Wednesday, April 27, 2011

Wees maar normaal. Oor roem en eer en gewoon-wees.

Wees normaal, waarsku die Hollanders altyd ("Doe maar gewoon"). Niks aanstellerigheid nie.

Ons ou visplekkie leef in hierdie styl van normaal wees. Niks uitstallerigheid nie. Daar is niks opsienbarends aan ons nie. Geen dramatiese pieke en berge, geen wye, oewerlose Missisipi riviere vol bote nie, niks oorweldigends nie.

Maar ons het 'n beeldskone strand met kwaai branders, unieke fynbos wat geil ons dorpie met 'n kaleidoskoopse kleur omhels. Tou-tou stap ons, pratende, met ons vrinde en ons familie in eindelose rustigheid langs die see, af rivier toe in viering van al die skoonheid wat oor ons harte uitgestort word. 

Ons leef 'n visbestaan: vang vroeg-oggend 'n seekatjie in die poeletjies, en dan ons vis vars, soutvars. En ons eet dit nog dieselfde aand, sommer so onopgesmuk gebraai op die gloeiende kole van ons pitjieshout. 

Ons lê lam en lui in die somermaande op ons wit Blouvlag-strand. Ons kla oor die bloublasies as hulle deur die oostewind strand op gespoel word en roep dankbaar die twee mensereddertjies nader as die kind skreeuend 'n slagoffer van die blou angels word. 

Ons bedui opgewonde van ons stoele op ons stoepe en ons balkonne as ons kyk na die walvisse wat in ons waters baljaar, die dolfyne wat sierlik deur branders klief en die vet seevoëls wat hul boude in die wintertyd warm op die rotse sit. Ons praat oor die jong seuns wat ewe skielik braaf begin het om, van alle plekke, reg voor ons rotse branders te ry, kan jy glo... Ons verjaag vies die orige honde wat ons gillende kiewiete wil vang en ons luister met verwondering na die hoep-hoeps wat wippende op 'n takkie neerplons en koloratuur-note so suiwer uitsing. Ons blou-groen rivier vloei stil-weg, deur ongeskonde omgewing, met water wat ewig in die oseaan uitmond, 'n vriend en 'n metgesel wat ons vertel dat sommige dinge nooit vergaan nie. 

In sy eenvoud, in sy gewoonheid, kom niks hierby nie.

Ons is gelukkig hier, by ons plekkie waarvan niemand mag weet nie. Ons soek nie vreemdelinge hier nie, inkommers en afspringers wat ons plek wil "ontwikkel" en verlewendig met disko's en allerhande satanistiese dinge en goed. Ons is skaamtelose xenofobe. Dit behoort aan ons. 

Verlede Saterdag was dit kerk-basaar. Die plekkie is droog. Dit is een van die kwaaiste droogtes in 'n lang tyd. Ons gras is uitgedor. Die omgewing roep om water. Die boere kry swaar. Dit is 'n paar mense, skaars 'n honderd of so wat bedrywig deur hierdie basaar na die materiele behoeftes van die geestelike lewe omsien. Hulle moet dubbel hard werk om teen die moeilike tye in te kan sorg.

Maar die wil is daar. En die goedgesindheid. Die basaar doen goed.

Net langs die tent van die worsbroodjies staan, sien ek, een van die jonger lidmate die hele oggend geduldig en braai. Die meeste van die tyd vertoef hy maar daar op sy eie. Hy is rustig, ongestoord en gesellig so op sy eentjie. Jy kan sien hy weet, hy is een van ons, hy is 'n visplek-bewoner in goed en bloed. Af en toe 'n paar vriende en familie wat so bietjie by hom inloer. Hy het 'n pet en 'n vet donkerbril op. En hy dra lekker golfskoene. Lyk na kwaliteit. Maar dis die voorskoot wat my oog vang. Jy kan sien, aan daardie voorskoot, hy is plaaskind, en hy weet van werk.

Deur die blou rook van die braaivleis vuur sien 'n mens hom staan, tang in die hand, besig om geduldig, op sy eie, net lekker ontspanne op hierdie heerlike herfs-oggend sy worsies op die vuur te hou en te braai. Daar is nie 'n groot toeloop nie, want dit is mos maar 'n werkerigheid om die tent te voorsien van genoeg wors vir die rolletjies en almal is aan die woel. Kuier-tyd is later. Nou is dit werk want die nag kom nader..... En die mense hou van hul vleis. Hulle wil eet. Hulle wil worsrolletjies koop. Langsaan die worsrolletjie tent is hoeka die vleistent. Die vleistafel, in kraam onder al die vleis, het maklik die langste tou van mense wat hul vrieskaste hier kom aanvul.

Daar staan hy dus langs sy drom-rooster. Hierdie jong outjie met sy groot bril, sy pet en sy lekker golfskoene. Hier is 'n mooi foto. Kyk maar net so deur die rook na hom langs die rooi baadjie.






Doe maar gewoon, vertel die Hollanders altyd. Die boere is ook maar so. Ons hou nie van airs nie, het my familie wat al vir vyf geslagte hier kom uitspan, altyd vertel as hulle so lekker kuier en deur die ritse kennisse met hul stories geryg het. En hierdie outjie vertel van gewoon-wees. Hy doen sy deel, hier, vir die basaar, op die visplekkie, aan die suidpunt van Afrika, ons plek van son en kuier en lewnsvreugde en omgee en jou deeltjie vir die kerk doen.


Ek hou ook daarvan. Veral omdat ek hom herken het. Daarom loop ek naderhand bietjie nader en vra of ek van hom 'n foto kan kry. Hy is vriendelik en pose reg. Hy is gesout vir sulke foto's. Daarom vra hy vir my of ek ook op die foto wil wees, saam met hom. Maar ek stel meer belang in sy gewoon-wees. Dit is tog mos nou 'n ding.

Hy het 'n plasie net langs ons ou visplekkie en is deel van die gemeente. Hier staan hy op 'n Saterdagoggend en braai. Doen sy deel.

Sy handelsmerk-glimlag bevestig al die foto's wat ons graag bekyk het nadat hy die Britse Ope gewen het. Dit is lekker om te sien Louis Oosthuizen se leeu-hart klop goed en gesond. Dit besef ek met bewondering toe ek Sondagoggend hoor hy is vir die Paasdiens ook in die kerk.

Die Hollanders sou hom prys. Ons visplekkie is trots. Dit is ons eerste plaaslike golfkampioen. En hier is die foto waarop hy so reg pose (terwyl die ouens op die agtergrond woel en werskaf).



No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive