Johannes Klimakos (of Climacus; sesde/sewende eeu n.C.), uit die Oosterse Christendom, wat ‘n monnik in die bekende Braambos-klooster by Sinaï was (tans die Sint Catharina klooster), is bekend omdat hy ook die geestelike reis, soos Genesis 28, uitgebeeld het as ‘n leer na die hemel en as die weg tot groter eenwording met God. Sy bekendste en besonder invloedryke werk het juis die naam: Die Leer na die Paradys (De scala paradisi).
Hy skryf prakties, vermy slim teologie en wil eenvoudig kommunikeer. Sy werke sou later groot invloed op Thomas van Kempen se leermeesters uitoefen.
Ek is geboeid deur wat hy skryf: Moenie, as jy die geestelike reis loop, te gou dink om die aanskouing van God te beleef nie. Wees eerder bekommerd wanneer jy nie genoeg boetedoening in jou lewe ervaar nie. Die geestelike reis is juis om verbete teen die kwaad te veg. Leef in berou oor die verkeerde wat so ‘n houvas op jou lewe het. Staan op uit die gevalle toestand deur afskeid daarvan te neem.
Hiermee saam moet die pilgrim soek om in gebed saam met God, verenigd met die Here te wees. Klimakos leef uit die gebed.
Die grootste van alles, sluit Klimakos hierdie boek mee af, is die liefde. Sy laaste hoofstuk besing die ontsaglikheid van die liefde.
En dan: Wie die kwaad bestry, boete doen, bid, kom tot innerlike rus. Sorge val weg. Vrede kom woon in jou. En blydskap oorweldig jou. Want nou leef ‘n mens in die genade van God, word ‘n mens teruggenooi in God se paradys, in die toestand wat God vir ons toewens. Om te rus in God, is die hoogste rang waarna ‘n mens kan streef.
Maar pasop: selfs wanneer ‘n mens in die goddelike rus is, moet ‘n mens waaksaam wees. Soos ‘n kat, skryf Klimakos in die sewende eeu, moet die pelgrim altyd, selfs as hy skynbaar sluimer, let op die muis – die sonde en die duiwel wat die rus wil kom versteur. Die Jesus-gebed, kort, enkele woorde, is ‘n magtige wapen tot waaksaamheid.
Maar gebed is nie baie praat nie. Klimkos het die stilte hoog aangeprys – en dit is waarop hierdie lang aanloop uitloop. Hy skryf:
“Intelligente stilte is die moeder van gebed, vryheid van slawerny, bewaarder van ywer, ‘n bewaarder van ons gedagtes, ‘n wag teen ons vyande, ‘n metgesel van rustigheid, die teensy van dogmatiek, ‘n groei in kennis, hulp tot kontemplasie, die verborge reis na bo.”
Baie woorde (!) om die stilte aan te prys.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.