Tuesday, April 05, 2011

God en die taal van verkragting. Oor Hosea 2:4-15.

Hosea 2:4-15 vertel die volgende verhaal:

Kla julle moeder aan, kla haar aan! Sy is nie meer my vrou nie, Ek is nie meer haar man nie. Sy moet ophou om ontrou te wees en sy moenie meer owerspel pleeg nie, 2 anders trek Ek haar kaal uit en maak haar so weerloos soos op haar geboortedag. Ek sal haar soos 'n woestyn maak, soos 'n dor land, en sy sal van dors doodgaan. 3 Ek sal My nie oor haar eerste kinders ontferm nie, want hulle is buite-egtelike kinders. 4 Hulle moeder was 'n prostituut, sy het swanger geword omdat sy haar skandelik gedra het. Sy het bly sê: “Ek gaan na my minnaars toe. Dit is húlle wat sorg dat ek brood en water, wol en vlas, olie en drank het.” 5 Daarom gaan Ek haar pad versper met doringtakke en haar afkamp sodat sy nie haar planne kan uitvoer nie, 6 en as sy dan haar minnaars probeer opsoek en hulle nie raakloop nie, hulle soek en nie kry nie, sal sy dalk sê: “Ek sal na my eie man toe teruggaan, want ek was by hom beter versorg as nou.” 7 Sy wou nie erken dat dit Ek is wat vir haar koring en wyn en olie en baie geld gee nie, geld wat sy in elk geval vir Baäl gebruik het. 8 Daarom gaan Ek die koring en wyn wat sy by My kry, terughou in die oestyd. Ek gaan ook die wol en die vlas terugvat wat Ek haar gegee het om haar naaktheid te bedek. 9 Ek gaan haar nou kaal uittrek voor die oë van haar minnaars. Nie een sal haar kan help nie. 10 Ek gaan 'n einde maak aan al haar feesvreugde, haar huttefeeste, haar nuwemaansfeeste en haar sabbatsfeeste, al haar feeste. 11 Ek gaan haar wingerde en haar vyebome verwoes, die dinge waarvan sy sê: “Dit is my beloning wat my minnaars my gee vir my dienste.” Ek gaan dit 'n boskasie maak en die wilde diere sal dit opvreet. 12 Ek gaan haar laat boet vir al die kere dat sy die Baäls gedien het en vir hulle geoffer het, vir al die kere dat sy haar uitgedos het met ringe en versiersels en agter haar minnaars aangeloop het en My vergeet het, sê die Here. 13 Tog sal Ek weer begin om haar die hof te maak. Ek sal haar na die woestyn toe bring en mooi dinge vir haar sê. 14 Wanneer ons daar is, sal Ek weer vir haar wingerde gee, Ek sal die Akorlaagte 'n poort na 'n nuwe toekoms maak. Dan sal sy weer my liefde beantwoord soos toe sy jonk was, soos toe sy uit Egipte getrek het. Dié dag, sê die Here, sal jy vir My sê: “My man,” en My nie meer as 'n Baäl beskou nie.

Dit is ‘n verhaal wat sommige Bybelwetenskaplikes op ‘n “mooi” manier uitlê: Hier word Israel, wat God verloën agter afgodsdiens aan, uitgebeeld as ‘n prostituut wat haar skandelik gedra het. Sy sal gestraf word vir haar ontrouheid. 

Die wetenskaplikes kan selfs praat van kragtige beelde wat die impak van die ontrouheid waarskuwend onderstreep.

Maar kyk bietjie versigtiger na die profeet se woorde waarin hy God aan die woord stel: God sal die vrou kaal uittrek (vers 2). Weer, in vers 9, dreig God die vrou vir die tweede keer met naakte geweld: God gaan haar kaal uittrek “voor die oë van haar minnaars.” God gaan die pad versper met doringtakke sodat sy nie na haar minnaars kan gaan nie.  God gaan haar besittings verwoes. Sy gaan boet vir haar ontrouheid.

Dit is wel, as ‘n mens die hele teks lees, simboliese taal.

Maar kan ‘n mens sulke soort simbole bekostig? Is dit taal wat ‘n mens met God wil verbind? Wil ons oor God praat as Een wat vrouens kaal uittrek en straf? Moet ‘n mens verbondstrou en liefde op só ‘n gewelddadige manier uitbeeld? Is daar nie ander maniere waarop God mense kan waarsku om nie ontrou te wees aan dit wat die sin van die lewe uitmaak nie?  

Die bekende eksegeet Maye Gruber het hierdie gedeelte vir baie jare bestudeer en diep daaroor nagedink. Hy wou veral mooi dinge oor God se verbondstrou en die probleme van ontrouheid uitlig. Hy wou nooit aanvaar dat hierdie gedeelte ‘n bedenklike kant het nie. Daar was te veel “mooi” betekenis daarin.

Toe het hy betrokke geraak in gespreksgroepe waar mense hierdie teks bestudeer het.  Mettertyd het hy in aanraking gekom met vroue wat verkrag of seksueel aangerand is. Hulle verskriklike ervaring het dit vir hulle onmoontlik gemaak om hierdie gedeelte te lees.

Vir hulle was dit ondenkbaar dat hierdie gedeelte in die Bybel kon voorkom. Hulle wou nie God assosieer met dit wat hul lewens verwoes het nie, met gewelddadige mans wat hulle van hulle klere gestroop en verkrag het nie. En die taal wat hierdie Bybelteks gepraat het, het hulle gedurig herinner aan wat hulle verkragters aan hulle gedoen het.

Om te dink, het hulle vir hom gesê, dat God uitgebeeld word in taal wat hulle aan hulle verkragters herinner het! Hier word God voorgestel as iemand wat die weerlose vrou dreig met fisieke geweld. God praat hier soos ‘n tiran wat dreig en moord aanblaas. Só beleef hierdie vroue die taal van hierdie teks.

Dit is ook taal wat niks doen om die gruwel van verkragting te veroordeel of te bestry nie. As God in verkragtingstaal beskryf word en praat, kry verkragting ‘n soort van legitimiteit wat ondenkbaar is – al is dit duidelik nie die bedoeling van die profeet nie. Verkragters wat nie die simboliek van die teks begryp nie, kan deur sulke taal dieper verstrik raak in die manier waarop vroue in ‘n samelewing verontmenslik word deur verkragting en moord. Sekere mans het niks nodig om dieper weg te sak in die moeras van pornografiese verkragting van vroue nie.

Gruber se ontmoetings met hierdie vroue het hom getransformeer in sy uitleg van die gedeelte. Hulle ervaring het hom iets laat raaksien in die teks wat hy self as man nooit opgemerk het nie. Hulle trauma het hom sensitief gemaak vir wat hy as man met sy veilige bestaan nie kon raaksien nie. En mettertyd het hy begin verstaan dat daar in hierdie gedeelte tog ‘n groot probleem verskuil lê.

‘n Mens kan natuurlik hierdie vroue se gevoelens ignoreer en as belaglik afmaak. ‘n Mens kan hulle verwyt dat hulle oorsensitief is of dat hulle dom is omdat hulle nie die simboliek van die teks verstaan nie.

Dit neem nie weg dat daar baie vroue is wat deur hierdie hoofstuk getraumatiseer word. Elke keer as hulle dit lees, neem die taal hulle terug na daardie verskriklike dag toe hulle deur ‘n gewetenlose skurk fisiek oorweldig is en eindeloos, vir altyd gekwets is. Flitse van hulle vernedering, herinering aan hulle lyding, angs oor die geweld, en baie ander gevoelens word deur die Bybelverhaal by hulle wakkergemaak.

Sommige mense sal sê dat ‘n mens baie dapper moet wees om oor hierdie gedeelte ‘n preek te maak. Sommige mense sal byvoeg dat ‘n mens gek moet wees as jy in ons tyd op ‘n Sondagoggend in ‘n familie-diens hierdie gedeelte gaan voorlees en gebruik om uit te preek.

Tog staan die teks in die Bybel. Die Bybel kom tot ons as ‘n verhewe boek wat ‘n mens in die donkerste dele en tye van jou lewe vertroos. Maar die gedeelte bring ons na die ander kant van die Bybyle. Daar is dele van die Bybel wat ‘n mens liewer nie wil lees nie, juis om nie weer teruggegooi te word op die donkerste oomblikke wat ‘n mens in jou lewe beleef het nie.

Die Bybel is ‘n diep menslike boek. Die goddelike oomblikke word soms deur die baie feilbare, eintlik baie aaklige beelde en simbole verduister. Die Bybel praat soms só oor God dat sommige mense daardeur verkrag voel. Dit is nie altyd so maklik om die Bybel te lees nie.

Dit is duidelik: Ons moet die Bybel geestelik lees. En die spirituele boodskap van die Bybel mag nooit ruimte hê vir taal wat mense geweld aandoen nie. Juis vanuit die hoek van spiritualiteit, van die deurleefde ervaring van geloof, sal ‘n mens ook die nie-geestelike kante van die Bybel kan raaksien en uitwys.

Dit is uiteraard een manier om oor die gedeelte te preek: om uit te wys hoe versigtig ‘n mens oor God moet praat. Ons moet só oor God praat dat ons spreke altyd transformatief werk. Ons taal is immers menslik, soms te menslik. En soms praat ons oor God wat nie altyd God se werklike karakter voldoende na vore bring nie.

 ‘n Mens kan ‘n baie netjiese teologiese besinning oor Hosea 2:4-15 hou. Jy kan die mooiste dinge oor verbondstrou en liefde daaruit aanbied. Baie jare lank kan jy jou besig hou met al die dimensies van die verbond en al die belangrike dinge om getrou en gehoorsaam die pad van geloof te loop.

Maar as ‘n mens die Bybel geestelik lees, in die lig van die geloofservaring van gelowige mense, word dit soms minder maklik en minder diep. Spiritualiteit trek die Bybel in die regte lewe in. En die regte lewe kan soms vir ons dinge vertel wat die teologie nie altyd so netjies wil snap nie.

In hierdie opsig is spiritualiteit ‘n saak van lewe en dood. Dit is nie meer net nog ‘n manier van Bybel lees nie. Ons kan nie die Bybel met ‘n netjiese teologie lees en daardeur bo-oor die geloofservaring van mense loop nie. Altyd weer is die groot toets: hoe transformeer die Bybel mense in hul geestelik reis. En die groter toets om steeds te weet watter geestelike momente in die Bybel is die transformerende elemente.

Ons weet dit eintlik te goed. Vir eeue is die vrou haar regmatige plek in die kerk ontsê op grond van die manier waarop sekere mense die Bybel gelees het. Vandag is daardie tye in baie kerke gelukkig verby. Die nie-geestelike lees van die Bybel en nie-geestelike momente in die Bybel het vroue vir eeue verkneg wat die amp in die kerk betref.  Die verandering het nie maklik gekom nie. Dit het lank geduur. Nou, in nuwe tye, kyk ons steeds verder na ander nie-geestelike momente in die Bybel. En ons herken steeds weer meer en meer daardie gewelddadige moment, veral teenoor vroue. Nie net fisiek nie, maar ook in taal. Die troos is: steeds weer is dit daardie goddelike dele in die Bybel wat ons help om hierdie geweld te herken.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive