Ons kyk oor die naweek die fliek, The Scarlet and the Black (1983). Dit gaan oor die Duitse besetting van Rome tydens die Tweede Wêreldoorlog.
Die hoofrolle word gespeel deur Gregory Peck as die Ierse priester, Hugh O’Flaherty en Christopher Plummet as die Gestapo offisier, Kolonel Herbert Kappler. En dan is daar nogal ook John Gielgud as Pous Pius 12.
Dus ‘n behoorlike ster-belaaide fliek.
Dus ‘n behoorlike ster-belaaide fliek.
O’Flaherty het, baie dapper, 6 500 mense gered deur hulle oral in woonstelle in Rome en in kerkgeboue weg te steek sodat die Duitsers hulle nie in die hande kan kry nie. Die Duitsers het agtergekom hy is die eintlike sleutel-figuur in die groot onderneming en alles probeer doen om hom uit te skakel.
Ek het ‘n kommentaar iewers gelees waarin die film hoog aangeprys is vir sy spiritualiteit en dit toe vir my op DVD bestel.
Steeds behou ek egter ‘n bietjie argwaan. Gregory Peck as ‘n priester? Hollywood in ‘n klooster? Ek het ook al teleurstellings met flieks gehad wat mense as spiritueel beskou. Sulke flieks word deur entoesiaste aanbeveel en dan is dit ‘n stukkie naïewe ophemeling of ‘n verhaal wat gesentimentaliseer word.
Dit het daarom nou al vir weke op my rak bly lê. Met ‘n rustydjie oor die naweek kon ek nie meer uitstel om daarna te kyk nie.
Dit was ‘n spesiale belewenis. Ek reken die fliek tot die top twintig wat ek ooit gesien het.
Die storie is in ‘n sekere sin tipies van wêreld-oorlog flieks waarin mense wat nie in die Duitse Ryksideaal ingepas het nie, eenvoudig sonder ‘n oogknip afgemaai is en waarin heroïese en onselfsugtige reddingsdade van eenvoudige mense baie moontlike slagoffers betyds red – al is dit lewensgevaarlik vir hulle om dit te doen.
Die storie is wel bekend, maar die aanbieding boeiend, met ‘n sterk spanningslyn. Daar is ‘n paar wonderlike en hoogs aantypende tonele. In een toneel weier die soldate om ‘n priester te fusilleer (wat Kappler toe self doen). Maar seker die hoogtepunt is wanneer die Kolonel aan die einde met die priester ‘n intense dialoog oor vergifnis en ontferming praat as hulle laatnag in ‘n halfdonker Colosseum teenoor mekaar te staan kom. Die Duitse kolonel het sowaar vir die priester laat kom om hom te vra om sy vrou en twee kinders te red – en dit nadat hy die priester enkele dae en ure tevore nog wou laat doodmaak. Die priester weier om hom te help. Hy is selfs woedend dat die kolonel so iets van hom durf vra nadat hy soveel menselewens roekeloos afgemaai het. Hy storm weg van die kolonel terwyl die kolonel agter hom aanskree dat hy, die hoogheilige priester wat Jode gered het, dan maar net soos al die ander mense is, al is hy ‘n priester. Hoe kan hy weier om hom, die kolonel, te help – al is hy sy vyand?
Ek bekyk die toneel, bewus daarvan dat Jesus se kernboodskap juis liefde vir die vyand is. Ek wonder wat die priester gaan doen.
En is bietjie teleurgesteld want die priester lyk asof hy die hoogste toets faal.
En miskien is die fliek juis daarom so treffend. Daar is nie ‘n soetsappige goed-ek-sal-ter-wille-van-Jesus-jou-familie-red maklike oplossing nie. Die priester se woede teenoor die Duitse Gestapo kolonel laat ‘n mens eintlik met dubbele gevoelens. Want ‘n mens voel, skandalig, eintlik ook diep in jou hart: Goed so, jou Duitse vuilgoed. Sien en kom klaar. Dit is nie meer as reg nie. Dra die gevolge van jou dade. En as die priester woedend wegstap en die kolonel hatig agter hom aanskree dat daar geen God is nie, skaam jy jou so bietjie dat jy eintlik niks voel vir die kolonel nie.
Maar dan kom daar ‘n ommekeer: Die fliek het ‘n hoogs aangrypende einde wat ek nie hier wil oorvertel nie. En waarin O’Flaherty se spiritualiteit op ‘n ongekende manier na vore kom. Die einde bevestig waarom hy vroeër soveel gedoen het om duisende mense se lewens te red.
Verras sien ek aan die einde dat die fliek op ‘n ware episode gebaseer is.
Ek gaan lees dadelik ‘n biejie verder. Die regte O’Flaherty was ‘n nederige mens wat nie roem gesoek het nie en wat ‘n wonderlike humorsin gehad het. Hy was inderdaad ‘n gerekende, toegewyde priester, wat ‘n doktorsgraad verwerf het. Maar hy was ook ‘n fanatieke sportman, ‘n kranige golfspeler, en bokser (wat hom in die fliek goed te pas kom). Hy het ook nie net vir sy lidmate en vriende omgegee nie. Toe die Geallieerdes Rome ontset het, was O’Flaherty by om te eis dat die Duitse militêre krygsgevangenes menslik behandel word. En tydens die oorlog was hy deel van die beweging in die Vatikaan wat onder andere gereël het dat Joodse dienste sou kon plaasvind in die Katolieke basilika van Sint Klemens.
O'Flaherty
Maar ek wil eintlik by iets anders uitkom. Aangrypend is die nadraai van hierdie verhaal. Na die oorlog, lees ‘n mens op die doek as die film verby is, is die Duitse kolonel tot lewenslange tronkstraf veroordeel. Terwyl hy in die tronk was het hy elke maand gereeld net een besoeker ontvang. Dit was priester O’Flaherty – sy aartsvyand en die persoon wat hy met soveel passie gehaat het. Gereeld, vir jare, het hulle mekaar in die tronk ontmoet.
Uiteindelik, in 1959, het die kolonel deur gesprekke met O’Flaherty tot bekering gekom.
Hier is 'n foto van Kappler:
‘n Mens kan hierdie kant van die verhaal en die priester se onbegryplike voortgesette betrokkenheid by die kolonel net verstaan as ‘n mens weet wat geloof is. Want Kappler was eintlik ‘n walglike figuur, met permissie gesê. Hy het byvoorbeeld 300 Italianers uit weerwraak vir die dood van 33 Duitse soldate in ‘n bomaanvaal uitgesoek, hulle hande agter hulle rue laat vasbind, na die Ardeatiniese grotte by Domatilla laat neem en hulle in groepe in die grotte ingeneem waar hulle deur masjienvuur afgemaai is. Kappler het ‘n paar uur lank toesig oor die moorde gehou. Uiteindelik het hy bomme by die ingang van die grotte laat gooi. Die dooies en die wat nog gelewe het, is onder tonne rotse begrawe. Oor die episode is ‘n fliek, Massacre in Rome, met Richard Burton, gemaak. Maar nou die punt: O’Flaherty het dikwels in later jare besoekers in Rome ontvang en rondgewys. Maar, vertel sy webwerf, hy het nooit mense na die grotte geneem waar vyf van sy medewerkers ook afgemaai is nie. Op een keer na. In 1947 het hy Veronica Dunne, die Ierse sangeres na die grotte geneem. Sy vertel hoedat sy gesien het hoe trane op sy wange gevloei het terwyl hulle gekniel het en gebid het tot nagedagtenis van die vermoordes. En tog, en tog, besoek hy 10 jaar lank vir Kappler in die tronk – vir die man wat gewetensloos daardie 300 mense op een slag onder eie toesig kon uitmoor, die man wat die hoogste straf gegee is (o.a. vier jaar lank eensame opsluiting) wat ‘n Italiaanse hof kon gee.
Hoe kan dit tog?
Terwyl ek die fliek sit en kyk, teen die einde, met sy intense oomblikke en terwyl die diepe menslikheid en die nugter geloofservaring van die priester al dieper tot my deurdring, bedink ek die dialoog in die fliek in die Colosseum waarin die kolonel vir die priester sê: Die Duitsers sal terugkom, hulle gaan die duisendjarige ryk oprig. Verontwaardig reageer die priester : Durf jy, hier in die Colosseum wat ‘n lewende getuienis is van die futiliteit van net sulke arrogante aansprake soos joune, jou ryk met die kerk vergelyk? Lank nadat jou ryk in as sal verander, sal mense nog hul geloof beoefen.
Die dialoog herinner my aan die onvervangbare rol van die kerk deur die eeue. O’Flaherty is die beeld van God wat die kerk teen ‘n wêreld van grootheidswaan uitstraal.
Meer nog: O’Flaherty is die versinnebeelding van spiritualiteit. Los maar dan die kerk. Maar in die lewens van sulke mense kan ‘n mens nie anders as om die Beeld van God te sien deur straal nie.
Hier is die lokfilm:
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.