Sunday, May 01, 2011

Wanneer tye begin uitloop, of oor Life’s declivity.

Die herfs is soos om afskeid te neem. Afskeid kan ‘n tyd van sterf wees, van ontkenning en vermyding, van verdrink in seer:

As Summer into Autumn slips
And yet we sooner say
"The Summer" than "the Autumn," lest
We turn the sun away,

And almost count it an Affront
The presence to concede
Of one however lovely, not
The one that we have loved --

So we evade the charge of Years
On one attempting shy
The Circumvention of the Shaft
Of Life's Declivity.
   
        -   Emily Dickinson, As Summer Into Autumn Slips

En tog, dan weer, die ander kant:

Afskeid kan die mooiste van tye wees. Tye wanneer mens groet, wanneer alle seerkry vermy word, wanneer 'n mens soek om teer te wees. Dan reik ‘n mens uit, omhels jy, juis wanneer die pyn dag-vir-dag so naby aan jou is. 

Afskeid is die rug-sterkmaak-tyd teen die wintertyd van nie-meer, wat onverbiddellik aan die kom is. Die boodskapper van die koue tye wanneer ‘n mens van herinneringe alleen sal moet leef.

Daarom nou, in die afskeid, die groet-tyd, in die herfs, is daar die blyheid van groter uitreik – die soek na die soet tye van goed-wees, saam onthou, ont-hou van wat donker is, wat die pyn kan voed. Dit is die tye van versigtiger let op die goeie en mooie. Dit is die herfs van kleure waarin die dood hom tooi.

Soos die tyd uitloop, maak dit ons en maak ons dit vriendeliker, sagter – gekweek deur die wete van die uurglas.

Ons koop die tyd uit, diamant-oomblikke, ‘n goue seisoen. Afskeid, die tyd van pyn, is ook die tyd van volheid. Dit is die tyd om na die mooie te soek, om weldadigheid van binne te gee.  

Hail! Journeyer of the Heavens,
Queen of Brightness, King of Beauty
Gifts of gladness richly bringing,
Autumn sheaves and red leaves' fall,
Generous be the heart within us,
Open be our hands to all,
Justice to be in equal measure,
Harvest thankfulness our call.
          -   Caitlin Matthews, Celtic Devotional  


Só laat die herfs my dink, hier in my skryf-kamer waar ek, elke keer as ek trapaf-loop, vaskyk in ‘n boom in ons inheemse tuin,  die mooiste op ons dorpie. 




Dit is ‘n boom wat ek deur die jaar nooit regtig raaksien nie. Hy staan geduldig, gedwee, die hele somer daar, onopsigtelik, netjies, op sy plek.  Een van die geelgroen bome en struike. En dan, met die draai na die herfs, wil hy in my venster indring en wys hy homself onmiskenbaar, wil hy in my oog inbrand, só asof hy nou al die aandag opeis wat hy deur die jaar moes ontbeer. Want die herfs, met sy doodgaan-tyd, het die boom rooi gekleur, in bloed-rooi 'n nuwe, anderse lewe gegee. 

En, daarby kom die bonus op die herfsdae, wanneer die sagte herfsson in harmonie, in versmelte vorms van rooi en lig en geel, in die ligste van lig saamspeel om die kleur nog helderder te verf. 




Dikwels, eintlik elke keer, as ek trap-af loop vul die oomblik van raaksien my met besef, met bewussyn. Ek onthou dan. En die beeld sak in my om vir die dag by my te bly – in sy rykheid en helderheid. My trap-afstap herinner my aan die goedheid van die skepping, aan die mooie ook in die vaal, koue tye.

Dus neem ek my foto’s. Om vir tye en tye nie te hoef te vergeet nie.

Afskeid van die somer, die sorgvrye dae van lewe, jeug, en aanbreek van die herfs. Maar in die afskeid kan daar ook skoonheid wees.

In die koue herfsdae, hierdie jaar so vroeg en fris aangekom in ons beeldskone dorpie, in die tyd waarin ‘n mens oor die uitloop van die tye, oor verganklikheid, oor die gang van die lewensseisoen nadink, is daar die vol oomblikke, die warm momente. Ook die herfs met die kiem van die dood in hom, kan mooi wees. Die herfs kan, ja, die mooiste van tye wees.




No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive