Sunday, April 24, 2011

Stil Saterdag en skoon linne

Die dag na Goeie Vrydag, word ook Stil Saterdag genoem. Dit is die laaste dag van die lydenstyd. Op hierdie dag, soos op Goeie Vrydag, lui die kerkklokke nie. Hulle is stil.

Saam met Goeie Vrydag is Stil Saterdag ook twee vasdae. Dit is dus dae van innerlike stil-word, van afsondering.

Stil Saterdag volg nadat Christus se liggaam van die kruis geneem en in die graf neergelê is. Groot kunstenaars het hierdie somber gebeurtenis op doek vasgelê.



 William Blake: die begrafnis van Jesus



Vergelyk hiermee El Greco se weergawe. Mens kan sien Blake was 'n mistikus.

 Markus 15:42-47 vertel van die begrafnis:Josef van Arimatea het by Pilatus die liggaam van Jesus gevra, wat, nadat hy verwonderd laat kontroleer het of Jesus werklik so gou al dood is, die liggaam aan Josef skenk.  Josef, staan daar, so sober en eenvoudig vertel, het linne gekoop. Hy was immers ‘n vermoënde, vername man (vers 43). Hy het Jesus se liggaam van die kruis afgehaal en neergelê in ‘n graf uit rots gekap. Toe het hy ‘n steen teen die opening van die graf gerol. Die vroue, voeg Markus nog by, het gesien waar Jesus neergelê word.  

Ek lees ook Matteus se weergawe. In Matteus 27:59 word vertel dat Josef Jesus se liggaam in "skoon linne" toegedraai het. 

Skoon linne, vir die stil saterdag, nuut gekoop, asof dit al die pyn van die verbryselde liggaam ongedaan wil maak.

‘n Mens kan, in die gees van lectio divina, jou inleef in alles wat in die gemoedere van Josef, Maria Magdalena en Maria, die moeder van Jesus, gebeur het. Dit was vir hulle ‘n tyd van rou, van nog verdere afskeid. Maar 'n mens kan ook gaan nadink oor die skoon linne, die liefde wat agter die waagmoed skuil om Jesus se liggaam te gaan vra en in hierdie sagte kleed toe te draai voordat hy in die stilte van die graf wegge word. Is dit wat in Blake se Jesus-figuur skuil? Met Josef, die ou man, wat sorgsaam, tot in die detail, die laaste toedraai afrond? Hoe droef, maar juis in die droefheid, hoe stil, stil is daardie figure met hul geboë hoofde, versluierde gesigte voor die Verborgenheid van hierdie dag van rus.

Toe is alles verby. Stil Saterdag het aangebreek, die sabbat, met Jesus in die graf. Sy lyding was verby. Dit is die dag dat Jesus se liggaam in die graf gelê het. In die Oosterse  Ortodokse tradisie word die dag ook die Heilige Saterdag genoem. Op die sewende dag, wil hierdie gedagte uitdruk, het God gerus. Die pyn is verby. Dit het stil geraak. Die Seun is in die Hande van die Vader.

Dit is egter nie ‘n tyd om te rou nie. Terugskouend is hierdie dag vir Oosters Ortodokse Christene ‘n dag van afwagting en verwagting, lees ek. In hulle liturgie word in die eerste helfte van die oggend-diens vir hierdie dag Psalm 118 gelees.

Ek gaan terug na die Psalm en dit verwonder my hoe verskillend ek dit ervaar as ek dit in die lig van Stil Saterdag, die dag van instelling, voorbereiding, afwagting en verwagting lees – instelling op wat God gereed is om te doen op Paas-Sondag.

Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie. Israel moet getuig: “Aan sy liefde is daar geen einde nie.” 3 Die huis van Aäron moet getuig: “Aan sy liefde is daar geen einde nie.” 4 Dié wat die Here dien, moet getuig: “Aan sy liefde is daar geen einde nie.” 5 In my nood het ek na die Here geroep, die Here het my gebed verhoor en my bevry. 6 Die Here is by my, ek ken geen vrees nie; wat kan 'n mens aan my doen? 7 Die Here is by my, Hy help my: ek sal neerkyk op dié wat my haat. 8 Om by die Here te skuil, is beter as om op mense te vertrou. 9 Om by die Here te skuil, is beter as om op hoë mense te vertrou. 10 Nasies het van alle kante af op my afgestorm. In die Naam van die Here het ek hulle aanval afgeslaan. 11 Hulle het my omsingel, my van alle kante bestorm. In die Naam van die Here het ek hulle aanval afgeslaan. 12 Hulle het soos bye om my gepak, maar hulle het verdwyn soos doringtakke in 'n vuur. In die Naam van die Here het ek hulle aanval afgeslaan. 13 My vyande wou my platloop en my ondergang bewerk, maar die Here het my gehelp. 14 Die Here is my krag en my beskerming. Dit is Hy wat my gered het! 15 Hoor die gejuig in die laer van die oorwinnaars: “Die Here doen kragtige dade, 16 die Here triomfeer, die Here doen kragtige dade!” 17 Ek sal nie sterwe nie, ek sal lewe en van die dade van die Here getuig. 18 Die Here het my swaar gekasty, maar my nie aan die dood oorgegee nie. 19 Maak die tempelpoort vir my oop: ek wil ingaan en die Here loof. 20 Dit is die poort na die Here toe; regverdiges mag daardeur ingaan. 21 Ek wil U loof omdat U my gebed verhoor en my gered het. 22 Die klip wat deur die bouers afgekeur is, juis hy het die belangrikste klip in die gebou geword. 23 Dit is deur die Here gedoen en is 'n wonder in ons oë! 24 Dit is die dag wat die Here gemaak het; laat ons daaroor juig en bly wees. 25 Red tog, Here, gee tog voorspoed, Here! 26 Prys hom wat in die Naam van die Here kom! Ons seën julle uit die huis van die Here. 27 Die Here is God; Hy skenk ons die lewe. Begin die fees! Wuif met takke! Gaan tot by die horings van die altaar. 28 U is my God, U wil ek loof; my God, u grootheid wil ek besing. Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive