...
Afgesien van hierdie nag van die sintuie, is daar die tweede, meer ingrypende nag van die siel. Dit is ‘n nog radikaler uitdaging wat die gelowige konfronteer dikwels wanneer hy of sy ‘n lang reis met God afgelê het. Nie baie mense kom by hierdie punt van die reis uit nie, hoewel Paulus dit in die hart van sy evangelie uitgespel het. Meer daaroor later.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.