Baie dinge wat ons doen is outomatiese handelinge. 'n Mens dink nie daaroor nie. Jy loop sonder om te dink jy gaan jou een been optel en voor die ander een sit.
Ek sit en kyk die kleintjies oor die kersfeestyd: hoe onbeholpe hulle nog met die mes en die vurk of selfs die lepels eet. Die handjies is nog nuut, die uitskep en in die mond sit van die kos verloop maar nog sukkel-sukkel.
Die groot mense, daarenteen, eet vlot - hulle smeer, sny en sluk sonder om te dink.
Maar dit is wonderlik om te sien hoe daardie kleintjies elke skeppie bedink, optel en beleef. Een van die dae, soos die tyd aanstap, eet hulle vinnig, vlytig en sonder om te sukkel. Die mag van die gewoonte maak alles makliker.
Om te dink aan gebed as verlange na God is nogal iets. Hoe onbelangrik word 'n klomp ander dinge dan waarna ons "normaalweg" verlang. Lig, lig, lig kan ons dan leef, kan ons baie dinge relativeer, prysgee, opsyskuif, met minder klaarkom. Vol word die hart immers van hierdie immer groeiende verlange na die Liefde, sodat dit 'n mens se lewe begin oorneem.
Dit is soos 'n outjie wat so verlief is dat hy min eetlus het.
En tog is dit net die beginpunt: want wat behels hierdie verlange en hoe kom dit tot uitdrukking?
Wat my lei tot die eintlike punt waarby ek vandag gebring is in my leeswerk: waarom buig ons ons hoofde wanneer ons bid? Waarom sluit ons die oë? Waarom vou ons die hande? Waarom kniel ons? Waarom het gelowiges in Bybelse tye hul hande oop hemelwaarts gesprei? Is dit nie al veelseggende dinge wat iets van die karakter van gebed as verlange na God uitspel nie?
Hieroor lees ek. En ek besef ons leef so vinnig, bid so vinnig, dat ons nie meer eintlik besef wat alles met gebed gepaard gaan nie. Miskien moet 'n mens ten opsigte van gebed raak soos die kleintjies: so bietjie sukkel-sukkel om dinge reg te begin doen. Die mag van die gewoonte kan ons die wonder van gebed ontneem - selfs al praat ons oor gebed as die verlange na God. Want hierdie verlange het baie dimensies en is 'n ryk, omvattende ervaring. Hopelik hieroor meer. En die toe oë, die gevoude hande, die geboë hoof druk iets hiervan uit. Daaroor wil ek verder skryf.
Ons bid dikwels sonder om te dink wat ons doen. Ons bid dikwels sonder om die rykdom van gebedshandelinge wat in spiritualiteit na vore kom, ons eie te maak en so aan ons verlange na God uitdrukking te gee.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.