Hoe onderskei ‘n mens tussen depressie en die donker nag van die siel?
Die donker nag van die siel is 'n onderwerp wat 'n mens met skugterheid moet aanpak. Dit kan maklik goedkoop gemaak word of misverstaan word. Maar hier is 'n paar van my eerste gedagtes daaroor, veral in die konteks van depressie:
Depressie kan ‘n mens in ‘n meer algemene sin sien as teneergedruktheid, neerslagtigheid, gevoelens van onbehae en verslaentheid. Maar “depressie” in die tegniese en kliniese sin van die woord verwys na ‘n ernstiger toestand as blote mismoedigheid. In depressie ervaar ‘n mens diepe morbiede, negatiewe gevoelens oor jouself as mens en oor die sinvolheid van die lewe. Iemand wat aan depressie ly het dikwels ‘n gevoel dat hul lewens min werd is, dat hulle nie werklik ‘n verskil maak nie. Hulle voel dan nie meer lus om te lewe nie en sien net die totale slegte kant van hul bestaan raak. Soms ervaar hulle intense skuldgevoelens en identiteitsprobleme. Soms is dit so erg dat hulle hulself wil vernietig en alles tot ‘n einde wil bring. Dan wil die depressiewe mens ten alle koste ontsnap aan die hopeloosheid wat hy of sy ervaar. So iemand kan hom- of haarself nie meer in die oë kyk nie. In die ergste vorme kan ‘n depressiewe mens obsessiewe gedagtes oor die sinloosheid van ‘n mens se bestaan en met die dood ontwikkel. Kliniese depressie wys daarop dat die mens in wanhoop verval het. ‘n Depressiewe mens het vasgedraai geraak in totale negatiwitieit.
Hierdie negatiewe gevoelens het soms slegte liggaamlike gevolge. Iemand wat aan depressie ly, slaap en eet sleg, voel gedurig siek of het aanmekaar pyn, is gedurig moeg en lusteloos. Fisieke spanning is ‘n belangrike teken van depressie.
Daar is geen twyfel oor wat iemand in hierdie ernstige toestand moet doen nie: hy of sy moet so gou as moontlik kliniese hulp van ‘n professionele persoon kry. Daar is effektiewe maniere om depressiewe deur chemiese middele te bekamp.
Of, hulle wat sterker is of by wie depressie nog nie akuut geraak het nie, moet belangrike besluite neem. Dit kan heel konkrete, maar belangrike besluite wees – soos byvoorbeeld om ‘n lang vakansie te neem, vir ‘n tyd lank in ‘n ander plek te gaan bly, sport te beoefen, daarna te soek om die aandag op aangename dinge te fokus (bv. gaan gereeld fliek, iets ongewoonds doen, beoefen ‘n stokperdjie, die roetine breek of afwissel, by ‘n hardloop-groep aansluit, skilder). Maar dit is nie maklik nie, asof ‘n mens maar net so iets besluit en dan is alles oor nie. Dit vra wilskrag – en dit terwyl ‘n belangrike teken van depressie juis is dat mense hulpeloos en besluiteloos voel. Hulle weet nie hoe om uit hulle maalkolk van slegte gevoelens te kom nie. Hulle sleep hulleself voort en het boonop nie eintlik hoop meer oor dat dinge beter kan gaan nie. Maar ook hier moet ‘n mens nie te vinnig praat nie. ‘n Mens kry grade van depressie en tye waarin ‘n mens depressief is. Sommige mense het ‘n enkele ervaring nodig om weer uit ‘n depressiewe fase te kom, ander weer kan nie sonder hulp daaruit kom nie. Daar is ook al hoe meer in ‘n kognitiewe kliniese konteks ‘n oortuiging dat ‘n mens deur insig in jou eie situasie en deur ‘n breeër verstaan van die menslike bestaan ook bemagtig kan word om depressie te oorkom. Te veel word slegte gemoedstoestande as “abnormaal” beskou, terwyl sulke intense gevoelens eintlik deel is van die menslike bestaan. Die lewe is kompleks, met sy goeie en met sy slegte kante. En die slegte kante van die menslike bestaan kan ‘n mens laat groei, of gee vir ‘n mens groter begrip vir ander se lyding of kan selfs vir ‘n mens ‘n groter stuk menslikheid laat ontwikkel.
As ek aan depressie dink, kom daar altyd by my die gedagte op dat een van die belangrikste take is om mooi na jouself te kyk. ‘n Gelowige mens vermy uitbranding, doen verstandig dinge wat tot voordeel van sy of haar liggaam is, kry genoeg slaap en oefening, gee om vir ander omdat daar genesing in só ‘n omgee skuil. En as dinge rof gaan, wanneer ‘n mens soms by die punt kom van wil wegsink in die golwe, moet ‘n mens ook in die geloof en in nabyheid by God, dapper, rustige, onselfsugtie, maar ook besliste besluite te kan neem. Soms begin ‘n mens klein, met ‘n enkele stap, maar steeds weer met ‘n wete dat God ons ook in tye van neerslagtigheid en teneergedruktheid bo alle menslike krag heen vir ‘n mens kan laat groei en sterker laat word. Juis daarom is ‘n volwasse geloof van iemand wat naby aan God leef in ons haastige wêreld ‘n bron van inspirasie.
Hoewel depressie en die donker nag van die siel soms moeilik te onderskei is, is daar tog sekere onderskeidinge tussen die twee. Daar is ook ooreenstemminge: In ‘n mens se geloofslewe kom daar ook die tye dat wilde golwe van twyfel en wanhoop oor ‘n mens spoel. Die grootste geloofshelde van die geskiedenis het soms deur jare van worsteling en geloofstryd gesukkel – soms vir dekades lank.
Tog is die donker nag van die siel ‘n tyd wat ‘n mens nie alleenlik aan wanhoop oorgegee is soos in depressie nie, maar eerder met wanhoop worstel. Dit is ‘n stryd om lewe en dood, waarin ‘n mens oorgegee is aan intense gemengde gevoelens. En tog gaan ‘n mens aan met jou lewe: jy bly in die bediening, doen jou daaglikse werk, beteken iets vir ander mense, funksioneer meestal normaal. En tog loop jy met gevoelens van onbehae aan jouself. ‘n Mens verlang al hoe intenser na meer, na wat groter as jyself is, maar wat nie in jou lewe ‘n werklikheid is of word nie. Dan word jou lewe ‘n pelgrimstog na Iemand by wie jy vrede kan vind. Die siel wil juis wegkom van die self, na Iemand wat die self dra en bemin.
Anders as in die geval van depressie, bring die donker nag van die siel ‘n mens nie tot ‘n punt dat ‘n mens van alles wil wegkom of alles sinloos vind nie. Seker kom ‘n mens op ‘n punt dat jy dinge wat voorheen vir jou so belangrik was, as minder belangrik beskou. Die donker nag van die siel fokus op ‘n mens se eie onvolmaaktheid in die lig van God se oorweldigende goedheid en liefde. ‘n Mens voel jou innerlike behoefte om nader aan God te wees, om dieper in die liefde geanker te word, om ander lief te hê, om hulle by te staan en te laat deel in God se ontferming. Mar jy is gedurig bewus van jou eie ontrouheid, onfeilbaarheid en onvermoë om in die Liefde geanker te bly en te woon.
In die donker nag van die siel, is ‘n mens se pyn verbind met jou soeke na God. ‘n Mens sien die dood nie as ‘n uitweg uit jou eie slegtigheid of waardeloosheid nie. Die dood, begryp iemand wat in die donker nag woon, sal uiteindelik die oorgang bring in die teenwoordigheid van God. Die verlange is nie om alles te vergeet, om uit te kom uit ‘n mens se hopelose bestaan nie. Die mens, tastende in die donker, wil graag uiteindelik in die lig van die goddelike liefde woon. Wat saak maak in die donker nag van die siel is God, die verborge sagtheid van God se liefde, die ontfermende troos wat ‘n mens uiteindelik by God ervaar. Die reisiger soek daarna, mis dit, smag om dit te beleef, maar word dan eerder gekonfronteer met ‘n innerlike dorheid. Die donker nag voorsien ‘n tyd dat ‘n mens uiteindelik in volle vreugde sal woon, volledig deel wees van die grotere, diepere dinge. Dit vra ‘n afsterwe aan selfsug, eie belang en hoë ambisies vir jouself. Dit is, in Paulus se woorde, om te verlang om heen te gaan en by God te wees. Die pyn is werklik, die lyding is intens, die twyfelvrae is diep, die worsteling is oorweldigend. Maar steeds weer is dit ‘n Jabboksworsteling, ‘n verlange na volmaaktheid, na eenwording met alles wat die goeie verteenwoordig, om vry te word van ‘n mens se swakheid om ander teleur te stel, om ander seer te maak, ‘n mens se onvermoë om te vergewe, om ‘n lewe van toewyding te leef, om God se beeld uit te dra, om persoonlikheidsgebreke te oorwin. Hoe meer ‘n mens God leer ken in God se oneindige goedheid en liefde, hoe meer word ‘n mens soms gedompel in diepe gevoelens oor jou eie onwil, eie swakheid en eie onvolmaaktheid. Daar is ‘n intense verlange dat ‘n mens sal word wat God van jou wil hê, dat ‘n mens in die liefde woon, soos wat God die liefde is en in die liefde woon. En kom daar dan tye dat hierdie goddelike liefde nie meer ervaar word nie, oorval die donker nag van die siel ‘n mens. Wie eenmaal die liefde gesmaak het, word intens deur die afwesigheid daarvan getreiter.
‘n Mens moet deur die donker gaan van aan jouself sterwe om in God te kan leef. Dit sluit selfs jou eie vroomheid, jou hoogheiligheid, jou grepe op die waarheid. In die donker nag van die siel word ‘n mens gestroop, so volledig en totaal, dat God volledig in die volle ruimte van jou bestaan kan inwoon. Die donker nag van die siel stroop ‘n mens, soos Paulus, van die trots op jou spreek in tale, jou allemintige kennis, jou groot invloed, jou mooi geskrifte en preke, van jou voorbeeldige lewe en dit bring jou by die enigste wat werklik tel: om in God se liefde te kan woon. Die donker nag van die siel is die stropingsproses sodat ‘n mens volkome vir God beskikbaar kan wees. Dit is die donker oomblikke wanneer ‘n mens saam met Christus gekruisig word, verbrysel word soos Hy verbrysel is. Die stroping impliseer dat ‘n mens in die donker van die dor tye bly wag, biddend, verlangend, sodat God alles kan wegneem wat as skanse tussen die mens en God opgerig is – ook in die vele vorme van vroomheid. Dit beteken ook dat ‘n mens leer wat werklik saak maak: nie eie vroomheid nie, of eie voorbeeldigheid nie. Godsdiens word nie meer ‘n kwessie van presteer nie, van God so netjies dien nie. Die self-gerigte houdings word weggestroop, sodat ‘n mens uiteindelik besef dat ‘n mens bloot uit pure liefde by God leef. Wagtend, wagtend, wagtend – ja wagtend op die vuur – het die ou Halleluja hierdie mistieke passiwiteit uitgedruk.
Die donker nag van die siel eindig nooit in destruktiwiteit en niksheid nie. ‘n Mens kan dit alleen verstaan in die lig van die vereniging met God waarna mens soek en verlang.
Geen mens moet te maklik oor die donker nag van die siel praat nie. Dit is ‘n verskriklike ervaring. Dit is tye dat ‘n mens nie meer kan bid nie – en nog meer – nie eers meer wil bid nie. Dit is die oomblikke in ‘n mens se lewe dat ‘n mens deur God verlate voel, dink dat God nie meer regtig vir jou omgee nie. Dit is wys om skugter daaroor te wees, om eerder te min as te veel daaroor te wil praat. Om gestroop te word, beteken immers dat God aan die werk is. Dit is die brandende bos waarby ‘n mens uitgekom het.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.