Tuesday, April 12, 2011

'n Kampioen in vele opsigte. Wanneer mens omgee....

Dit is darem mooi foto's uit Schwartzel se gholf-loopbaan: 





 
Die berigte oor Charl Schwartzel in die media na sy groot sukses in een van die belangrikste gholftoernooie in die wêreld, die Amerikaanse Meesters-toernooi, is hoogs interessant. As vierjarige het hy al begin om die gholfstokke te swaai. Sy pa het, onselfsugtig, ure en ure se tyd in hom belê ten koste van sy eie belowende gholf-loopbaan. 

Hy vertel hoedat hy gesien het dat iemand soos Ernie Els soms groot toernooie op die nippertjie verloor. Nooit in ‘n miljoen jaar het hy gedink hy gaan so ‘n groot toernooi wen nie. 

Hy is tog ook geïnspireer deur die oorwinning van Louis Oosthuizen wat die Britse ope laas jaar gewen het. Schwartzel vertel hoedat Louis se oorwinning hom laat besef het sulke groot toernooie kan deur hom ook gewen word.

Charl Shwartzel het vir Hendrik Buhrmann as afrigter gehad vir die 2011 Meesters gholf-toernooi wat hy Sondag so indrukwekkkend gewen het.

Volgens Buhrmann was Schwartzel se sukses ‘n gevolg van sy benadering tot die spel. Sy kop is reg. Hy dink goed, vertel Buhrmann. Hy het nooit sy houvas verloor nie – ‘n mens kon hoor hoe kalm hy was selfs nadat hy gewen het. Hy het rustig oor sy oorwinning bly praat. 

Maar, voeg Buhrmann by, hy het ook die bal met pragtige balans en beheer geslaan. “Die pragtige spel het egter meer van binne gekom as wat ‘n mens uit sy pragtige houe af sou lei” (http://uk.eurosport.yahoo.com/11042011/2/golf-mind-says-schwartzel-swing-guru.html).  

Die instelling is goed. Die benadering is reg.

Maar dit is in ‘n onderhoud met sy pa oor die televisie dat een van die mooiste opmerkings gemaak word. Daar is soveel jong Suid-Afrikaners wat nou goed doen in die groot toernooie omdat hulle sterk ondersteun word deur die ouer spelers. 

Die grotes van ‘n ouer generasie, mense soos Gary Player en Ernie Els, gesels met die jong ouens. Hulle gaan sit voor die wedstryd en bespreek die baan van putjie tot putjie met hulle. Of hulle word opgelei in gholfskole soos dié van Ernie Els. Hendrik Buhrmann, self 47 jaar oud en ‘n speler wat al 25 jaar gholf speel, het voor die Meesters-toernooi vir Schwartzel raad gegee oor sy swaai. En dit het uiteindelik baie gehelp, want die laaste tyd het Schwartzel gesukkel met sy swaaihoue.

Vertel sy pa: daar is nie jaloesie tussen die Suid-Afrikaanse spelers nie. Hulle gee om en hulle deel hul ervaring en kennis. 

 Wat my laat besef: die spannende laaste vier putjies, die ineenstorting van die grotes soos Woods en die ander voorlopers, die rustigheid van Schwartzel as wenner, die lofprysinge van sy mede-spelers, die trots van baie mense oor sy prestasie, die pragtige foto's - dit is mooi.

Sport kan mooi wees. As die houding reg is.... 


 

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive