Saturday, April 30, 2011

Die onderskeiding van die geeste en van God se wil (2)





Spiritualiteit gaan oor die geestelike reis wat die mens aflê. God knoop ‘n verhouding met die mens aan wat hom of haar transformeer in ‘n proses wat gedurig aan die gang is.

Maar dit is net die breë trekke van Spiritualiteit. Hierdie geestelike reis kan op baie maniere afgelê word en ken dikwels baie afdraaipaadjies. Dit groot vraag is dus: hoe verloop die reis? Hoe word die mens getransformeer? Wanneer is die geestelike reis na ‘n doodloopstraat op pad? Hoe verloop die verhouding tussen God en mens?

Wanneer ‘n mens hierdie vrae vra, is jy besig met “onderskeiding” (discernment). Cassianus se beeld van die goue muntstuk verduidelik dit: die mens moet steeds weer die geestelike reis weeg, net soos ‘n goudhandelaar ‘n goue muntstuk deeglik bekyk voordat hy of sy dit aankoop.

Die eerste ding wat ‘n goudhandelaar doen is om te sorg dat die munt werklik goud is en nie koper nie. Albei munte kan blink en helder skyn, maar net een van die twee is werklik van goud. Net so moet ‘n mens onderskei of die geestelike reis waardevol of nikswerd is. Dit doen ‘n mens deur te onderskei of die geestelike reis nuwe lewe bring of uitloop op ‘n doodloopstraat.

Hier is ‘n verdere beeld ter sprake: in die Bybel word daar dikwels van die twee weë gepraat. ‘n Mens onderskei twee weë soos wat ‘n goudhandelaar sal kyk of ‘n muntstuk goud of koper is.

    1  Waar lees ‘n mens van die twee weë in die Bybel?

Hiervoor is daar baie bewysplekke: Psalm 1:6 praat helder hieroor. “Waarlik, die Here lei die regverdiges op hulle pad, maar die pad van die goddeloses lei tot ondergang.” Nog ‘n voorbeeld, skryf Waaijman, kry ‘n mens in Deurteronomium 11:16-28: “Let op, ek hou julle vandag die seën en die straf voor: die seën sal kom as julle die gebooie van die Here julle God gehoorsaam, wat ek julle vandag gee; die straf sal kom as julle ongehoorsaam is aan die gebooie van die Here julle God wat ek julle vandag aangewys het en die pad verlaat wat ek julle vandag aangewys het en ander gode aanhang waarvan julle nou nog nie eers weet nie."

    2.      Om twee weë te herken en te onderskei volgens die Bybel

Die mens het eersten ‘n vermoë om te onderskei tussen ‘n weg tot die lewe en ‘n weg tot die dood. Die mens het, skryf Waaijman, die taak om goed na te dink (sien Jer.2:10). Die onderskeiding is, tweedens, nie altyd maklik nie. Op die oppervlakte kan dinge dikwels dieselfde lyk. ‘n Mens kan soms ‘n maaltyd eet sonder om te besef dat dit eintlik die nagmaal is – soos Paulus die Korintiërs in 1 Kor. 11:29 vermaan. En hierdie gebrek aan insig het die ernstige gevolg dat ‘n mens ‘n oordeel oor jouself kan bring.

Kyk maar hoe intens praat die skrywer van die Hebreër-brief met mense wat nog die geestelike reis aflê: sommige mense leef van melk, ander mense kan al vaste voedsel eet. Die verskil is dat mense wat van melk leef, “kan nie samapraat or wat reg of verkeerd is nie.” “Vaste kos”, daarenteen, “is vir mense wat oor insig beskik en wat deur ervaring geoefen is om tussen goed en kwaad te onderskei” (Heb.5:11-14). Almal lê die geestelike reis af, maar sommige mense ontwikkel deur ervaring en insig die vermoë om meer volwasse te kan onderskei tussen die goeie en die kwaad.

Maar, derdens, al het die mens die vermoë om te onderskei, is hierdie vermoë intiem gekoppel aan die genade van God. Vir hierdie onderskeiding is ‘n mens van God afhanklik. Dit is ‘n onderskeiding wat ten nouste met kontemplasie gepaard gaan. Daarom is ‘n mens altyd biddend, reflektief, kontemplerend om die wil van God te onderskei. Psalm 119 is deurvleg met gebede tot God om insig in die wil van God: “Gee my insig, dat ek u wet kan gehoorsaam” (vers 34). Of: “gee my insig, dat ek u gebooie kan verstaan” (vers 73). Of: “U verordeninge is altyd regverdig; gee my insig daarin, dat ek kan lewe” (vers 144).

Hierdie Skrifgegewens oor die onderskeiding van die geeste was vir die latere geestelike reisigers van groot belang en hulle het sterk daarop uitgebrei, soos die tradisie dit uitwys. Hieroor later meer.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive