Sunday, January 23, 2011

Die vurige verlange na die goddelike liefde. Kanselgebed voor die nagmaal

Kanselgebed voor die bediening van die nagmaal.

N.a.v. Thomas a Kempis, Navolging 3.16 se onvergeetlike gebed:


In hierdie unieke oomblik, by hierdie verborge ontmoeting, by die liefdesmoment waarna ek vuriglik verlang het, ken U, beter as ek, my swakheid en leegheid. ‘n Lewe donker van kwaad en ondeug lei ek. Dikwels neem ek die uitdraaipad, is ek verdwaal, verval ek in onreinheid.

Na U kom ek om genees te word, om troos te ontvang, om die lig te sien.

U wat alles ken, tot U bid ek. U ken my van binne uit. U alleen kan my vertroos en bystaan.

U ken my gebreke. U weet hoe arm ek is aan die goeie. Ek staan voor U, arm en naak, terwyl ek smeek om genade en om ontferming.

Verkwik my, ek wat ‘n bedelaar is. Verdryf die kilheid in my, laat my baai in die warmte van U liefde. Laat my blindheid wyk voor die helderheid van U teenwoordigheid in my lewe.

Neem van my my bitterheid. Laat my met geduld my teenspoed ervaar. Gee dat ek nie meer sal dink aan alles wat my terughou en vasbind aan aardse ellende nie.

Laat my hart woon  by U in u hemelse teenwoordigheid, vry van alle aardse sorge. Wees U vir my so soet soos heuning, my ewige spys en drank, my liefde en my blydskap, my soetigheid, my alles.

Laat my hart totaal ontvlam deur U teenwoordigheid. Neem my vir U, omvorm my vir Uself. Dan sal ek een gees met U word, wanneer U genade my aan U bind en U my laat deel in U brandende liefde.

Laat my nie honger en dors van U weggaan nie, maar bly in ontferming besig met my – soos U deur die tye heen in verwondering U heiliges lief gehad het.

As ek maar tog aan die vlam van U liefde sou kon deel en aan myself sterwe! Is U dan nie die Een wat altyd in liefde brand nie, wie se liefdesvlam nooit uitgedoof word nie? Is U dan nie die Een wie se liefde die hart suiwer en die verstand verlig nie?

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive