Sunday, April 10, 2011

Die gloed van die goddelike wete.



(Die kunstenaar Wallinger se Ecce Homo. Die beeld wil deur sy kontras met die imposante geboue in die omgewing, lyding en versoening uitbeeld.) 


N.P. van Wyk Louw se gedig, Ecce Homo (“Aanskou die mens”), geskryf in September 1936 en gepubliseer in Die Halwe Kring, is ‘n gedig wat op lyding fokus.

Dit is meditasie materiaal vir die Lydenstyd.

Hier is eers die gedig, en daarna wil ek so bietjie daaroor nadink.
 
Ecce Homo

Omdat Hy my verlaat het,
laat Hy my nooit alleen:
ek hoor ál nagte 'n asem hyg
en iets soos vroue wat sag ween.

Dan staan dit in die skemer daar:
die Bleke aan die hoë kruis,
en vul met die wete van Sy smart
my hele huis.

Ek ken Sy dors, ek ken Sy angs
(God het hom ook van my gewend);
ek kan Sy wonde met name noem,
en elke spyker is bekend:

Die Liefde skeur in elke hand,
en deur Sy voete brand die Hoon:
die Waan van Godheid is gedruk
ook in Sy hoof as doringkroon.

Sy oë staar van die kruis en berg
die heilige, ver-blou aarde deur
totdat die dood hul vul; ek hoor
uiteindelik die voorhang skeur.

Dan in die donker net die gloed
van dowwe woord se helder spot
in enkele letters bo Sy hoof:
Dit is die God en Seun van God.

Die eerste twee reels is boeiend mistiek. Bloot net om die twee reëls te lees, is al vreugde:

Omdat Hy my verlaat het,
laat Hy my nooit alleen.

Die digter buig die verlatenheid om in ‘n paradoks. “Hy het my verlaat” word gekombineer (“omdat” – in die prominente sinsinisiële posisie) met ‘n verdere opmerking: “Hy laat my nooit alleen”: Dit is ‘n perfekte voorbeeld van die mistieke antifrase. In die verlatenheid is Hy aanwesig (let ook op die hoofletter “Hy” en in die res van die gedig).

Die twee strofe’s sinspeel op die oog af op Jesus se gebed aan die kruis: “My God, my God waarom het U my verlaat?” Maar dit kan ook verwys na Christus wat die digter verlaat het (die “my” in die eerste twee reëls is albei klein letters).

Die openingswoorde is dus dubbel mistiek: God het Christus verlaat/ Christus het die digter verlaat. Die godverlatenheid van Christus word die digter se godverlatenheid. Wat Christus ervaar, ervaar die digter.  Die res van die gedig sal dit uitwys. 

En tog, is God/Christus daar. Ook in die gedig. 

Hierdie twee reëls is die inleiding tot die gedig. Dit bepaal dus die toon daarvan. Hulle bepalende rol word stilweg deur die digter uitgewys deur die dubbelpunt aan die einde van die tweede reël (laat Hy my nooit alleen:).  Die gedig staan dus in die teken van die teenwoordigheid van God in die digter se bestaan sonder God.

“God laat my nooit alleen nie”.  Daaroor gaan hierdie gedig.  

In lyding is die goddelike aanwesig. Die hele gedig van ses dele bestaan nou uit ‘n uitleg hiervan. En die gedig is netjies in twee opgebou: Daar is twee dele wat elkeen drie vierdelige strofe’s het. Hulle word mooi uitgewys deur die twee dubbelpunte in die eerste en derde dele (daar is – veelseggend – net twee dubbelpunte in die gedig).

Die eerste drie dele wat na die inleiding volg, is ‘n eenheid: dit gaan daarin om lyding aan die kruis. Eerstens (in die derde en vierde strofe) bly die lydensgebeure om en aan die kruis (asem wat hyg – van Christus, vroue wat ween) die digter by – dit is steeds weer by hom aanwesig. Maar dit is iets wat hy bly beleef: “ál nagte” hoor hy die asem hyg en die vroue ween.

Ook in die tweede reeks van vier strofe’s kom lyding na vore, maar dan spesifiek genoem as die kruis. Die beeld van die kruisiging word eers geteken. “In die skemer” staan die “hoë kruis” en aan die kruis die “Bleke”. Die donker sak toe, daar is nie meer hoop nie. Christus is sterwend, reeds bleek. Die lyding is tot die dood toe. In die volgende twee strofe’s volg weer ‘n toepassing van hierdie lydenstekening. Nie net hy is deur die lyding geraak nie. Die kruis vul die digter en sy “hele huis” met die wete van die Bleke se smart. Die Verlatene laat die digter nooit alleen nie, die “wete” van Sy smart vul sy hele huis. Wat aan die kruis gebeur, betrek die digter intens. Hy in sy hele omgewing is gedurig daarvan bewus.

In die derde reeks van vier strofe’s word die intieme band tussen digter en “Die Bleke” aan die kruis nog verder uitgewerk. Die unieke, baie noue eenheid van die digter met die sterwende Bleke is intens. In steeds meer intensiteit volg nou die detail. Die “wete van Sy smart” word nou: “Ek ken” Sy dors. Met ‘n beklemtoning deur herhaling kom dan: “Ek ken” sy angs. Die angs is die Godverlatenheid. Daarmee word die eerste twee reëls van die gedig (Omdat Hy my verlaat het) verder uitgespel. Maar die intimiteit word nog sterker onderstreep. Nou herhaal die digter die eerste reël van die gedig: hy self ervaar ook Godverlatenheid (“God het hom ook van my gewend”). So intens ervaar hy die afwending van God dat hy sy wonde kan “benoem”, elke spyker is “bekend”. Nooit is hy alleen van Hom en sy smart nie.  Wat Christus voel, voel die digter ook. Dit is asof hy met sy wonde die wonde van Christus kan benoem. Die spykers van Christus is vir hom net so bekend.

Dan volg daar die tweede dubbelpunt in die gedig (en elke spyker is bekend:). Wat hierna kom is dus uitleg van die lyding en die kruis.

Heel prominent volg die interpretasie van die lyding as ‘n teken van goddelike liefde. “Die Liefde skeur in elke hand”. “Deur Sy voete brand die Hoon”. Die liefde en die hoon word met hoofletters geskryf. Maar die taal waarmee hulle beskryf word, is hartverskeurende, brandende taal. Selfs nog meer: Die Bleke dra ‘n doringkroon wat sy vervolgers op sy hoof geplaas het as beskuldiging dat Hy vir Hom die “Waan van Godheid” aanmatig. Liefde word hier geteken as die teenpool van verwerping. Teenoor die minagting van die vervolgers wat die kroon op Christus se hoof “druk” staan die Liefde wat skeur in elke hand.

Die vyfde deel skilder die dood van Christus: sy oë staar “die heilige, ver-blou aarde deur” totdat die dood hul vul. En die voorhang skeur. Merkwaardig is hierdie beeld van die heilige, ver-blou aarde. Die aarde is so ver, want die kruis is so hoog (die hoë kruis) en staan ook nog op die berg.  Maar “heilig”? En “blou”? Dit is die perspektief van Jesus op die wêreld. Terwyl mense Hom hoon en spot, kyk Hy na die aarde as die plek van heiligheid. In die skemer sien hy die blou van die aarde. Die goddelike perspektief is die teenpool van die menslike veragting vir God.

Die laaste deel teken dan die huiweringwekkende ommekeer: Die dood het die oë van Christus gevul. “Dan” is dit donker. Na die dood van Christus, toe dit “donker” is, gebeur iets merkwaardigs. Die digter verwys nou na die opskrif aan die kruis. Hy noem die opskrif die “dowwe woord” en kwalifiseer dit verder as “helder spot.” Die dowwe kontrasteer met die helder. -  saamgebind in ‘n antitetiese parallelisme. Hy neem daarmee ook die vorige opmerking oor doringkroon as die spot met Christus se Waan van Godheid op. Die vervolgers van Jesus verwyt hom deur die doringkroon dat hy onder die Waan is van sy eie Godheid. “Helder” spot hulle hom met die “dowwe woord” wat “in enkel letters” bo sy hoof is.

Die digter keer dit alles nou met een enkele woord om: die dowwe woord word “in die donker” die enigste ding wat ‘n mens raaksien. Daar is in die donker “net die gloed”. In die donker van lyding gloei die dieper wete: Die Bleke, die sterwende een, “is die God en Seun van God.”

Dit is die woord “gloed” in die laaste deel wat so opvallend is. En kyk net waar plaas Van Wyk Louw dit: in die sinfinale posisie in die laaste deel van die gedig.

Die gloed van die goddelike kan nie deur die donker verberg word nie. Selfs in die lyding herken ‘n mens die Liefde. Ten spyte van die hoon en verwerping, is God/ die Seun van God daar. Hy laat die mens nie alleen nie. Dit is nie waan van Hom oor sy Godheid nie. “Dit is die God en Seun van God.” Gloeiende werklikheid.

Omdat Hy my verlaat het,
laat Hy my nooit alleen.

Daar is min gedigte wat so aangrypend en so veelseggend begin – en wat dan op so ‘n sterk religieuse manier die rede vir hierdie teenwoordigheid motiveer.

Daar word soms beweer dat Van Wyk Louw nie regtig veel oor Jesus en veral nie oor sy Godheid geskryf het nie. Hierdie gedig wys die teendeel.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive