Ons klap ywerig hande vir sprekers met wie ons saamstem. En hulle wat verdag is, wat anders as ons dink, wat “vreemde leringe” verkondig – vir hulle is ons applous flouerig. En ons klap ook maar net flouerig hande vir hulle wanneer ons na hulle moet luister.
Nog liewer sal ons hulle nie wil aanhoor nie, hulle nie uitnooi om met ons te praat nie. Ons is onverdraagsaam teenoor hulle wat nie dieselfde as ons dink nie. Hulle is eintlik ons “vyande”.
Op die manier word mense dikwels gedemoniseer tot “vyande” - tot vyande van die volk, van die kerk, van die evangelie, van die waarheid en van die gemeenskap.
Sommige sien in hierdie demonisering en onverdraagsaamheid ‘n weggesteekte geestelike onvolwassenheid of selfs ‘n geestelike siekte-toestand. Hulle waarsku: Agter onverdraagsaamheid skuil dikwels angs vir die ander. Die ander een word as ‘n bedreiging ervaar. Hulle word gevrees omdat hulle ‘n mens herinner aan wat in jou innerlike leef. Die ander word tot ‘n sondebok gemaak vir die swakhede wat ‘n mens in jou eie lewe nie wil erken nie. Veroordelings en beskuldigings is soms projeksies van ons eie skuldgevoelens is. Die kwaad wat daar in ‘n mens self is, word weggepraat deur ander te demoniseer. Of: Die kwaad wat uitgewys word, is ‘n manier om eie kwaad te probeer verdoesel.
Daar is ‘n dieper en donker kant aan ‘n eiegeregtige, veroordelende en verwerpende lewenshouding. Wie die ander oordeel, doen dit immers met die eiewaan dat hy of sy “reg” is, die waarheid ken, nie foute maak nie en dus vinger kan wys en die dwalendes kan uitwys.
Die klassieke voorbeeld is die owerspelige vrou in Johannes-Evangelie. Vir hulle wat haar wou stenig, was sy die sondebok. En Jesus kyk diep in hul innerlike met die opmerking dat die een wat sonder sonde is, maar heel eerste moet begin met die steniging.
Asof hulle blaamloos lewe, nie owerspel pleeg nie. Asof owerspel nie reeds in die begerende blik te vinde is nie...
Geestelike volwassenheid impliseer hierteenoor ‘n besef van eie feilbaarheid. Elke dag weer, in die geestelike reis, word die soekende gekonfronteer met eie demone, met die donkerte in sy of haar eie bestaan.
En ook: Die geestelike reis is immers ‘n ontdekkingstog – om steeds weer meer en meer kante van die waarheid te ontdek. Daarom sal die geestelike mens in die woorde van die ander ook soek na wat sin maak, wat ook die waarheid helderder belig.
En ook: Die geestelike reis is immers ‘n ontdekkingstog – om steeds weer meer en meer kante van die waarheid te ontdek. Daarom sal die geestelike mens in die woorde van die ander ook soek na wat sin maak, wat ook die waarheid helderder belig.
In die episode van die owerspelige vrou is dit juis die vromes wou Jesus wou vastrek. Die waarheid was duidelik aan hulle kant en teenoor die vrou. Beskaamd moes hulle uiteindelik van Jesus, die “vyand” van die volk en van die geloof, leer. Hy het hulle aandag omgedraai – weg van die vrou, na hul eie innerlike demone.
Watter merkwaardige slot is daar tog in Johannes 8:9: Dit moet ‘n mens die skrifgeleerdes en die fariseërs ter ere nagee: Jesus, wat hulle wou versoek (Joh.8:6), Jesus, hul opponent, het hul “gewete bestraf”. Só het sommige van die vroegste manuskripte (sien die Ou Vertaling) die teks weergegee. Maar selfs die oorspronklike teks (sien die Nuwe Vertaling) vertel dat hulle een vir een, stilweg, van die oudste tot die jongste, weggegaan het. Die simboliek is duidelik: Jesus se kriptiese antwoord het hul stilgemaak.
Op die manier word die leiers bewus gemaak van die Bergrede-uitspraak: Moenie oordeel nie (Mt.7:7).
Dus: Nie te gou verwerp nie. Nie te gou vinger wys nie. Nie te veel raas nie.
Veral na binne kyk. Hoe meer ‘n mens na binne kyk, hoe meer heken ‘n mens die diep afgronde in jou eie bestaan en hoe meer begrip kom daar in ‘n mens se eie lewe vir die ander en die manier waarop die ander sy of haar geestelike reis moet loop.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.