Onpeilbaar is die vers in Job 15:13, gebid deur iemand wat nie God se dade begryp het nie.
Die ou vertaling lui: “Kyk, al wil God my ombring – ek hoop op God.” (Die nuwe vertaling: “Al sou God my doodmaak, ek kan nie wag nie, ek moet my saak vir God stel”, sê Job nadat hy alles verloor het.)
Deur die eeue het vele, vele mense hierdie gebed bekyk, bedink en soms, dapper, dalk ook gebid.
Die Jode in die Nazi-gaskamers, die verkragte vroue in die Boere-oorlog, die ma’s van sterwende kinders in konsentrasie-kampe, mense met ongeneeslike siektes kom by die punt uit dat hulle besef – God verhoor nie hulle gebede nie.
Dit is dan dat hulle vrees hulle gaan alles verloor terwyl God eenvoudig toekyk.
Job was nie die enigste een nie. Jesaja 45:15 sê dit op ‘n ander manier:
“Waarlik, U is ‘n God wat U verborge hou.”
As God nie ons gebede antwoord nie…. As ons God se weë nie begryp nie… As ons na God verlang en soek om God lief te hê, selfs al sukkel ons om ons liefde vir God nog te verstaan, of selfs te voel.
Dit is nie dat ons verkeerd bid nie. God hoor graag ons gebede.
Dit is ook nie dat ons moet afleer om God te wil manipuleer nie.
Ons moet dieper, dieper insak in die groot Verborgenheid dat ons lewe sy gang gaan, dikwels juis groei, wanneer ons in die diepste duisternis is. Dit het die groot mistici vir ons geleer, is die weg wat iemand moet loop as hy of sy smag om een met God te word. Dit is die weg van stroping.
God stroop ons van alles wat ons nie regtig nodig het nie. Die sintuiglike dinge word van ons weggeneem. Dit word die donker nag van die sintuie.
Maar dit is nog maar die begin. Dan volg die verdere reis – die donker nag van die siel waarin die mens verder gestroop word. En ons het net dit nodig: om volledig, sonder enige pretensies, met niks, by God te wees. Dit is harde jare, woestyntye, waarin geloof worstel, liefde ‘n raaisel is, gebed waardeloos voel. Dit is ‘n pynlike proses van suiwering, om só te leer dat al wat ‘n mens werklik nodig het, God is. Dit is die tyd waarin ‘n mens gestroop word van alle afhanklikheid aan uiterlike dinge en worstelend leer om te waag om jouself volledig te verlaat op die Liefde. Maar dit is ook die tyd van suiwering, reiniging, die tyd dat ‘n mens gesond gemaak word deur pyn heen, om die volledige vreugde te vind van eenheid met God. “Kyk, al wil God my ombring – ek hoop op God.” “Waarlik, U is ‘n God wat U verborge hou.”
Só het die Een aan die kruis, angstig, roepend gebid – en toe gelowige gesterf met die wete, ten spyte van sy angs is alles volbring.
Om alles te verloor, om God te vind.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.