Saturday, January 08, 2011

Bedagsaamheid

Vanoggend staan ek by die betaalpunt in die winkel. Voor my staan ‘n jongman in sy twintigs. Hy het, soos die persoon voor hom, sy winkelwaentjie eenvoudig agter hom gelos. Hy staan om sy goed te betaal en gaan dan eenvoudig wegstap, ongeërg oor die ongerief wat hy ander mense in die ry agter hom aandoen.

Die gevolg is dat die mense wat in die ry agter hom met hulle winkelwaentjies staan, nie by die teller kan uitkom nie. Twee waentjies blokkeer hulle toegang.

Ek het net twee items en dra dit in my hande. Terwyl ek staan en wag om te betaal met die twee items op die toonbank voor my, kom die oueriger vrou agter my in die ry en neem die twee winkelwaentjies en sê: “Hierdie waentjies moet daar buite staan.” Sy wil die twee waentjies verby ons stoot sodat sy haar volgepakte waentjie nader kan bring.

Ek staan terug om haar plek te gee. Maar die jongman voor my roer nie ‘n tree nie. Hy bied nie aan om sy eie waentjie van haar te neem en uit die pad te stoot nie. En hy blokkeer eenvoudig haar pad. Toe sy hom vra om verby te kom, sê hy ook nie ‘n woord nie. Hy ignoreer haar net nukkerig. Sy staan. Sy kan nie verby kom nie.

Ek kan nie glo wat ek sien nie.

Ek neem die waentjies by haar en trek dit met moeite verby hom. In die verbygaan, is my bloeddruk hoog en ek sê hom net daar aan om nie so ongeskik te wees nie.

Hy sê egter nie ‘n woord nie en bly nors staan.

Net die waentjies uit die pad, en die ouer vrou nou net langs my, staan ons almal in die ry. Die jongman wag op die teller om sy goedere klaar te verreken. Hy sê nog steeds niks nie. Maar ek sien hy kan nie een van ons in die oog kyk nie.

Hoe sal ‘n mens weet wat in sy donker binneste aangaan. Ek kan nie indink dat hy die vrou geïgnoreer het omdat sy van ‘n ander kleur as hy was nie. Dus dink ek by myselwers, verwonderd oor wat ek hier waarneem: sou hy so grootgeword het? Is hy tuis nie geleer om ouer mense te respekteer nie? Is hy nooit vertel dat ‘n mens vir ander omgee, beleefd is nie, al is dit net omdat jyself ook iewers eendag in so ‘n posisie gaan beland? En is hy nie geleer om bedagsaam te wees sodat ander mense nie verontrief word nie? Wat sou hy doen as dit sy bejaarde ma was?

Terwyl ek vandag hieroor bly nadink, besef ek naderhand wat ek uit hierdie episode wil leer. Dit gaan nie net bloot om bedagsaamheid teenoor ander te bewys nie. Dit sekerlik ook. Dit is ook nie net ‘n kwessie van bedagsaamheid oor selfs die kleinste dinge nie. Dit sekerlik ook. En ek besef ook hoe ‘n mens ‘n oordeel oor jouself bring deur die manier waarop jy selfs ‘n winkeltrollie in ander mense se pad laat staan. ‘n Mens trek die gordyn van jou donker binneste weg voor jou ontrouheid in die klein dinge en gee ander mense 'n blik op jou lewe wat jou op geen manier goed kan laat voel nie.

Maar, besef ek, daar is meer op die spel. Ek dink na oor alles wat ek altyd so vanselfsprekend aanvaar: die bedagsaamheid van iemand wat vir my voorrang gee by ‘n stopstraat. Wat kom vra of ek ‘n koppie tee wil hê. Wat kom handskud en groet. Eintlik, besef ek, is daardie uiterlike dinge ‘n teken van hulle bedagsaamheid, hulle omgee, hulle uitreik na ander.

Ons aanvaar dinge te vanselfsprekend. Daar is ‘n verborgenheid in meditasie: om te dink oor alle dinge wat vir ons iewers wys na die dieper Omgee. Hoe nodig is dit dat ‘n mens deur die praktyk van omgee, telkens weer mense, veral hulle wat aan jou sorg toevertrou is, die kinders, aanspoor om na te dink oor hoe ‘n mens die lewe ryk maak – vir ander. Want daarin vind ‘n mens rykdom vir en in jouself.

Bedagsaamheid is nie ‘n sware plig nie Dit is eintlik presies wat die woord sê: om op ander bedag te wees, om oplettend te wees. Om te let op ander. Maar, al is dit nie ‘n sware plig nie, is dit iets wat ‘n mens moet aanleer. Want ons harte bly maar eintlik bedag op ons eie dinge.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive