Sunday, January 02, 2011

Stille ontferming. Oor Matteus 6:3 en geestelike dissipline.

Ek loop al ‘n ruk met ‘n klomp gedagtes oor barmhartigheid rond. Iewers, byvoorbeeld, kwel dit ‘n mens as jy ander wil help, maar nie altyd weet wat die beste manier is om dit te doen nie.

In die Bergrede praat Jesus dikwels oor barmhartigheid. “Liefdadigheid” noem die 1953 vertaling dit. Vir Jesus is dit ‘n belangrike tema – dit weet ons ook uit Matteus 25 waar ons goed-wees vir ander ons binnegaan in die Koninkryk bepaal. 

Dit is in werklikheid vir Hom lewensbelangrik.

Of, anders gestel: Om by God te kan wees, moet ‘n mens geestelik ingestel wees op die nood van ander.

As ‘n mens die gedeelte daaroor in Matteus 6 lees, is dit opvallend dat Jesus steeds weer vra dat ‘n mens jou sal ontferm sommer so stilweg, sonder dat jy wil hê dat mense dit moet sien. Om by God te kan wees, moet ‘n mens dus stilweg soek om die nood van ander te verlig.

Dit is nogal ‘n opdrag, besef ek. Want ons gee ons geld, geskenke, tyd en gawes eintlik met die verwagting om erkenning te kry. Dankbaarheid wil ons hê. En ons voel verontreg as ons dit nie kry nie, vinnig om ander te verwyt dat húlle ondankbaar is.

Dit is eintlik swaar om stilweg te moet gee.... Dit vra 'n groot stuk onselfsugtigheid.

En tog - wat ons dikwels nie deurgrond nie, is dat erkenning wat ons van mense kry drie slegte dinge doen:

Dit maak van hulle afhanklik van ons. Mense vir wie ons goed is, dink altyd hulle “skuld” ons. En eintlik is hulle reg, want ons dink eintlik onbewus hulle “skuld” ons ten minste dankbaarheid. Ons maak hulle in der waarheid onvry.

En, tweedens, mense sien ons raak vir wat ons aan hulle kan gee, in plaas van wie ons as mense is. Hulle kyk ons na die beursie, nie in ons oë nie.

En, derdens, maak dit ons selfsugtig. Want ons omgee vir ander is eintlik ‘n omgee vir onsself. Ons wil die gevoel van tevredenheid ervaar.

Om stilweg te gee is ‘n diepe wysheid omdat dit hierdie slegte dinge vermy. Om stilweg te gee is die beste - ter wille van onsself. Immers wil niemand bemin word vir sy of haar besittings of geskenke nie. Ander moet vir ons lief wees oor wie ons is, nie oor wat ons het nie.

Ek lees die teks dus oor en oor. Daar waar Jesus in Matteus 6:3-4 sê:

Maar jy, as jy liefdadigheid bewys, laat jou linkerhand nie weet wat jou regterhand doen nie, sodat jou liefdadigheid in die verborgene kan wees; en jou Vader wat in die verborgene sien, Hy sal jou in die openbaar vergelde.
(NV: Nee, as jy iets vir die armes gee, moet jou linkerhand nie weet wat jou regterhand doen nie)

Dit is ‘n geestelike dissipline om stilweg liefde teenoor ander te bewys. So stilweg dat hulle meestal nie eers sal weet wie vir hulle soveel goedheid bewys het nie.Dit is iets wat 'n mens jou eie maak deur die werking van die Gees - want normaalweg druis dit in teen ons normale behoeftes om erkenning en kontrole.
 
Dit is, weet ek, moeilik om dit as natuurlike mens te begin doen. Maar hoe bevrydend is dit as ‘n mens dit uiteindelik wel kan doen vanuit 'n verhouding met God. Jy sien met blydskap hoe die nood van die ander verlig word. Jy sien die ontspanning in daardie persoon se lewe. Jy besef hulle dank God vir die goedheid wat deur jou verborge gawe aan hulle betoon is. En dit is tog die allerbeste ding wat kan gebeur: dat God geloof word. 

Want dit is 'n goddelike gawe om te weet dit is groter om te gee as enige iets wat jy kan ontvang en heerliker as enige iets wat jy kan doen. Alles wat ‘n mens aan ander kan gee, kom immers van God. 

En so  kan ‘n mens volhou en allerhande gedagtes opeenstapel.

Ek onthou, destyds, met ‘n groot insameling in die gemeente, toe iemand ‘n R20 000 bydrae gemaak het. Daarmee kon die projek waarvoor geld ingesamel is, dadelik begin. Dikwels het ek gewonder oor wie daardie persoon was.

In onlangse tye het my fokus geskuif: ek verwonder my nou meer daaraan dat God vir mense so kan aanraak dat hulle uit blote liefde sulke anonieme skenkings kan maak. Ek bedink dit steeds: hoe groot is die liefde wat mens inspireer om so gehoorsaam aan Matteus 6:3 te wees, om so sonder eie belang te kan optree. Ek verbly my oor die goddelike liefde.

Ek verstaan ook nou iets anders bietjie beter, dink ek: dat hulle so stilweg, so ryklik kan gee, sit weer 'n nuwe groeiproses aan die gang. Wie weggee, ontdek die vreugde wat die bring, leer ken die krag van die liefde, groei dieper in en nader aan die God van die liefde. 

Matteus sê dat mense wat in die verborgene lief het, in die openbaar vergoed sal word. Hy dink sekerlik nie daaraan dat God ‘n klomp geld gaan gee of een of ander beloning nie. Hy dink aan daardie dag dat ‘n mens vir altyd en openlik in God se ewige goedheid sal oorgaan en uiteindelik een sal word met die Liefde wat ‘n mens al hoe meer tot stille diens begeester het.  Niks kan dit stuit nie - dat die liefde in ons terugkeer tot die Liefde waarvandaan dit gekom het.


No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive