Friday, April 22, 2011

Golgotha, Goeie Vrydag en gebed



Gary Lessord, Christus se gesig. 1979.




Hoe anders, hoe anders is dit dan, hierdie dag van Jou kruis?

Net nog Maandag, toe Jy in die heilige plek ingeloop gekom het, was Jy die Man van Woede. Toe Jy daardie eerste tafel, met al sy smousware opgetel het en omgekeer het, was Jou oë vol vuur. Hoe sterk was Jy, tog, toe jy tafel na tafel omgesmyt het en die smouse uitgedryf het.

Iemand, bedink ek, sou Jou sekerlik nog wou keer. ‘n Dapper een het sekerlik vinnig nadergestaan om Jou aan te vat. Maar toe Jy die tweede tafel met ‘n veegslag omgestoot het, sou selfs die dapperste een ook begin terugstaan het.

Maar dit was met Jou brand-woorde, jou profete-roep wat met een enkele sin die weggesteekte, bedekte donker in hul vroom dade oopgeruk het, dat hulle verskrik, maar vies, die pad gevat het. Toe Jy gepraat het, skreinend, oor die huis van gebed wat ‘n rowerspelonk geword het, het hulle, tóé nog dalk in staat tot skaamte, weggesluip.

Hoe na aan die hart, die sagte hart, is die huis van gebed vir Jou.

*

En nou hang Jy hier. Magteloos, dink hulle nou, tevrede, almal wat so teruggeskrik het van jou Woede.

Hoe anders, hoe anders is dit dan nou?  Die Sterke, die Profeet, is die swakke, die sterwende, die kruiseling.

Waar, bedink ek, toe hulle teruggeslaan het en jou begin vasspyker het, is Jou krag nou?

*

Maar hoe het Jy ook, stilweg, sterk, van hierdie moordenaars-nes op die galge-heuwel ‘n heilige plek gemaak. Toe Jy, helder, sterk, die eerste keer in Jou laaste oomblikke, aan ‘n kruis, gebid het vir húl vergifnis, vir ontferming teenoor hulle wat Jou dit aangedoen het. Hoe ánders, vreemd, selfs heilig is Jou biddende stem van vergifnis en ontferming teenoor hulle wat Jou geweld aandoen.

Ek kan my indink, hoe jou stil gebed vir ‘n oomblik ‘n hand laat huiwer, dit terughou om Jou vas te nael, dit stuit om Jou vir oulaas nog te gesel. Jou woorde wat vir ander smeek, kon vir ‘n oomblik, maar net ‘n oomblik, ook daardie felle kwaad stuit.

Dit was toe Jy, die Man van Gebed, weer, biddende, verlangend uitgeroep het na die Een wat Jou in hierdie eensaamheid toegelaat het, wat Jou in die donker agtergelaat het, dat ek die ánder Vuur uiteindelik in Jou herken het. Die stil vuur van gebed, van die Gees van gebed wat die wil en die krag gee om die goddelike las te dra wat juis daarom so lig is, so lig is.

Selfs die kruis, die plek van geweld, het Jy tot ‘n huis van gebed gemaak.

Want hoe naby is dit, in die donkerste oomblik daardie laaste tyd van vrede, waarna ons hart soveel verlang, waarvoor ons altyd bid. Hoe naby, roep die hart biddend, met waagmoed, is die sagte Stilte, die Tuin-vrede, die Paradys-tyd. Hoe hou ons biddend vas, in tye van pyn en sterwe, aan die Oomblik van aankoms by die Een wat ons hart skoonbrand, ons lewens suiwer, ons deur lyding heen tot volkome vrede bring, ons trane afdroog.  Só naby, dat ‘n mens dit reeds in Jou, in Jou smeek-gebede voel brand, sodat dit die dodelikste las lig maak.

Jou woorde van toevertrou, Jou verlange na die hemel-hande, en, uiteindelik, jou laaste Oorgee al biddende van daardie gebroke yster-gees,van daardie donker, smekende hart aan die Vader, roep vir altyd, deur alle tye, van jou onbreekbare trou aan die Een van jou liefde.

En as Jou oë breek met die oomblik van afskeid, wéét ek, hierdie swakke, hierdie sterwende Bidder, is die Lam, die Kneg van die Here, die Leeu van Juda, die blink Môrester. Hy is, waarlik, die Seun van God. Hy, ons Vriend, Jy, o Vriend, leer ons op die Goeie Dag die verborge krag van gebed.

Dit het Jy dáár bly weet: Reeds in ons gebede is U teenwoordig.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive