Wednesday, January 12, 2011

'n Mens begin nie sommer net bid nie. Oor die instelling van die hart op die Beminde


Die vraag bly nog steeds: waarom sluit ‘n mens jou oë, vou jou hande, buig jou hoof of kniel terwyl jy bid?

Selfs liggaamlik, dus, is ‘n mens by gebed betrokke. Wanneer ‘n mens met God praat, resoneer die liggaam mee.  

Daaroor later meer.

Maar eers: soos ons liggame ingetrek word in ons gebedshandeling, so stel ook die innerlike mens hom- of haarself op God in.

Innerlik – gereed en gerig op God.

Spiritualiteit beklemtoon dat die lees van die bybel bepaal word deur die manier waarop ‘n mens jou instel op die Bybel as God se boek, maar ook deur in stilte te gaan lees waar ‘n mens nie gesteur word nie. Op baie maniere kan ‘n mens jou instel op die lees van die Bybel om die meeste uit die lees daarvan te haal.

Dieselfde geld vir gebed. Skryf iemand iewers: geestelik, in ‘n mens se gedagtewêreld, gaan woon jy in ‘n liefdesruimte – lank voordat ‘n mens dink om na God verlangend uit te roep. ‘n Mens berei jou voor op die ontmoeting met die Beminde. Asof, byvoorbeeld, ‘n mens jouself verloor in die intense taal van Hooglied, stel jy jou hart in op die Liefde. En dan, wanneer jou hart warm gloei in die Liefde, dan, dan kom die gebed, die gesprek, die roep na die Beminde, die verlangende uitreik na die Een van ons hart.

‘n Mens begin nie sommer net bid nie.  Dit sou heiligskennis wees.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive