Monday, January 24, 2011

Om fel te stry en om vroom te bly. Oor die spiritualiteit van Voetius.

Die bekende Sinode van Dordrecht het met sy Dordtse Leerreëls, wat so bekend in die Calvinistiese wêreld geword het, fel gereageer teen die Remonstrante en die Rooms-Katolieke kerk. Die argumente was hooggeleerd en uitgebreid.

Die heftige besprekings van die Sinode het grootliks bygedra om ‘n bepaalde negatiewe beeld van die Calvinisme te skep. ‘n Belangrike beswaar teen die Calvinisme is dan dat dit uitermate fokus op allerhande strydvrae en teologiese dispute – asof dit dan pure haarklowery word.

Gisbertus Voetius, die latere teologiese professor aan die teologiese skool waaruit die Universiteit Utrecht sou ontstaan, was die jongste predikant wat die Sinode van Dordrecht bygewoon het. Sy geskrifte bevat ook teologiese dispute. Tog het hy groot klem gelê op ‘n wetenskaplike se persoonlike vroomheid. Maar dit was ook hy wat Thomas van Kempen se Navolging van Christus besonder hoog geag het. Voetius word daarom somtyds beskuldig dat hy ‘n dubbele lewe lei: aan die een kant was hy ‘n skolastieke teoloog wat in allerhande dispute kon verval, terwyl hy aan die ander kant ook vroomheid sterk beklemtoon het.  

Teen 1664 skryf Voetius sy boek: “Die praktyk van vroomheid”, waarin hy veral aandag gee aan meditasie, gebed en bekering. Al hierdie momente was vir hom heenwysers na lewensheiliging. Alle menslike kennis word oortref deur ‘n mens se soeke na persoonlike vroomheid. Hy word dikwels as ‘n belangrike verteenwoordiger van die piëtisme beskou. Daarom is die teologiese debatsvoering nie om punte teenoor teenstanders aan te teken nie, maar om ‘n dieper dimensie aan die persoonlike geloofslewe te geen.

Ek verwonder my atlyd dat iemand wat soveel klem op persoonlike lewensheiliging gelê het en wat so 'n bekende teologiese figuur van sy tyd was, so min gelees word.  Ek neem my voor om meer van sy werke te leer ken – om te probeer verstaan waarom hy terselfdertyd so hoog geag en tog ook weer so sterk gekritiseer is. Miskien is ‘n herlees van hom leersaam in die lig van die situasie waarin teologie hom bevind. Maar ek wil hom graag ook lees om meer te wete te kom van die Nadere Reformasie, wat so 'n groot invloed op ons eie konteks en tradisies gehad het. 

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive