Ek loop vanaand die skildery raak van Sint Nikolaas, die vierde eeuse biskop wat goud deur ‘n arm familie se venster gooi. Hulle is in geldelike verknorsing, vertel die tradisie ‘n baie bekende verhaal. As die familie nie geld kry nie, word die drie dogters as slawe of prostitute verkoop.
Nikolaas gaan gooi stilletjies die sak goud in die nag deur die venster van die huis, sodat niemand hom kan sien nie. Gou is die geld op en die familie weer in die nood. Die pa, wat na die tweede anonieme sak goud deur die venster geval het, wag Nikolaas in en as hy die derde keer goud deur die venster gooi, sit hy Nikolaas agterna. Hy vra hom:
“Waarom gee jy ons geld?”
“Omdat julle dit nodig het,” kom die antwoord.
“Maar waarom sê jy nie vir ons van wie dit kom nie?” vra die pa.
Hy kry as antwoord: “Omdat dit goed is om te gee en dat net God daarvan weet.”
Nikolaas is een van die gewildste name op die heilige kalender. Sy feesdag is 6 Desember. Reg geraai: hy is die kerklike weergawe en voorvader van ons huidige Vader Kersfees. Gebore uit ‘n ryk familie, het hy nogtans nie veel aan geld gehad nie. Hy het hy sy lewe gewy om mense wat swaar kry, by te staan.
Wat my interesseer is dat sy verknogtheid aan God wat hom inspireer om aalmoese anoniem te gee, hom later sou dra toe hy deur Diokletianus, die Romeinse keiser, vervolg is. Hy is ook, heel uniek, tot biskop gewy al was hy nooit ‘n priester nie.
Dit bly by my – hierdie gedagte: Dit is goed genoeg as God van iets weet.
En die skildery is ‘n pragtige bonus.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.