Sunday, January 09, 2011

Om “heilig” sonder woorde te sing! Oor stilte.


Terwyl ek tans verder aan die lees is oor stilte en sien hoe skrywers dit al hoe meer uitlig teen die agtergrond van ons raserige tyd waarin alles om ons gevul is met besige gejaagdheid, kom ek af op wat die Siriese wyse, Abraham van Nathpar, eeue terug al oor gebed gesê het:

“As ons bid, stil bid, sonder om klanke met ons stem te maak, is ons soos die engele Michael en Gabriël. Want,” vervolg hy, “hulle sing hul ‘Heilig’ sonder enige woorde.”

Om “heilig” sonder woorde te sing!

Dit is maar een van vele uitsprake in die Bybel en van wyses oor baie eeue waarin stilte aangeprys word. Ek verbaas my byvoorbeeld oor die verse in Spreuke waarin wysheid met min of geen woorde verbind word (Spr.10:19; 11:12; 12:23, ens).

Maar dit gaan vir die wyse mense deur die eeue nie bloot net om die afwesigheid van woorde nie. Dit is nie die stilte wat tel nie.

Dit gaan om wat die stilte vir ons moonlik maak. Want as dit stil om en in ons is is, dan kan ons dit “hoor” wat werklik saak maak, kan ons dit ervaar wat ons lewe vol en ryk maak.

Want die stilte is ‘n gevulde stilte. As ons verby die staalgordyn van al die baie woorde en geraas om ons gedring het, kom ons uiteindelik in die stil ruimte waar ons die Verborgene ontmoet. Die stilte is die deur na die plek waar God woon.

Die stilte waarin ons is, wat ons voor God laat staan, bring by ons die heilige besef, die ontsagwekkende wete, dat God so onnaspeurlike groot is, dat selfs ons mooiste, beste, digterlikste woorde eintlik niks oor God kan uitdruk nie. Dit verwonder ons: ons “heilig, heilig, heilig” is eintlik ons roep sonder woorde, ons eerbied gevul met dringende verlange om in die stilte, in die Teenwoordigheid te kan bly woon. Want die stilte verkwik, bring rustigheid en rus, laat ons in die ewige arms van die Geliefde vrede vind.

God kan immers nie naasteby in ons woorde vasgevang word nie. Lasterlik is dit om selfs die moontlikheid te bedink dat ons netjies weet wie God is. Apofatie.

Ons weet dit tog uit ons daaglikse lewe:  soms ontmoet ons iemand wat oorloop van liefde. Dit is oomblikke waarin ‘n mens skielik besef hoe beeldskoon egte Liefde is. By sulke mense soek ons na woorde. Ons vind nie taal wat uitdrukking kan gee aan wat ons beleef nie. Dikwels kan ons sulke mense, sulke oomblikke maar net vashou, omhels, by hulle stilweg kuier en hul woordeloos geniet. Ons staan voor ‘n raaisel, probeer hier en daar iets stamel. Maar uiteindelik wil ons maar net terugstaan en verwonderd kyk na wat in geen woord uitgesê kan word nie.

Hierin, in die Liefde wat ons tot stille verwondering bring, woon die beeltenis van God.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive