Monday, April 04, 2011

DIe kruisiging deur Joodse oë. Marc Chagall en die kruis van hoop.



Marc Chagall: Die Wit Kruisiging. 
 
In die lydenstyd is dit altyd spesiaal om te kyk hoe beroemde kunstenaars die kruis van Christus uitgebeeld het. 

Ek ontdek, verras, dat Chagall 'n paar skilderye van die kruisiging gemaak het.

Sy Wit Kruisiging is in 1938 geskilder. Die skildery is gemaak met die Tweede Wêreldoorlog net om die draai. Die situasie van die Jode in Europa was egter al klaar besonder sleg en het by die dag agteruit gegaan. In Duitsland het die Nazi’s aan bewind gekom en met die uitwissingsprogram van die Jode begin.

Dit was ‘n baie omstrede skildery, veral in Joodse kringe. Die verontwaardigde vraag was waarom die Joodse Chagall so ‘n spesiale skildery van die kruis as Christelike simbool geteken het in ‘n tyd toe Jode deur Christene op ongekende skaal uitgewis is. Jode kon nie anders as om aan Christene as hul moordenaars te dink nie. In hierdie skildery word die figuur van Jesus deur ‘n joodse skilder totaal getransformeer. Die figuur van Jesus, ‘n simbool van hulle vervolging en uitdelging, word nou die figuur van solidariteit: sy lyding is hulle lyding.

Geen wonder die skildery het soveel opspraak verwek nie.

Die skildery het ‘n ikoonagtige voorkoms. Chagall, wat ortodoks Joods in Rusland grootgeword het, was op ‘n stadium diep beÏnvloed deur ikone met hul Christelike simbole, veral die kruis. Hy vertel dat die simboliese figuur van Christus altyd vir hom besonders was. Met die ikoonagtige voorkoms, kry die skildery ‘n religieuse karakter. Daar is iets mistieks aan die figuur van Christus.

Die skildery beklemtoon dat Jesus belangrik is vir beide die Jode en die Christene. Bo-op Jesus se kop is die INRI-inskripsie. Jesus van Nasareth, Koning van die Jode. Daarmee word Jesus se Joodsheid beklemtoon – die opskrif word byvoorbeeld ook in Aramees vertaal. Jesus het rondom sy kop ‘n stralekrans, wat veral ‘n Christelike simbool is. Christus het nie ‘n doringkroon nie. Hy is ook gekleed in ‘n lendedoek wat soos ‘n tradisionele Joodse gebedskleed lyk. Maar onder Jesus se voete is die menorah, die sewelampige kandelaar, wat die oudste Joodse simbool is.

Die implikasie is duidelik: Jesus, die Jood, is een met mense van alle tye, ook die Jode, in die verwoesting wat deur lyding oor hulle pad kom. Hy ly aan die kruis, soos mense van alle tyd deur lyding verswelg word.

Chagall het in die skildery Jesus se Joodsheid dus op ‘n besondere manier beklemtoon. Hy het in ‘n baie moeilik fase van die geskiedenis toe intense anti-Semitisme die band tussen Christendom en Jodedom wou deursny, juis die band verstewig en uitgelig dat Jesus in die eerste instansie as deel van die Joodse volk gesien moet word. In hierdie opsig was Chagall baie Bybelwetenskaplikes ver vooruit.

Maar Chagall wou veral die betekenis van die kruis vir die moderne tyd uitlig. Daarom is sy figure meestal modern. Rondom die kruis is daar onrus en chaos. Dit is tonele wat vertel van die moord op Jode, maar wat ook wys op die universele haat en lyding in ons wêreld. Daar is ‘n opstandige skare wat huise inval, beroof en afbrand. In ‘n bootjie sit ‘n klomp vlugtelinge wat desperaat om hulp roep. ‘n Man in ‘n Nazi uniform skend ‘n sinagoge in ‘n toneel wat links van Jesus geteken is. “n Joodse figuur, regs voor, ‘n kenmerkende figuur in baie van Chagall se skilderye, loop verby in stilte terwyl hy oor ‘n brandende Wet-rol klim. Die brandende Wet-rol is ‘n aangrypende simbool van hatige heiligskennis. Die wet, die kosbaarste instelling vir ‘n Jood, word tot niet gemaak.

In die donker agtergrond is daar Ou-Testamentiese figure. Daar is die drie aartsvaders wat in Joodse klere aangetrek is (en ook ‘n matriarg). Hulle treur oor Jesus se dood, wat terselfdertyd ook die dood van baie mense insluit. Chagall teken hulle dat hulle uit die donkerte in die lig wat Jesus omstraal, insweef.

Dan is daar die mistieke fokuspunt van die skildery: Uit die hemel skyn ‘n helder lig op die wit, ongeskonde figuur aan die kruis. ‘n Mens sien niks van sy lyding in terme van bloed en wonde nie. Tog herken ‘n mens sy pyn. Maar uiteindelik is Christus ook in sy pyn uitgestrek en uitgelig bo hierdie wêreld van dood en verwoesting.

Die kruis baan ‘n weg deur die skildery. Jesus is die fokus daarvan. Hy word die hoop te midde van alle die wanorde, chaos en moord. Vir Chagall het geloof in Jesus die vermoë gehad om berge van wanhoop te versit.

Dit is die gebedskleed wat as lendedoek dien, wat die aandag van die fokus-figuur trek. Dit is ‘n teken van nederigheid. In sy lyding is Jesus die gebed, die een wat biddend tot God gereed is om te dien.

Maar die skildery het nog baie dieper vrae wakkergeroep. Meer later.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive