Markus 14:32-34 beskryf een van die heel bekendste oomblikke uit die lydensverhaal van Jesus:
TOE kom hulle in ’n plek waarvan die naam Getsémané was. En Hy sê vir sy dissipels: Sit hier onderwyl Ek gaan bid. En Hy neem Petrus en Jakobus en Johannes saam met Hom en begin ontsteld en benoud te word. En Hy sê vir hulle: My siel is diep bedroef tot die dood toe; bly hier en waak. En toe Hy ’n bietjie verder gegaan het, val Hy op die grond en bid dat, as dit moontlik was, dié uur by Hom sou verbygaan. En Hy sê: Abba, Vader, alle dinge is vir U moontlik; neem hierdie beker van My weg; nogtans nie wat Ek wil nie, maar wat U wil. En Hy kom en vind hulle aan die slaap en sê vir Petrus: Simon, slaap jy? Was jy nie in staat om een uur te waak nie? Waak en bid, dat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak. Hy gaan toe weer weg en bid dieselfde woorde. En toe Hy terugkom, vind Hy hulle weer aan die slaap, want hulle oë was swaar; en hulle het nie geweet wat om Hom te antwoord nie. En Hy kom vir die derde keer en sê aan hulle: Slaap maar voort en rus. Dit is genoeg; die uur het gekom. Kyk, die Seun van die mens word oorgelewer in die hande van die sondaars.
Net in Lukas se Evangelie (22:44) is daar hierdie een vers wat ‘n heel ander stuk inligting oor die Tuin van Getsemane gee: Nadat Jesus gebid het dat sy Vader se wil geskied, staan daar: “En ‘n engel uit die hemel het aan Hom verskyn en Hom versterk.” Maar selfs na hierdie versterking, in vers 45, word vertel dat Jesus in ‘n sware stryd gekom het, met groter inspanning gebid het en dat sy sweet soos bloeddruppels geword het.
In die kunsgeskiedenis is hierdie toneel dikwels deur bekende kunstenaars uitgebeeld. Elkeen vertel 'n verhaal van sy eie:
Bellini (ongeveer 1460) skilder hier uitbeelding van die worsteling in die tuin. Die dissipels is aan die slaap in die voorgrond. Jesus bid terwyl hy na die horison kyk. Die lig wat deurbreek gee aan die toneel 'n besondere, geestelike, selfs bo-aardse karakter. Hierdie vroeë skildery, tipies Renaissance in karakter, beeld die figuur van Jesus in die verte, eenkant, maar duidelik aan die bid.
Paul Troger (1698-1762) ), skepper van hierdie skildery, was ‘n Oostenrykse kunstenaar wat die 19e eeuse kunswêreld oorheers het. Dit het as opskrif: Die worsteling in die tuin (The agony in the garden).
Iemand wat die skildery bespreek, sien ek, noem dit eerder: Christus word getroos in die Tuin van Getsemane.
'n Mens sien Troger se Rococo-styl duidelik. Die kleure is ligter as in vorige genre's. Jesus se hoof is gebuig, sy oë toe en sy hande gevou in 'n gebedshouding. Die vertroosting van die engel staan sterk op die voorgrond. Jesus se kop rus op die bors van die engel, wat Hom ondersteun. Die stralekrans om die engel se kop vertel iets van die teenwoordigheid van die bonatuurlike in hierdie donker, verlate toneel. Die stralekrans is ook deel van 'n boeiende sirkel wat gevorm word deur die hand van die engel en die hande van Jesus. In hierdie donker nag, is hulle een in troos.
Die ewe bekende Deense kunstenaar, Bloch (1834-1890), skilder hierdie Worsteling in die Tuin. Hier is die lyding prominent. Duidelik, as 'n fokuspunt, is daar die beker wat Jesus moet ledig. Jesus se oë is toe, maar die moegheid kan 'n mens duidelik op sy gesig lees. Sy hande is prominent in 'n gebedshouding vasgevang. Daar is geen rus nie. Jesus se gesig is half in die donker. Hy is in sy eie bestaan en ruimte teruggetrek. Die engel is by hom, die arm raak liggies aan sy skouer, maar die volmaakte eenheid in troos is nie daar nie. Die beker staan daar, reg om geledig te word. Jesus is tot die dood toe moeg en beangsd....
Paul Gauguin, die Franse post-impressionistiese kunstenaar, het hierdie abstrakte skildery van die Worsteling in die Tuin in 1891 gemaak. Hy het daarvan gehou om natuurlike tema's en natuurlike kleure te gebruik.
Daar is geen twyfel nie. Die Jesus-figuur op die voorgrond wat teen 'n groot rots leun, is moeg.
Hierdie skildery is eintlik 'n self-uitbeelding. Gauguin teken homself as Christus - vandaar die orangje-rige hare. Die kleur is ook effektief, want dit kontrasteer sterk met die ander, donker kleure en trek onmiddellik die aandag. Die kunstenaar sorg dat sy kykers die figuur eerste raaksien.
Ewe opvallend is dat Jesus na links leun, net soos die groen bome op die agtergrond. Die dooie boom en die twee figure op die agtergrond staan hierteenoor regop. Dit is donker, dreigende figure - net soos die donker boom direk agter Jesus. Regop staan dit daar, soos die kruis. Die figure en die boom vertel van die las wat Hy dra.Die figure op die agtergrond kan die verraaiers wees - Judas en 'n Romeinse soldaat wat op pad is om Hom te vang.
Hier teken Gauguin Jesus wat, benoud en moeg, besef dat hy die wil van die Vader uitvoer. Niemand is by hom in hierdie donker oomblikke nie. Hy is alleen. Daar is nie 'n engel in sig nie.
Waarom teken Gauguin homself as Christus? Dit was 'n moeilike tyd in sy lewe. Hy het nuwe dinge gewaag en van sy beste vriende, waaronder Van Gogh, het hom in die steek gelaat omdat hulle nie van sy werk gehou het nie. Hy het deur hulle verraai gevoel....
Die skildery laat 'n mens duidelik sien hoe versigtig die kunstenaars die lydensverhaal gelees het. En hoe hulle hul eie lewe deur die bril van Christus se lyding gesien
Ek sit en nadink oor wattter een van die vier vir my die meeste raak.
Uiteindelik lees ek weer die teks. En raak weer geraak deur die skoonheid daarvan. Woorde kan soms doen wat baie skilderye nie kan doen nie.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.