Friday, April 08, 2011

Lyding en vreugde. Gedagtes oor die lydenstyd.

Nouwen skryf die volgende stuk in sy Dagboek (4 Januarie) wat hy noem: “Vrugte wat in kwesbaarheid groei.”

Om sukses te behaal is iets heeltemal anders as om vrug te dra.

Sukses word verkry deur krag, deur beheer, en ordentlikheid. 'n Suksesvolle mens het die energie om dinge te skep, om die ontwikkeling daarvan te beheer, en om dit in groot hoeveelhede beskikbaar te stel.  Sukses bring baie belonings en dikwels beroemdheid.

Vrugte, aan die ander kant, groei uit swakheid en verwondbaarheid. En vrugte is uniek.

'n Kind is ’n vrug, wat in weerloosheid en verwondbaarheid verwek is,  gemeenskap is die vrug van ge­deel­de gebrokenheid, en intimiteit is die vrug wat ontkiem wanneer mense mekaar se wonde aanraak.

Laat ons mekaar herinner dat dít wat werklik diep vreugde bring, nie sukses is nie, maar vrugdra.

***

Dit interesseer my dat Nouwen so gou aan die begin van sy Dagboek dit nodig vind om hieroor te skryf. Die onderwerp lê hom dus kennelik na aan die hart.

En die onderwerp gaan vir hom oor dit “wat werklik diep vreugde” bring. Wat maak ‘n mens se lewe vol en ryk? Wat gee jou daardie diepe gevoel van vervulling en vreugde? Dit is ‘n wonderlike aktuele vraag. Almal soek immers geluk. En die meeste dink 'n mens sal dit vind in die groot prys van ons tyd - in sukses.

Of, om ‘n kernwoord in Nouwen se spiritualiteit uit te lig: ‘n Mens se lewe is die moeite werd wanneer ‘n mens intimiteit ervaar. Jy behoort. By iemand. Jy ontvang en ervaar geborgenheid wanneer jy naby aan mense is. Dit is die diepste behoefte van ons innerlike mens.

En in sy antwoord fokus hy op verinnerliking. Wat tel is nie al die uiterlikhede waaraan ons sukses meet nie. Wat tel is wat ‘n mens innerlik beleef.

Die antwoord op die vraag na innerlike vervulling is onverwags, maar werklik passend vir ons lydenstyd. Vreugde is, onderstreep hy, eerstens iets wat nie uiterlik is nie. En, tweedens, vreugde is onlosmaaklik verbind met lyding!

Gedeelde gebrokenheid maak ‘n mens bly. Intimiteit is die vrug wat ontkiem wanneer mense mekaar se wonde aanraak.

Nouwen bring vrug-dra, of die geloofsreis, of die geestelike weg, of spiritualiteit in verband met “kwesbaarheid” met lyding!

Dít bring vreugde: as ons mekaar omhels in tye van lyding.

Dit is waarom Jesus se lyding onpeilbaar wreed was. Hy het niemand gehad om hom te omhels in daardie donker uur nie. Nie eers die Vader se omhelsing nie.

Hoeveel mense sal dit vir jou oor en oor sê: Lyding is iets onuitstaanbaars. Maar goed was dit vir my om in tye van iemand se lyding ten minste by hulle te kon wees. Hulle is nie alleen gelaat nie. Hulle was nie eensaam toe hulle verdrietig was nie. Ek is dankbaar, veral bly omdat ek naby aan hulle was toe hulle op hul eensaamste was.

Lyding is verskriklik. Dit het ek bedink in die blogs van gister en eergister. Niemand kan maklike woorde daaroor praat nie. Juis omdat lyding so vernietigend is, is die helende teenwoordigheid van iemand by ‘n mens in tyd van lyding so spesiaal.

Dit is ‘n ironie dat ons die sukses van die geloof meet aan hoë lidmaatsgetalle, vol kerke, groot begrotings, aktiewe sendingwerk, bekeringsveldtogte en liefdadigheidswerk.

Dit is iets om oor te dink: die Matteaanse kerkbeeld is eerder: mense wat in tronke besoek aflê, wat om hospitaalbeddens sit, wat honger stil, wat troos.  

Dít is die vrug van die Gees.  



No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive